Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
LIGTE MUSIEK
Eugenie Grobler ná dekade terug op verhoog met puik musiekproduksie
Eugenie Grobler Foto: Verskaf
Dis Tyd

Met Eugenie Grobler. Spelleiding: Margit Meyer-Rödenbeck.

***

Dit is seker maar soos fietsry. As jy kan, dan kan jy.

Eugenie Grobler was tien jaar laas op die verhoog, maar dit lyk asof sy eergister nog vir haar laaste gehoor ’n toegif ­gesing het.

In Dis Tyd vertel sy stories. Sy gooi oop en skram nie van die persoonlike weg nie. Daarom maak sy ál haar musikale reise, en dié waarvan sy net ­vertel, vir die gehoor toeganklik.

Baie kunstenaars verstaan eenvoudig nie die belangrikheid van ’n sinvolle bindingsteks nie.

’n Mens glo haar spelleier (Mar­git Meyer-Rödenbeck) het ’n sterk hand hierin gehad, maar hoe dit ook al sy, hier is balans gevind tussen wat gesê moet word en waar genoeg ­voldoende is.

Lees ook: Eugenie Groble​r sing nuwe musiek in Durbanville

Dit is net Grobler en die ­klavier op die verhoog. ’n Mens hoop sy weerstaan die lus om nog enige instrument by te trek.

Haar begeleiding is eenvoudig maar treffend. Daar is ­telkens ’n klein verrassing wat van ’n lied iets spesiaals maak.

Die bostelegraaf verklap dat Grobler al ’n jaar lank aan die program werk om dit te verfyn.

Dalk moet meer sangers wat iets op die planke bring by haar kers opsteek en leer van geduld en dat werk, werk, werk die ­gewenste eindresultaat lewer.

Die meerderheid van die liedjies op die program is haar eie. Daar is twee verwerkings in Afrikaans – Tom Waits se ­“Time”, wat oorsprong gegee het aan die titel, en Nick Cave se “Ship Song”, wat sy aanbied as “Stuur jou skepe”.

Die verwerking van Koos Kombuis se “Onder in my ­whiskeyglas” sit enige ander vertolking ore aan.

En dan praat sy van Pablo ­Neruda en jy meen hier is ’n vrou wat sy gedigte sal kan vat en hulle laat sing.

Dit was hopelik die eerste van ’n reeks optredes en as daar ’n album kan wees, des te beter.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.