Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kamper by einde van ’n fase
Akteur tree af by UV-drama, maar sit loopbaan op verhoog voort
Gerben Kamper in die Wynand Mouton-teater waar hy menige rolle vertolk het en toneelstukke geregisseer het. Hy tree nou af as dramadosent aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto's: Conrad Bornman
Gerben Kamper (links) en Peter Taljaard in ’n Lewe in die teater.
Gerben Kamper in Straties.
Lulu Botha en Gerben Kamper as Argon in Ipekonders .
Gerben Kamper en Antoinette Kellermann in Samsa-Masjien. Foto: Jaco Marais

’n Doolhof gange in die onderpens van die Wynand Mouton-teater bring jou by Gerben Kamper se kantoor waar hy aan die oppak is. Ná 13 jaar as dramadosent aan die Universiteit van die Vrystaat is dit “die einde van ’n fase”, maar nie die einde van ’n loopbaan nie, al is hy 65.

“Ek is bly ek kon my kennis en ervaring hier terugploeg, maar nou kan ek weer my eie loopaan (as akteur en regisseur) eerste stel.”

Kamper lyk soos Heidi se oupa met sy spierwit baard, maar nee, “dit is vir Samsa-masjien, wat in Januarie in die Baxter-teater opgevoer word”.

Samsa-masjien is maar een van die produksies wat Kamper tot April gaan besig hou. Don Juan onder die Boere, waarvan hy die regisseur is, speel op die Woordfees, Tsjechof se Seemeeu met hom as die vrygesel Jewgeni gaan Woordfees en KKNK toe, en Moeder Moed ook na die KKNK.

Dit is of die moeilikste vir laaste gehou is, want in Samsa-masjien, sê Kamper, het hy die uitdagendste rol nóg vertolk – ’n man wat aan demensie ly en hom verbeel hy is ’n insek. Sy spel was so oorrompelend dat hy met die Kanna vir beste akteur op vanjaar se KKNK bekroon is.

Kamper se kantoormuur vertoon ’n hele versameling pryse wat hy oor die jare ontvang het – pryse as dramastudent aan die Universiteit van Pretoria, verskeie Vita-pryse, Fleur du Caps, Piers Nicholson, Kannas en talle Vryfeespryse.

Oorsprong Die oorsprong van sy talent kom uit Nederland. “Ek is daar gemaak, maar in Suid-Afrika gebore toe my ouers ná die Tweede Wêreldoorlog hierheen geïmmigreer het. Hulle was boere, eers by Hennenman tot my gr. 9-jaar en toe by Lydenburg waar ek gematrikuleer het.

“Ek was ’n vreeslike bang kind, maar op die verhoog was ek altyd gelukkig, en op eisteddfods het ek goed gedoen. Ek is nou nog op my gelukkigste op die verhoog; nou nie heeltemal sonder vrees nie, maar dit is ’n adrenalien-angs.”

Kamper het van jongs af geweet hy wil drama studeer en ná ’n jaar diensplig het hy by Tukkies begin. Tobie Cronjé en Magda Beukes was klasmaats en die teater-ghoeroes Anna Neethling-Pohl en Neels Hansen van sy dosente.

“Hansen was ’n fantastiese dosent. So tussen die lesings deur het hy vir ons etiket geleer waarvan hy meer geweet het as Emsie Schoeman. Dit was nodig, want die meeste van ons was van die platteland en nie so afgerond nie.” Truk-verhoog Van die studenteverhoog is Kamper na die Truk-verhoog waar die Dagboek van Anna Frank ’n produksie is wat hy nooit sal vergeet nie.

“Dit was in die 1970’s en die Nederlanders het toe apartheid gelyk gestel aan Nazisme. Hulle het ons die opvoerregte geweier. My ma het toe persoonlik Nederland toe gegaan waar sy vertel het dat hul gesin ook in die oorlog ’n Jodin skuiling gebied het, net soos die Franks weggesteek is.

“Dit was rede genoeg om die Nederlanders oor te haal. Sy het met  die regte teruggekom en Louis van Niekerk het dit in Afrikaans vertaal.

“Ek het Peter Daans gespeel, die seun van die gesin wat saam met die Franks weggekruip het en op wie Anne verlief geraak het.”

Ná tien jaar by Truk het Kamper ’n ruk as vryskut gewerk voordat hy oorklankingshoof by SAUK-TV geword het.

Hier het hy landwyd naam gemaak as die stem van die hond Brakanjan. Maar belangriker is die kennis wat hy daar oor regie opgedoen het, ’n faset van die teater waarin hy al hoe meer belang gestel het.

Sukovs-jare Laat in die 1980’s het Kamper gevoel Johannesburg se rotresies versmoor sy kreatiwiteit en toe Sukovs hom ’n pos as akteur-regisseur aanbied, het hy en sy vrou, Atie, nie ’n oomblik getwyfel nie.

Die een se dood is die ander se brood, want sedert 1987 het dié talentvolle akteur Vrystaatse toneelgehore groot plesier verskaf, hetsy as regisseur, in klein rolle of groot rolle. Waarop Kamper dadelik sê: “There are no small parts, only small actors.”

Die Koggelaar, Christine van Bartho Smit, Om ’n Jakkalsbessie en ’n hartroerende Boesman en Lena is enkele stukke wat hy uit dié fase opnoem.

In 1997, toe Sukovs se mandaat verander, die toneelgeselskap ontbind word en Kamper noodgedwonge die tuig as artistieke toneeldirekteur moes neerlê, het hy ’n tyd lank die Sterrewagteater aan die gang gehou.

Daarna het die laaste formele fase van sy loopbaan aangebreek, ’n fase waarin hy groot hoogtes bereik het.

Laaste formele fase “Ek is Nico (Luwes, dramahoof aan die UV) baie dankbaar vir die aanmoediging en vryheid wat hy my as dosent gegee het om in produksies elders in die land te speel. Dit het begin by Die Storm (The Tempest van Shakespeare), toe Smelt, Oorsee, Samsa-masjien, Moeder Moed, Die Seemeeu.

“Dit is net hartseer dat nie een van dié stukke in die Vrystaat opgevoer is nie.”

Dit is net hartseer dat nie een van dié stukke in die Vrystaat opgevoer is nie.

Van die plaaslike stukke staan ’n Lewe in die Teater met Peter Taljaard uit, ’n Seder val in Waterkloof, Kanna hy kô Hystoe as regisseur en Maskermaan.

En AmaRequiem waarin hy Salieri vertolk het. “Ek is die enigste Suid-Afrikaanse akteur, dalk in die wêreld, wat Salieri én Mozart gespeel het.”

Hy was Mozart in die toneelstuk Amadeus.

“Maar eintlik is elke nuwe rol ’n hoogtepunt. Ook kindertoneel; ek is mál oor kindertoneel. Kinders is so onbevange . . . daardie gesiggies en vasgenaelde ogies . . . hulle raak so meegevoer. Ek was ook so.

“Mense onderskat kindertoneel, dit is ’n moeilike medium wat groot eerlikheid van ’n akteur verg om die kinders in jou te laat glo. As jy hul aandag kan vasvang, sal jy ook met volwasse gehore slaag.”

Kamera-irritasie Anders as Tobie Cronjé het Kamper nooit in TV- en rolprentwerk beland nie. “Ek was net in een fliek, Elsa se Geheim, maar het niks daarvan gehou nie. Die kameras irriteer my.”

Om dié fobie hok te slaan gaan hy volgende jaar ’n kursus in rolprentwerk doen.

Kamper het homself ook belowe dat hy voortaan meer sal skilder, ’n talent wat al vir hom geld ingebring het, maar wat hy veral terapeuties vind.

Trou-vinjet Vertel Kamper van sy troue is dit soos ’n vinjet.

Ná universiteit het hy vir sy grootouers in Nederland gaan kuier waar hy Atie ontmoet het, sy half-niggie. Twee weke later is hulle verloof, drie maande later getroud en Atie sak en pak in ’n nuwe land.

“Ons het nogal gewonder of die familie-verwantskap ’n uitwerking op ons kinders sal hê, maar dit het nie; ek en Atie is weirder as dié twee.”

Albei hul kinders het egter ook ’n klap van die kunste weg. Marijda het drama aan Kovsies gestudeer en is teaterbestuurder van die Wynand Mouton. Hanco is ’n grafiese kunstenaar in Nederland.

Atie is deel van die Vryfeesspan en organiseerder van die Vryfeesstalletjies.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.