Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kamper ontvang 7de Vryfeesprys in sewe jaar
Die Vryfeeswenners van 2014 is van links Peter Taljaard, Corneille Hutton-Burger van CH2, Vryfeesorganiseerder Adri van Veijeren, Samson Diamond, leier van die Odeion-strykkwartet, Piet Moolman, bestuurder van die Vrystaatse Simfonieorkes, en Gerben

Die akteur en regisseur Gerben Kamper het weer sy gehalte as teaterkunstenaar bevestig toe hy Vrydagaand sy sewende Vryfeesprys in sewe jaar ontvang het. Kamper is met twee pryse vir Don Juan onder die Boere op vanjaar se Vryfees bekroon, vir die beste algehele toneeldebuutproduksie en die beste Vrystaatse debuutopvoering.

Die pryse is Vrydagaand op ’n geselligheid by Oliewenhuis oorhandig.

Kamper se vorige Vryfeespryse was vir Bewys in 2008, Jonas in 2010, Lewe in die Teater, waarvoor hy twee pryse in 2011 ontvang het, en verlede jaar vir Kanna hy kô hystoe. In 2007 is hy as feeskunstenaar aangewys.

Adri van Veijeren, wat ná agt jaar die tuig as Vryfees-organiseerder neerlê, het in haar toespraak gesê die enigste instansie in die land wat kunstenaars op streekvlak vereer, is die Vryfees.

Die wenners van vanjaar se pryse is: 

• Beste Vrystaatse musiekdebuutproduksie: Some enchanted Evening deur die Vrystaatse Simfonieorkes. 

• Beste Vrystaatse musiekdebuutkunstenaar: Odeion-strykkwartet (Samson Diamond, Sharon de Kock, Jeanne-Louise Moolman en Anmari van der Westhuizen). 

• Beste musiekdebuutproduksie: CH2 (kitaarduo met Corneille Hutton-Burger en Leon Gropp). 

• Beste Vrystaatse toneelkunstenaar: Peter Taljaard in Die nag van die hiëna.

• Beste Vrystaatse toneeldebuutopvoering: Don Juan onder die Boere met Kamper as regisseur. 

• Beste toneeldebuutopvoering: Don Juan onder die Boere.

Van Rensburg-patoloë het vier pryse moontlik gemaak, vir die beste Vrystaatse toneeldebuut- en musiekdebuutproduksie en vir die beste Vrystaatse toneelkunstenaar en musiekkunstenaar.

Die Kunstetrust borg die pryse vir die beste musiekdebuutproduksie en die beste toneeldebuutproduksie.

Die beoordelaars vir vanjaar se toneelpryse was Braam Muller, Paul Boekkooi en Karin van den Vyver. Die musiekbeoordelaars was Elretha Britz, Johan Cromhout en Karien Jordaan.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.