Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kramer se ‘Orpheus’ is vermaak met hart
Lynelle Kenned Foto: JESSE ­KRAMER
Orpheus in Africa

Fugard-teater, Kaapstad

*****

David Kramer, grapjas en troebadoer. David Kramer, navorser en argivaris. David Kramer, lewensgids en ­regisseur. David Kramer, ons gewete.

Só ook in Orpheus in ­Africa, sy skitterende nuwe musiekblyspel waarin hy weer ’n oënskynlik obskure insident aan die vergetelheid ontruk en daaraan ’n gepaste staanplek in die geskiedenis besorg. Omdat dit die ­Kramer-stempel dra, weet jy die verhaal sal binne die ­realistiese raamwerk ook propvol humor en mens­likheid wees. Orpheus in Africa is vermaak met ’n hart.

’n Bevryde slaaf uit die ­suide van Amerika, Orpheus McAdoo, en sy groep sangers, die Virginia Jubilee Singers, besoek Suid-Afrika in die laat 19de eeu. Sowat twee jaar lank tree hulle baie suksesvol landwyd op met ’n program van gewyde liedere (spirituals) en opera-arias.

In Orpheus in ­Africa maak ons hul reis mee, ’n verwikkelde verhaal van liefde vir musiek en mekaar, die strewe na ’n beter lewe, rassevooroordeel, en dies meer.

Die grootste uitdaging was waarskynlik dat Kramer ’n uiteenlopende groep sanger-akteurs binne ’n ommesientjie moes omtower in ’n koor wat ’n gehoor sou kon oortuig dat hulle goed genoeg was om ’n suksesvolle wêreldtoer te onderneem. Hy slaag uit­nemend hierin met ’n kombinasie van bekende gospel­liedere – knap verwerk deur die musiekregisseur Charl-Johan Lingenfelder en afgerig deur die koorleier Alistair Izobell – en nuutgekomponeerde musiek. Die hart­roerende lied “Going Home to Africa”, die ongewone verwerking van die tradisionele “Swing Low Sweet Chariot”, en vele ander getuig van hul handewerk.

Orpheus in Africa, desnieteenstaande uitstaande individuele bydraes, is by uitstek ’n ensemble-stuk. Die knap span­werk spoel ook oor in die ontwerp, met ’n stel deur Saul Radomsky wat met ­subtiele besonderhede aspekte en nuanse beklemtoon van die eeuwending en die dorpe en vastelande waar die ­verhaal afspeel.

Birrie le Roux se kostuums is eweneens ’n lus vir die oog, veral wat tekstuur en kleur betref.

Aubrey Poo lewer ’n kragtoer as die hoofkarakter. Hy het ’n formidabele verhoogteenwoordigheid, is ’n uitmuntende akteur en beskik oor ’n stem wat pas by sy ­statuur. Sy kragtige weer­gawe van “The Mirror”, ’n roerende lied aan die einde van die eerste bedryf, sal ’n mens nog lank onthou.

Lynelle Kenned blink uit in die rol van Orpheus se ­geliefde, Mattie Allen, en haar soet sopraanstem kom goed tot sy reg in ’n nommer soos “Home Sweet Home”.

Jill Levenberg is Lucy ­Moten, die koorleier. Nie net is sy die spreekwoordelike anker van die Jubilee Singers nie, maar ook van Orpheus in Africa. Haar vertolking en sang is so eg soos die stuk self en sy toon indruk­wekkende gravitas.

’n Mens kan nie nalaat om Dean Balie en Sne Dladla te noem nie. Die gehoor het ­telkens gelê soos hulle lag vir dié twee. Onder al dié ­lawwigheid skuil egter hope talent en musikaliteit. En ’n mens kan dieselfde sê van ­elke speler in die ­en­semble.

“Dit gaan alles net oor strikke en linte,” sê Orpheus in ’n stadium oor die ­vermaaklikheidsbedryf. Met Orpheus in Africa bewys ­Kramer die teendeel.

■ Orpheus in Africa word tot 22 Februarie opgevoer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.