Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
VRYSTAAT KUNSTEFEES
Ligvanger ook storieverteller
Chris van Niekerk betrokke by 4 produksies
Chris van Niekerk (regs) en Pietman Geldenhuys in die produksie Reinier (Grootlieg) de Winnaar.

TV-kykers het hom Dinsdagaand nog in Terug na Egipte gesien en Vrydag was hy in Bloemfontein, slaggereed vir vier aanbiedings op die Vrystaat Kunstefees.

“Ek is fiks en gesond. En nog jonk,” knipoog die akteur Chris van Niekerk skalks terwyl hy 60 gemonteerde foto’s uit sy kar se bagasiebak laai.

Die foto’s is vir sy uitstalling Ligvanger, wat as ’n tweeluik aangebied word. Die tweede deel is ’n aanvullende rolprent wat in die nabygeleë Ofm-Albert Wessels-ouditorium vertoon word. In die fliekdeel van die interessante aanbieding is ook ligfoto’s te sien wat nie uitgestal word nie. Dit geskied teen ’n agtergrond van musiek terwyl Van Niekerk tussendeur verse voorlees wat by die ligtema aansluit.

Die feesaanbiedings waarin Van Niekerk as akteur gesien kan word, is Liewe Heksie: Flower Power waarin hy Karel Kat speel, Reinier (Grootlieg) de Winnaar en Arabiese Nagte saam met die Bloemfontein-kinderkoor. (Lees die berig hiernaas.)

Een kyk na die aluminium-gemonteerde foto’s is genoeg om te besef dat Van Niekerk reg was toe hy gesê het hy het “ ’n oog vir kuns”.

Die fotografie is ’n spel van ligskynsels wat hy verkry deur sy kamera te beweeg – op, af, heen en weer, in die rondte, vinniger, stadiger. Hy “teken” as’t ware met die kamera wat ’n verskeidenheid patrone in silwer en skakerings van koper lewer met hier en daar ’n beduidenis van groen.

Stap jy verby die foto’s neem die patrone verskillende dimensies aan afhangend van hoe natuurlike lig of dié van gloeilampe daarop val.

“Ek neem die foto’s natuurlik net in die nag en al 60 is uit net twee ligbronne geskep, die sonliggies in my tuin in Rosendal en Mosselbaai se kimprofiel,” vertel Van Niekerk terwyl hy die foto’s op esels en teen ’n swart muur opstel.

Hy het sewe jaar gelede met fotografie begin en heelwat geëksperimenteer totdat hy die nagfoto’s geneem het en besef het dit is kuns wat uitgestal kan word. Die groot getal werke wat hy op die US Woordfees verkoop het, was vir hom ’n bevestiging dat kunsliefhebbers saamstem.

Van Niekerk sal by die uitstalling aangetref word wanneer hy nie op die verhoog is in Liewe Heksie, Reinier of Arabiese Nagte nie. ) Die Ligvanger-rolprent word op 16 Julie om 13:30, 17 Julie om 16:30 en 18 Julie om 14:00 in die Ofm-Albert Wessels-ouditorium vertoon. Die uitstalling is in die eksamenlokaal regoor die Albert Wessels se suid-ingang.

Reinier (Grootlieg) de Winnaar

Dié man het met stories ’n hele fantasiewêreld geskep met die doel om mense te vermaak.

“Die meeste van die stories was totaal onwerklik, maar Reinier het dit met soveel oortuiging opgedis dat party mense hom geglo het,” sê Van Niekerk.

Ingrid Howard, die vervaardiger, het probeer om soveel as moontlik stories te kies waarin verwysings na plekke in die Vrystaat gemaak word. Dit bewys die outentiekheid van Reinier as storieverteller.

“Dié stories het Reinier sowat ’n eeu gelede van plaas tot plaas vertel en soos ouer mense van veral die Zastron-omgewing jou sal vertel, het Reinier Grootlieg ’n groot aanhang gehad.”

Saam met Van Niekerk in die produksie is Pietman Geldenhuys wat die duiwel speel wanneer Reinier se stories dit vra. Andersins is hy Vosmerrie, die agterryer wat Reinier blindelings volg net soos Sancho Panza in die verhaal van Don Quijote.

Die produksie word verder verlewendig met liedjies geskryf deur Pietman wat hy met eie kitaarbegeleiding sing.

Van Niekerk sê dit is die eerste keer dat hy ’n storievertelling doen en vind “dié anderste aanslag”, heel prettig. Die pret begin reeds met die openingstoneel wanneer hy en Geldenhuys al dansende, singende en rasende tussen die gehoor deurskuur verhoog toe.

Net soos die Vrystaters sowat ’n eeu gelede Reinier se skreeusnaakse oordrewe stories geniet het, so sal die mense in die gehoor hulle ook pap lag, meen Van Niekerk. ) Reinier (Grootlieg) de Winnaar: 16 Julie om 10:00, 17 Julie om 11:00 in die Kunstetrust-Odeion. R120, 60 minute.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.