Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Smaarties’ nommerpas vir dié gehore
Jannes Erasmus Foto: Verskaf
Smaarties

Alexander Bar, Strandstraat

As die roujong mnr. Lotz (Jannes Erasmus), ’n skiso­freen, kaalbolyf voor jou staan op die klein verhoog, net in sy wit onderbroek, dan voel jy sy versplinterde siel se naaktheid teen jou skuur en asemhaal, die jeugdige weerloosheid, sy ongetemde vrees vir sy eie krank­sin­nigheid teen jou bors slaan en sny.

Hy skree teen die on­gereg­tigheid van die lewe, sy ouers is dood, hy is oor die afgrond gestoot, sy lende ruk as hy blaf, sy hele lyf word soos ’n akrobaat wat in die lug, ver daar bó, in ’n een­same ­wêreld, van tou tot tou swaai.

Ná hul sterwe, is die naamlose mnr. Lotz in ’n inrigting, agter hom ’n opgevoude bed, soos sy lewe, gebuig, dubbelgevou met die pyn van ­verlies.

Die speelruimte is een­voudig, bedlampies is die voetligte, op die een staan “mamma” geskryf.

Dit is asof sy uit die graf ’n lig op hom skyn, by hom kom spook, hom versaak het met net die duisternis agter hom.

Op een stadium gryp en draai hy hierdie lampe ­verwoed, die ligte disko ­besete oor die verhoog.

Daar is ’n doek vol graffiti agter hom.

Op hierdie kleed word ­dansende figuurtjies spook­agtig weerkaats wat ­bolle­makiesie slaan, rondomtalie, hier kiep-kiep, daar kiep-kiep, soos die stemme in sy kop.

Jaco Jansen van Rensburg se videografie is treffend, ­amper melankolies, soos kunswerke in die klein.

Die smaarties van die titel van die toneelstuk is al die pille wat hy moet neem, die ironie is dat hierdie sjoko­ladelensies lekker moet smaak, maar ­hulle walg hom.

Die stuk is tweetalig (meer Afrikaans), en hy verwoord sy skisofrenie en psigose in Engels.

Sy spel slaan hard.

Die ­regie deur Quintin Wils is ferm en knap, en sy ­ge­stroopte ontwerp gepas.

Hierdie eenmanstuk is ­ideaal vir moderne gehore, ’n slimfoon- en internet­gene­rasie met ’n kort aandagspan, wat spring van blad tot blad.

Dit is kort (’n uur, selfs minder) en kragtig. Anders as skisofrenie.

■ Die stuk is tot Saterdag 29 November te sien.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.