Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Stuk sleur mee, walg, onthuts en ontroer
Gerben Kamper en Antoinette Kellermann Foto: JACO MARAIS
​Samsa-masjien

Teks: Willem Anker. Met Gerben Kamper, Antoinette Kellermann, ­Ilana Cilliers en Ludwig Binge. Regie en ontwerp: Jaco Bouwer, Beligting: Wolfie Britz. Musiek: Pierre-Henri Wicomb

*****

“Samsa-masjien het definitief met goggas begin. Dit was eers toe ons begin praat het oor hoe mense swerm en skarrel en ­geraas maak dat Kafka se gogga sy kop uit­gesteek het.”

Aldus die skrywer en dramaturg Willem Anker in ’n onderhoud op LitNet omtrent die kiem vir Samsa-masjien, sy drama wat deur die ­regisseur Jaco Bouwer en sy ­kreatiewe span – met die algehele toewyding van ’n uitsonderlike ­ensemble akteurs – in ’n ontredderende en ontstigtende teater­ervaring omvorm is.

Samsa-masjien is tans die eerste keer in ’n hoofstroom­teater, die Baxter se Flipside, te sien nadat dit vroeër op Afrikaanse kunstefeeste prys op prys ontvang het. Dit is weer pas vir talle Fiësta-pryse ­benoem.

Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se novelle Die Verwandlung (Die Metamorfose) waarin die hoofkarakter, Gregor Samsa, een oggend wakker word en vind hy het in ’n insek verander. Die hoofkarakter in Samsa-masjien is ook Gregor Samsa (Gerben Kamper), ’n oud-skoolhoof en ­biologie-pedagoog. Omdat hy aan gevorderde demensie ly, woon hy en sy lojale vrou, Josephine (Antoinette Kellermann), nou by hul ­dogter, Grete (Ilana Cilliers) en haar man, Tjaart (Ludwig ­Binge) êrens in ’n gegoede woonbuurt.

Net soos sy Kafka-naam­genoot is hy oortuig hy is besig om stelselmatig in ’n insek te verander en toon ooreenstemmende gedrag. Dit veroorsaak dat hy en Josephine hulself ­later al hoe meer in die ­kelder van die huis afsonder waar hy na hartelus kan werk aan die ­geraas-masjien wat hy bou.

Anker se teks wemel van ver­wysings en temas. Hoe ­dieper jy grawe, hoe meer is daar om oor na te dink. Net soos die Kafka-teks, bevat Samsa-masjien ook elemente van vervreemding, ’n verkenning van die dissonansie tussen lyf en rede, die invloed van natuur en kultuur, gebrek aan deernis, en nog vele meer.

Namate die drama vorder, vind jy daar is dinge wat jy weer sal wil hoor en sien. Die ­hoeveelheid ­humor en absurdi­teite is ­verrassend, maar dit is tog die patos wat bly draal.

Danksy Bouwer se regie en innoverende stelontwerp, aangevul deur Wicomb se merkwaardige klankbaan en Britz se atmosferiese beligting, is Samsa-masjien nie net letterkundig voortreflik nie. Dit is in die eerste plek verbysterende ­teater. Jy word om die beurt ­meegesleur, gewalg, onthuts, uitgedaag en uiteindelik ontroer.

’n Mens wil voorspel daar sal ­later na Kamper se verbluffende ­vertolking van Gregor Samsa ­verwys word op dieselfde wyse as wat mense nou nog van ­Cobus ­Rossouw se Hamlet praat. Dit is een vir die boeke.

Kellermann se ­Josephine gryp jou aan die hart. Die diepte en nuanse wat sy na ’n rol bring, kan feitlik niemand haar dit nadoen nie, en ’n mens voel ­altyd ­bevoorreg om spel van só ’n ­kaliber te kon beleef.

Die hoofakteurs word knap ­deur Cilliers en Binge in hul onderskeie rolle ondersteun.

Die klimaks van die drama – die konfrontasie tussen ­kombuis en kelder – is ’n ­absolute triomf, ’n ­kakofonie van klank en lig van apoka­liptiese ­omvang. Die daar­opvolgende stilte is hoe die ­gehoor voel na afloop van dié kragtoer – gelouter en ­gestroop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.