Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Aanlyn dramakompetisie vir leerlinge
Ira BlanckenbergFoto: Adrian de Kock

Suid-Afrika se eerste aanlyn dramakompetisie bied hoop vir jong toneelspelers en dramageesdriftiges wat dalk nou in sak en as sit.

Dit volg nadat baie van die kunswedstryde en eisteddfods vir skole vir die eerste helfte van die jaar weens die Covid-19-pandemie gekanselleer of uitgestel is.

Daar is ook pas bekend gemaak dat die Logan-teaterfees vir skole op Fraserburg afgestel is. Dit word elke jaar teen einde Julie aangebied.

Die aktrise Ira Blackenberg het met die administratiewe hulp van die ATKV DramawebSA, ’n nuwe projek, begin, wat poog om kinders landwyd te betrek.

Soos baie kunstenaars is Ira en haar man, die akteur Waldimar Schultz, al hul werk vir die nabye toekoms kwyt. In die vrye tyd wat die kansellasies meegebring het, het sy begin werk aan die idee van ’n aanlyn kompetisie. “Omdat baie kunstenaars van die hand tot die mond leef, het dit ’n skrikwekkende finansiële implikasie vir ons almal – ons optredes vir die KKNK, die Oppiewater-kunstefees asook alle internasionale televisiewerk is uit- of afgestel.”

Sy het steeds haar dramaskool in Somerset-Wes. “Skielik het ek tyd gehad om na te dink oor wat ek werklik in die toekoms wil doen. So het die idee van ’n aanlyn kompetisie vorm gekry.”

Baie kinders het reeds geoefen en begin voorberei vir die kompetisies en eisteddfods. Die ATKV moes baie van hul projekte laat vaar soos die Redenaars- en Debatskompetisie, die Applous-kompetisie en die Rieldanskompetisie. Die Tjokker- en Tienertoneelkompetisie word wel nog vir later in die jaar beplan.

“Soveel leerlinge is dus teleurgesteld. Baie harde werk is reeds ingesit en ons talentvolle akteurs het nêrens om hul werk ten toon te stel nie. Veral matriekleerlinge gaan dalk misgekyk word omdat hul nêrens kan deelneem en raakgesien word nie.”

Sy hoop die inisiatief moedig leerlinge aan om nie hul drome prys te gee nie “want hier is steeds ’n geleentheid om jou talent te laat geld”.

Enige kind in Suid-Afrika kan deelneem, mits hulle toegang tot ’n selfoon het. “Hulle neem deel deur selfoonvideo’s van hul gedigte of monoloë in te stuur en word in hul ouderdomsgroep teen kinders landwyd beoordeel. Elke deelnemer sal ’n sertifikaat ontvang met hul simbool, sowel as waardevolle kommentaar deur die beoordelaar.” Die topvyf in elke ouderdomsgroep sal aanlyn aan ’n regstreekse finale ronde voor drie beoordelaars deelneem, waarna die wenners aangekondig sal word. Elke kategoriewenner sal ’n kontantprys van R1 000, geborg deur die ATKV, ontvang.

“Die ATKV het ondersteuning aangebied en ons is dankbaar en bevoorreg om saam met hulle hierdie projek te laat groei.”

Daar is ook voorsiening gemaak vir kinders wat nie toegang tot tegnologie het nie. “As iemand vasdraai en sukkel om die selfoonvideo deur DramawebSA te laai, sal ons help om dit op ’n ander manier op die web te kry.”

Ek is so dankbaar vir die vrygewige ondersteuning van almal in die bedryf, sowel onderwysers en kennisse wat saam met ons opgewonde is oor hierdie landwye projek en die deure wat dit vir die Suid-Afrikaanse jeug oopmaak.”

Blanckenberg is diep geraak deur die entoesiasme waarmee die projek ontvang is. “Ek is so dankbaar vir die vrygewige ondersteuning van almal in die bedryf, sowel onderwysers en kennisse wat saam met ons opgewonde is oor hierdie landwye projek en die deure wat dit vir die Suid-Afrikaanse jeug oopmaak.”

Sy glo daar is ná Covid-19 steeds ’n plek vir DramawebSA.

“Nie net is dit die eerste landwye aanlyn dramakompetisie nie, maar die enigste koste verbonde is die inskrywingsgeld. Hierna kan ’n kind in Koekenaap dalk teen iemand in Port Elizabeth deelneem in ’n eindronde, in die gemak van hul eie sitkamer.

Ons wil ook kyk na die moontlikheid om in die toekoms leerlinge te identifiseer wat dalk selfs nie die inskrywingsgeld kan bekostig nie, en hulle dan te borg. So kan ons letterlik elke Suid-Afrikaanse kind bereik en ’n kans gun om waardevolle terugvoering te kry van beoordelaars wat in die bedryf werk.”

Al die inligting, soos die kategorieë waarin kinders kan deelneem, is op die Facebookblad www.facebook.com/DramawebSA. Belangstellendes kan ook ’n e-pos stuur aan dramaweb.sa@gmail.com. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Mei.

*DramawebSA het pas ’n nuwe afdeling bekend gestel vir aspirantdigters van gr. RR tot gr. 12. Die nasionale beoordelaar is Adri Troskie-Vivier en die skrywer Jaco Jacobs sal by haar aansluit om die finaliste van elke kategorie te beoordeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.