Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Aardklop groter, kleiner, beter
Die Hoërskool Durbanville was die wenners van van die ATKV-Tienertoneelkompetisie by Aardklop op Potchefstroom.Foto: Nico Gous

Aardklop het vanjaar uit die dood opgestaan om ons weer hoop te gee. Ons het steeds mense wat kán en wíl.

Dewald van Breda, Japie Gouws, Alexa Strachan en hul span het bewys dat kreatiwiteit en harde werk beter is as sakke vol geld; dat die ou verstokte denke van mense, verblind en verstar deur die skerp ligte van die “harde werklikhede” van geld en politiek, moet plek maak vir iets beters.

Jare gelede het die toekomsghoeroe Clem Sunter geskryf oor die slim jakkals en die blinde krimpvark. Terwyl Jakkals sy draaie hardloop, plannetjies beraam en altyd oorleef, staar Krimpvark hom altoos vas in die obstruksies voor sy neus, party skaars ’n sentimeter hoog.

Geen wonder Krimpvark is of voel bedreig nie.

Terwyl die ou Aardklop nog ’n jakkals was, van die hand na die mond moes leef, moes stoei en worstel vir elke rand, het dit goed gegaan.

Hulle het planne gemaak en ’n goeie kunstefees gebou. Toe kom Clover en stort ’n vet klomp room op die direksie en die stigting se agterente.

Skielik was daar Geld. En toe raak hulle lui, vet en gierig, oorgerus en gemaksugtig. Hulle spandeer geld en heers uit hul ivoortorinkies, skuif die fees na ’n nuwe terrein waar hulle nog meer stalletjies teen nog groter tariewe kan verhuur en nog meer geld kan maak sodat hulle nog vetter kan word.

Vanjaar onttrek die roomproduserende borg en trek die kaartehuis inmekaar.

Die direksie stik in hul dubbelkenne, word rooi in die gesigte, en ná ’n volle uur se beraad, met koek en tee en Blue Label, kondig hulle die afsterwe van Aardklop aan. Krimpvark het hom des moers geloop teen ’n stukkie roomkaas.

Voordat die voorsitter haar eerste wind kon opbreek, het Jakkals bloed geruik. Mense wat lief was vir die kunste het hul nekke en stemme dik gemaak. Die Krimpvarke – lui, dik en dom – wou nog agteruit, toe is Jakkals by hulle verby.

Liefhebbers van Aardklop en veral Potchefstroom het saamgestaan en Krimpvarkies vir ontbyt gehad.

Hulle het begin hardloop en aangehou hardloop totdat die laaste ligte op Aardklop 2016 gedoof is.

Af en toe het ’n versperring opgedoem, maar dan het Jakkals links of regs gewyk of partykeer bo-oor gespring of onderdeur gekruip.

Aanpassings was daar wel. Die groot geld van die ou dae was eenvoudig nie daar nie. Dit was vanjaar nie moontlik om ’n Land van skedels of Die storm aan te bied nie, maar dit was ook nie nodig om ’n massiewe gasvryheidslokaal vir drillende roomvreters aan te bied nie. Die hele dorp het saamgewerk, ja, selfs die ANC-stadsraad, en ’n wonderlike week van kunste aangebied.

Ons kon ons verlustig in Pa, So ry Miss Daisy en Hond en Hond se gedagte. Die voortreflike Blondes het weer die vleuels laat bewe en Die Boulevard-harmoniste het die pensklaviere gekielie en die voete laat jeuk.

Karen Zoid en Elvis Blue het die Sanlam-ouditorium laat dawer. Die nuwe direksie het teruggegaan na hul kliënte, en na die Bult toe.

Toegangsgeld is drasties verlaag en ou strydrosse soos die snoek-en-wyn-tent het herrys ná hul selfopgelegde verbanning na Roots.

Die stalletjiemense het geld gemaak en die feesgangers kon onder die Bult se koeltebome kuier.

Die publiek, Afrikaans en natuurlik ook die kunstenaars was die wenners. ’n Mens kan nie nalaat om te meld hoedat kunstenaars soos die grande dame van die teater, Sandra Prinsloo, ook hul deel gedoen het nie.

Die mooi, slim Sandra was nie net beste aktrise, bekroon vir haar rol in die besonderse produksie So ry Miss Daisy nie, maar haar teenwoordigheid in ’n kameerol in Hond se gedagte het ook statuur en reklame aan die klug verleen. Sandra doen dit ter wille van die kunste en die kunstenaars.

Aardklop 2016 was ’n sukses. Die Jakkalse het hul doel bereik en daar sal ’n Aardklop 2017 wees. Die Krimpvarke is dood. Dankie tog. Ook Suid Afrika, Afrikaans en die kunste sal oorleef. Al wat nodig is, is Jakkalsdenke en Jakkalswerk.

Aardklop is gered deur sweet en dink, nie deur ’n groot borg nie. Natuurlik is ons dankbaar vir Naspers, Media24, die Dagbreek Trust, kykNET en die ander borge, maar die deurslaggewende Jakkalsdraai was Dewald en Alexa en die ander lede van die span se inisiatief en skeppende denke.

Suid Afrika kan wen as almal hul deel doen en vergeet van eiebelang.

  • Koos Marais is ’n tandarts van Pretoria, ambassadeur vir Afrikaans, Aardklop-geesdriftige en skrywer.
Meer oor:  Aardklop  |  Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.