Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
AfriForum-teater open in Pretoria

Die AfriForum-teater het Woensdag “as ’n neutrale platform vir die kunste” in Pretoria geopen.

Dit is op die perseel waar die Brooklyn-teater voorheen was.

Die AfriForum-teater open die naweek in Pretoria vir die publiek. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Dié teater het verlede jaar weens die Covid-19-pandemie gesluit. Die huurkontrak het verstryk en ’n aanlyn platform is begin, waarmee steeds volhard word.

AfriForum het besluit om dié perseel by die Greenlyn Village-sentrum in Menlopark vir die volgende vyf jaar te huur en produksies oor alle genres heen aan te bied.

“Ons doen sake apart van die Brooklyn-teater,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder.

Carien Bloem, bestuurder van die AfriForum-teater.Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons sal natuurlik ook klassieke konserte aanbied, maar ons is oop vir alle genres, en nie net in Afrikaans nie. Ons weet Afrikaanse mense luister en kyk nie net na Afrikaanse kuns nie. Ons wil ’n platform vir die gemeenskap wees. Dit sluit skole in wat revues of redenaarskompetisies hier wil hou.”

Vlak 1 van die staat van inperking het onlangs in werking getree sedert die teater sy eerste produksie beplan het, wat Saterdag aangebied word. 100 mense mag nou ’n vertoning binnenshuis bywoon.

“Ons wil ’n neutrale platform vir die kunste skep. Ons wil enigiets van toneelstukke, musiekblyspele en klassieke-musiekkonserte opvoer. Ons wil nie net ’n sekere soort kuns hier aanbied nie.”

Die teater is onder meer begin om te voorsien in mense se behoefte aan teater – veral te midde van die inperking.

Die portaal in die AfriForum-teater.Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Die gebou dra nou ’n nuwe baadjie. Dit was vir ons belangrik om saam met ons lede so ’n teater te begin. Aanlyn vertonings is eenvoudig nie dieselfde nie.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê in ’n verklaring die teater is die jongste toevoeging tot AfriForum en die Solidariteit Beweging se selfbestuurplan om gemeenskapsinstellings te vestig.

Die teater open Saterdag en Sondag amptelik vir die publiek.

Pieter Smith tree Saterdag hier op met die gewilde produksie Die storie van Afrikaanse musiek. Nagliedjies deur die komponis en pianis Franco Prinsloo is Sondag aan die beurt. Beperkte kaartjies is vir albei konserte beskikbaar en Covid-19-maatreëls word nagekom.

Besoek dappermedia.co.za om te bespreek.

Kaartjies vir Smith se konsert Saterdag om 19:00 kos R150.

Prinsloo se konsert begin Sondag om 12:00 en die kaartjies kos R160.

Kunstenaars soos Mathys Roets en Jannie Moolman tree ook eersdaags hier op.

Die AfriForum-teater in Pretoria. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Belangstellendes en mense wat hier wil optree, kan ook regstreeks by die teater bespreek deur ’n e-pos aan teater@afriforum.co.za te stuur of die teater se webblad by www.afriforumteater.co.za te besoek.

Meer oor:  Kallie Kriel  |  Afriforum-Teater  |  Menlopark  |  Pretoria  |  Kunste  |  Afriforum  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.