Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Akteur Graham Weir sterf skielik
Graham Weir

Die veelbekroonde akteur, sanger, komponis en skrywer Graham Weir is vroeg Dinsdagoggend skielik dood nadat hy vermoedelik ’n beroerte gehad het.

Sy suster, Christine Weir, het die nuus vanmiddag op Facebook bekend gemaak. Dit blyk dat haar broer “vreedsaam” gesterf het nadat hy in die Tygerberg-hospitaal in Bellville opgeneem is. Hy was langer as 40 jaar op die land se verhoë as veelsydige kunstenaar.

Hy was te sien in musiekspele soos Jesus Christ Superstar, Sweeney Todd en Queen at the Opera. Hy het ook sy eie musiekvertonings gelewer soos meer onlangs Songs of Hangings and Redemption.

In 2016 is sy gevierde outobiografiese eenmanstuk Dead Yellow Sands in die Baxter-teater in Rondebosch opgevoer nadat die speelvak daarvan uitverkoop was op die Nasionale Kunstefees in Makhanda. Hy het die Fleur du Cap-prys vir beste solovertoning met sy vertolking van sy eie stories en wedervaringe vir Yellow Sands ontvang. In ’n onderhoud het hy gesê hy hoop die stories wek “deernis” by die gehoor, want dit is “die hoogste vorm van liefde”. Resensente het sy vertolking as ’n “tour de force” en ’n meesterklas in toneelspel beskryf.

Sy solostukke Tales from a Dark Corner asook Letters from Patient Essop is soos Yellow Sands deur Bo Petersen geregisseer.

Op televisie was hy ’n bekende as oom Dirk in die kykNET-reeks Hotel en die Amerikaanse televisiedrama Of Kings and Prophets asook die BBC-reeks Jamillah and Aladdin.

Weir was in die vroeë jare 1990 een van die lede van die gewilde a capella-musiekgroep Not the Midnight Mass wat bestaan het uit Weir en sy suster Christine, Jenny de Lenta, Alan Glass en Graham Clarke. Sy stem was kenmerkend en hy kon rolle vir bas en tenoor sing.

In 2009 het hy ’n Fleur du Cap-prys gekry vir sy vertolking in Not the Midnight Mass toe dit as ’n kabaret-vertoning aangebied is. Hy was ook in rolprente soos Spud en Boesman and Lena te sien.

Fahiem Stellenboom, skakelhoof van die Baxter-teater in Kaapstad, het gesê Weir se dood is ’n groot verlies vir die kunste en het hom beskryf as ’n veelsydige kunstenaar wat op vele terreine uitgeblink het.

Weir het aan die Oos-Rand in Benoni grootgeword en sy ouers het ’n amateur-toneelgroep en ’n koor aan die gang gehou. In sy ouerhuis is daar gereeld sangaande gehou met sy pa voor die klavier. Sy liefde vir musiek en toneelspel het op daardie sangaande ontstaan.

Geen besonderhede oor ’n begrafnis is bekend nie.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.