Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Akteurs skitter in ‘Sound of Music’

Kunstekaap, Kaapstad

Nadine Theron

*****

Op ’n skoolaand het die gange van die Kunstekaap in Kaapstad weergalm met opwindende kinderstemme en waar helder plakkate pryk met die woorde The Sound of Music, was ’n opeenhoping van jong mense wat selfies geneem het.

Al duur die vertoning tot ongeveer 23:00 was die helfte van die stampvol gehoor kinders. Vir die ander helfte van die gehoor – hul ouers en ander middeljariges – was die storielyn en gewilde liedjies sekerlik niks nuuts nie, maar die produksie het oud en jonk ontroer.

Carmen Pretorius in The Sound of Music.

“Dis my gunsteling-, gunsteling-musiekblyspel, ek ken elke woord uit my kop uit,” het ’n vrou in die gehoor Dinsdagaand gesê. Die Joodse vrou het regdeur die vertoning hardop gelag en gehuil. Haar drie kinders het haar vergesel en het vir haar ’n kaartjie gekoop vir Moedersdag.

Haar meelewing met die roerende liefdesverhaal wat net voor die Anschluss op Oostenryk in 1938 afspeel, was tekenend van die res van die gehoor se reaksies.

Dié meelewing is deels danksy die stelontwerp.

Wanneer Carmen Pretorius, as Maria, die bekende note van die titelliedjie oor die gehoor laat opklink van waar sy op ’n groen heuwel sit, verdwyn die verhoog en kan ’n mens die mis oor die Alpe ruik.

Wanneer die Von Trapp-familie optree by die Salzburg-fees aan die einde van die tweede helfte kan ’n mens nie help om senuweeagtig oor jou skouer te loer om te sien of die Nazi-soldate reeds die uitgange versper nie.

Die Suid-Afrikaanse rolverdeling lewer besonderse vertolkings. Die legendariese liedjieskrywer-duo Rodgers & Hammerstein se liedjies bekoor soveel meer wanneer dit in lewende lywe opgevoer word as in die Oscar-bekroonde rolprent met Julie Andrews.

André Schwartz is só oortuigend as die kwaai kaptein Von Trapp dat ’n mens Maria se angs kan aanvoel wanneer sy haar gevoelens vir hom bespreek en self bang is vir sy reaksie. Die oomblik wanneer Von Trapp saam met sy hele gesin “Edelweiss” sing voordat hulle Oostenryk verlaat en sy stem bo die kinders en Maria s’n uittroon, is seker die roerendste in die hele produksie.

’n Heerlike verrassing was die talle humoristiese oomblikke wat veral deur Von Trapp se vriend Max Detweiler geskep is. Dié kleurvolle karakter wat deur Jonathan Taylor gespeel word se kwinkslae het die gehoor by tye laat skaterlag.

Dan is daar ook die huishulp, Frau Schmidt (Rika Sennet), en die interaksies tussen die nonne by die klooster wat ’n mens onkant vang met goeie komiese tydsberekening.

The Sound of Music kan as ’n liefdesverhaal beskryf word, maar dit is meer ’n familiedrama wat fokus op die teer liefde tussen ouers, of ouerfigure, en kinders, as wat dit oor die liefde tussen kaptein Von Trapp en Maria gaan.

Neem jou familie om dit te kyk vir ’n emosionele dog plesierige ervaring wat julle nader aan mekaar sal bring en altyd sal onthou.

Tot 27 Mei. Kaartjies by Computicket.

Meer oor:  The Sound Of Music
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.