Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Akteurs wil gemoedere lig met monoloog-kompetisie

’n Kunswedstryd wat ná die begin van die staat van inperking aanlyn begin is, het die aktrise en regisseur Maryka Roux die idee gegee om ’n aanlyn kompetisie van haar eie op die been te bring.

Maryka Roux Foto: Melissa Meyer Photography

Nadat sy die akteur Luan Jacobs, wat tot onlangs nog in die kykNET-reeks Fynskrif te sien was, van haar plan vertel het, het hy sonder skroom besluit om die projek saam met haar te verwesenlik.

Hul eindproduk, ’n monoloog-kompetisie, daag enigiemand uit om ’n monoloog van een minuut op te neem waarin hulle sê hoe hulle die wêreld sal verander. Almal wat ingeskryf het sal terugvoering van Roux en Jacobs ontvang, voordat ’n wenner aangekondig sal word.

Roux sê die monoloog-kompetisie verskil ietwat van bestaande kunswedstryde omdat dit onder meer op een kunsvorm fokus, ’n meer bekostigbare inskrywingsfooi het, en pryse op die spel is wat “langtermyndrome stut”. Dit dien ook as aansporing in hierdie donker tyd.

“In ’n krisistyd moet ’n mens kreatief wees,” sê sy. “Drome, talente en kreatiwiteit is nie gekanselleer nie, so dit is moontlik om jou passie uit te leef, ander ook aan te moedig om dit uit te leef, hulle en jouself op te bou en ’n bietjie hoop te skep in ’n vreemde seisoen.”

Jacobs sê hy het die geleentheid dadelik aangegryp juis omdat die kompetisie se uitgangspunt is om “good vibes in die wêreld te versprei terwyl ons die kunste ondersteun”.

Luan Jacobs Foto: Tylo Ribeiro

“Daar is hierdie denkwyse dat ’n mens met een kers nog ’n kers kan aansteek – dan is daar meer lig daarbuite,” sê hy.

“Dit is interessant hoe die inperking vuur onder mense gemaak het om kompetisies en soortgelyke projekte aan te pak. Om jouself bloot te stel, is ’n moeilike gedoente, maar kom ons wees in hierdie tyd dapper en deel ons lig met mekaar.”

Roux sê sy moedig enigiemand van enige ouderdom en alle vlakke van ervaring aan om in te skryf.

“Ek glo daar is baie mense wat verskuilde talente het wat veral in hierdie tyd ontdek word. As iemand wat self geleenthede gekry het om my passie uit te leef sonder formele opleiding, wil ek dít ook aan ander bied.”

Sy sê die monoloë moet “kort en kragtig” wees – tussen 30 en 60 sekondes. Deelnemers kan hul eie monoloog skryf of een op die webwerf www.buttonup.co.za aanskaf.

“Die idee is nie om negatief (in die monoloog) te wees nie. Die idee is om hoop, verbeelding en kreatiwiteit te wek,” sê sy.

Die monoloë moet dan op video opgeneem en deur middel van WhatsApp ingedien word. Inskrywings, wat R25 elk kos, moet aan streng vereistes voldoen, wat op die webwerf https://buttonup.co.za/competitions/ gelys word.

Almal wat inskryf sal ’n digitale ButtonUp-sertifikaat ontvang. Die top-drie sal ButtonUp-pryse wen, terwyl die wenner ’n akteurspel-slypskool deur Roux en Jacobs ryker sal wees.

Inskrywings sluit op 30 Augustus.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Covid-19  |  Fynskrif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.