Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Aktrise Hedy Lamarr se bydrae tot draadlose kommunikasie
Heather Massie as Hedy Lamarr in Hedy! The Life & Inventions of Hedy Lamarr. Foto: Al Foote III

Die betreklik onbekende bydrae wat die Amerikaanse aktrise en sekssimbool Hedy Lamarr tot draadlose kommunikasie gelewer het, word verken in die toneelstuk Hedy! The Life & Inventions of Hedy Lamarr wat in Johannesburg op die planke is.

Dit duur tot 24 Augustus in die Theatre on the Square in Sandton.

Die Amerikaanse aktrise Heather Massie speel in dié eenvrouvertoning. Lamarr (1914 – 2000) is op haar dag “die wêreld se mooiste vrou” genoem en was ses keer getroud, maar het in haar leeftyd min erkenning gekry vir haar bydrae tot tegnologiese ontwikkeling.

Lamarr, wat in Wene gebore is, het in die Tweede Wêreldoorlog ’n radiogeleidingstelsel vir Geallieerde torpedo’s help ontwikkel wat veranderende-frekwensie-spektrum-tegnologie gebruik.

“Sy kry gelukkig deesdae al hoe meer erkenning,” sê Massie.

Lamarr was bekend vir rolprente soos die omstrede erotiese drama Ecstacy (1933). Sy is ook oorweeg vir die rol van Ilsa Lund in die rolprent Casablanca, maar Ingrid Bergman het uiteindelik die rol gekry.

Die solostuk is Massie se eerste aflewering in ’n drieluik oor vroue in die geskiedenis.

“Ek voer hierdie stuk die afgelope twee jaar en agt maande op. Ek het begin om astrofisika te studeer en ek het oplaas ’n graad in teaterwese verwerf. Ek hou van stories oor vroue wat onvergeetlike wetenskaplike werk gelewer het.”

Haar volgende stuk handel oor die lewe van Sally Ride, Amerika se eerste vroueruimtevaarder. Sy is nog onseker watter vrou sy in die derde aflewering sal vertolk.

“Ek kry dit nou reg op die verhoog om al die goed te doen wat ek wou doen toe ek agt jaar oud was,” sê Massie.

“Ek wou ’n ruimtevaarder en ’n uitvinder wees en ek wou met diere werk. In die eerste twee solostukke verwesenlik ek dus deur Hedy en Sally twee dele van dié droom. Die derde stuk sal handel oor iemand wat met diere werk.”

In die toneelstuk tree Lamarr met die gehoor in gesprek. Sy kyk terug op haar lewe.

“Sy verduidelik aan die gehoor hoe iemand so onwaarskynlik soos sy so ’n bydrae tot tegnologie kon lewer. Ek het stories van regdeur haar lewe geneem wat ek reken interessant, boeiend en belangrik is.”

Massie vertolk meer as 30 karakters in die stuk, wat akteurs soos Bette Davis en Clark Gable insluit.

“Die stuk ontwikkel voortdurend,” sê Massie.

“Ek wil Hedy as ’n rolmodel vestig en jong vroue aanmoedig. Deur die geskiedenis is daar vroue wat nog nie die erkenning gekry het wat hulle toekom nie. Ek wil vier wat Hedy vermag het.”

* Hedy! The Life & Inventions of Hedy Lamarr se speelvak is tot 24 Augustus. Vertonings is Dinsdae tot Vrydae om 20:15 en Saterdae om 18:00. Kaartjies kos van R110 tot R150. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.