Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Al die seisoene van Marga van Rooy
Marga van Rooy is te sien in die klug Daa' gaat die bruid! Foto: Brendan Croft

Marga van Rooy meen in dié stadium van haar akteursloopbaan kom sy voor ander vereistes te staan. “Jy moet die woorde nog kan onthou, die trappe nog kan klim . . . ” en sy lag.

“Ag, dis gelukkig dat ’n mens in ’n loopbaan is waar jy nie hoef op te hou nie. Jy hoef nie af te tree nie, maar jy moet dit nog kan dóén. Dit is vir my heerlik om saam met die jong mense te werk.”

Sy woon in Johannesburg meestal om werksredes, terwyl al vyf haar kinders “absolute Kapenaars” is.

Sy gesels warm en straal ’n rustigheid uit.

Sy sit beslis nie stil wat haar loopbaan betref nie.

Sy was pas by die Oppiwater-kunstefees waar sy in Lefra Produksies se klug Daa’ gaat die bruid opgetree het. “Ek speel die ouma van die bruid, en die bruid kom nie tot trou nie, nè. Heeltyd gebeur iets wat die bruid vertraag, en dit is die bruid se pa se skuld. Lieb Bester speel die oupa. En dis baie lekker dat Gert van Tonder ook saam met ons speel. Hy is die bruidegom se pa.”

Toe Marga van Rooy haar loopbaan begin het, het sy net geweet dít is vir haar. Foto: Brendan Croft

Van Rooy was verlede jaar ook in ’n klug van Lefra Produksies, My boetie se boetie se boetie se ­baba, te sien waarin sy die maatskaplike werker vertolk het.

Frans Swart, uitvoerende hoof van Lefra Produksies, het haar lank gelede (“man, dit kan 15 jaar wees”) gevra om haar vertoning Worsie se ma in Springs te kom doen. Later het hy haar genader vir Boetie en toe volg Daa’ gaat die bruid!

Swart het haar ook gevra om haar Stories van toe ons jonk was by die Oppiwater-kunstefees op te voer.

Sy doen al sedert 2000 solostukke. “Ek vermeng vertelling met spel. Ek is lief vir die ou Afrikaanse letterkunde wat komies is. Hierdie spesifieke stuk handel so bietjie oor my lewe. Ek vertel ’n bietjie hoe ek van my eie lewenservaring ingewerk het.”

Onder meer die ervaring van haar oudste kind, Henriëtte, wat aan skisofrenie ly.

“Wat mense geïnteresseer het, dink ek, was die boek (In die skadu van skisofrenie) wat ek en my dogter saam geskryf het. Dit bring natuurlik ook ’n bietjie van ’n ernstige kant in die stuk in. Dis eintlik ’n positiewe boek. Daardie ervarings in teenstelling met wat my karakter Ella in ­Vetkoekpaleis sou ervaar het, is baie interessant, al moet ek dit self sê. Kyk, dis nie ’n saak om ligtelik aan te pak nie, maar die tyd was ryp om daaroor te praat.

“Dis nou 30 jaar later. My dogter is op ’n baie goeie plek. Sy het ’n werk. Sy is al 15 jaar gestabiliseer, en het in ’n pragtige mens ontwikkel.”

Met ’n dwarsklap

Marga van Rooy glo sy is baie dank verskuldig aan die reeks Vetkoekpaleis. Foto: Marga van Rooy

Die karakter waarvoor sy sekerlik die bekendste is, is Ella in die Willie Esterhuizen-reeks Vetkoekpaleis. Ella is Worsie se ma wat so dikwels omgekrap en bitter is.

“Ja, hierdie verskriklike hel van ’n geboorte waarvan sy altyd praat. Ek laat die mense lag, want ek het dit nie self so ervaar nie. Ek het vier normale geboortes gehad, al ding was net met die vierde was daar skielik ’n vyfde by . . .” en sy lag. “So, daar wás ’n effense komplikasie.”

Vir Esterhuizen, wat haar seun gespeel het, het sy gedurig geklap, maar in werklikheid kan sy net haar hoed vir hom lig.

“Hy het my vreeslik baie regie gegee oor hoe Ella moes wees. Hy het dit vir al die karakters gedoen. Goed wat ons gevoel het over the top is. Willie het mense gedruk, maar hy het geweet waar die afsnypunt is. En dit is waar die geheim van Vetkoek­paleis lê. ’n Mens is ernstiger as ernstig as jy komies wil wees. Niemand moet probéér snaaks wees nie; dis ’n ander geheim. Jy moet werklik glo in die werklikheid van jou situasie.”

Sy kan net dankie sê vir Esterhuizen wat vir haar hierdie rol gegee het. Sy noem dit haar Dulcie van den Bergh-rol. “Jy weet, antie Stienie van Agter elke man. Ek is baie verskuldig aan Vetkoekpaleis.”

Op haar vraag oor hoekom sy hom moes klap in die storie, het Esterhuizen gesê dit is sodat jonger mense met Worsie kan identifiseer. “En dit het gebeur. Ek het met twee regisseurs gewerk wat seker as kinders of tieners Vetkoekpaleis gesien het. Henk Pretorius (Fanie Fourie’s Lobola) en Etienne Fourie (Die windpomp).”

Die windpomp is nogal die soort werk waarvan sy hou. Tragiese realisme. “Veral Tsjechof en dié soort mense. Komedie kon ek gelukkig ook doen. En ek geniet dit. Ek geniet ’n gehoor en ’n gehoor se reaksie. Ek sien my meer as ’n karakterspeler, ek was nooit die romantiese heldin nie.” Haar karakters is ook dikwels moederlik.

Terugdraai van die uurglas

Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh in Daa’ Gaat die Bruid!

Sy het in 1964 vir Truk begin speel. Sy het ook drama aan Tukkies gestudeer (nadat sy reeds ’n BA en HOD gehad het). Anna Neethling-Pohl en Francois Swart was van haar dosente.

“By Truk het ons ’n wonderlike geselskap gehad, maar ons was nie landwyd bekend nie. Ek het later ma geword en dit vooropgestel, en agter my man aan Kaap toe getrek waar hy ’n dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was. Ek het deeltyds gevryskut. In 1990, toe nog net die tweeling by ons in die huis was, het ek voltyds by Sukovs begin werk. Ons het toe in Bloemfontein gewoon.”

As kind op Burgersdorp het sy tuisonderrig in ’n plaasskool, wat haar ma bedryf het, ontvang. Haar pa, wat aan Kingswood College in Grahamstad skoolgegaan het, het die waarde van Engels op prys gestel en twee au pairs van Engeland laat kom om met hulle Engels te praat.

“Een van daai tannies het vir ons so jonk soos ons was – ek was seker nege of tien – A Midsummer Night’s Dream gelees. ’n Mens weet nie hoe beland jy uiteindelik in ’n loopbaan nie, maar ek het net geweet toe ek dit begin doen het, dit is vir my.”

* Die foto is geneem by die 54 on Bath-hotel in Rosebank.

* Is van 7 tot 19 Junie in die Mardi Gras-teater by Carnival City op die planke. Swart het die oorspronklike There Goes the Bride deur Ray Cooney en John Chapman vertaal. Daa’ gaat die bruid! se rolverdeling bestaan ook uit Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Rossouw, Edrien Erasmus, Van Tonder, Bester en Phillru van Achterbergh. Swart is weer die regisseur. Kaartjies by Computicket kos R160 tot R180.

Meer oor:  Musiek  |  Resensies  |  Teater  |  Toneelspel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.