Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Al die vratte van menswees blootgelê

Sweet Bird of Youth

****

Die woord kragtoer word soms lukraak gebruik. Hierdie keer is daar egter nie ’n ander woord om Fiona Ramsay se vertolking in Sweet Bird of Youth te beskryf nie.

Sy vertolk die rol van prinses Kosmonopolis in dié stuk deur Tennessee Williams, opgevoer deur Abrahamse and Meyer Productions.

Die gebeure speel af op Paassondag en het heel gepas Saterdagaand van Paasnaweek in die Kunstekaap-teater geopen. Dit is op sigself ’n dapper stap om teatergangers uit hul Paasnaweek-rustigheid te lok na ’n drama wat amper drie uur lank is.

Dit open met die prinses (eintlik die afgeleefde aktrise Alexandra Del Lago) wat in ’n hotelkamer saam met ’n losbol en rokjagter Chase Wayne (Marcel Meyer) wakker word. Hy is saam met haar in die hoop dat sy vir hom ’n kontrak kan beding om akteur te word. Vir haar is hy ’n skoothondjie. Sy het geen probleem daarmee om hom te verneder en te misbruik nie, en verwag dat hy elke opdrag en wens van haar sal uitvoer.

Sy beskryf haarself heel tereg as ’n monster. Sy is gelyktydig weerloos en sterk, en in die tyd waarin die stuk afspeel, sou sy as losbandig en sedeloos beskryf kon word.

Marcel Meyer en Fiona Ramsay in Sweet Bird of Youth. Foto: Pat Bromilow Downing

Wanneer sy vir die eerste keer met haar jong mansvriend begin praat, vang sy jou onmiddellik in haar web vas, een so gevaarlik dat jy in angssweet uitslaan.

In teenstelling met haar is Chase – ten spyte van sy ervaring met vroue en sy eie losbandige lewe – amper te onskuldig en naïef om in hierdie situasie te wees.

Hy het eintlik na sy geboortedorp St. Cloud (Mississippi) teruggekeer om Heavenly, sy een groot liefde, terug te wen en hulle dalk saam op ’n pad na roem te plaas. Op haar beurt is Heavenly egter nie meer die onskuldige vrou wat hy jare laas gesien het nie. Haar pa is boonop Boss Finley (Michael Richard) met sy eie wraakplanne wat hy jeens Chase koester.

Die omgewing en die mense is almal gebroke, verbitterd en verwese. Hier is geen hoop nie, geen jeug of vreugde nie.

Ten spyte hiervan is dit ’n drama wat jou aangryp en die teks is een waarin jy eenvoudig kan verdrink. As dit deur meesters soos Richard en Ramsay voorgedra word, kan jy maklik nog ’n uur deursit net om na hulle te luister.

Daar is verskeie aspekte wat pla. Die verhoog is te groot. ’n Benouende, versmorende kleiner ruimte sou baie meer geskik gewees het, veral gesien in die lig dat die spel staties en strak is.

Dan is daar die kwessie van Heavenly (Matthew Baldwin). Hy vertolk nog twee ander rolle, maar as Heavenly slaag hy eenvoudig nie.

Daar is ook Dean Balie, Jeremy Richard en Tristan de Beer wat om die beurt ander rolle vertolk – ook dié van vroue. Balie is ’n bekoorlike Miss Lucy en van die min manlike akteurs wat met finesse in vroueskoene kan klim.

Abrahamse and Meyer Productions lê die stuk met al sy vratte voor jou. Alles wat van die mens ’n veragtelike deel van die skepping maak, speel voor jou af. Dalk is die verlies aan jeug dus eintlik ’n bedekte seën, selfs ’n troos dat Skoppensboer wag.

In die Kunstekaap-teater tot 8 April om 19:00 en middagvertonings om 15:00. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Kunstekaap  |  Toneel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.