Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Albee daag ons uit met die walglike
Jennifer Steyn en Lionel Newton in ’n toneel uit The goat, or who is Sylvia? Foto: Oscar O’Ryan

Al word die gehoor deur dit wat die meeste mense as bisar, absurd of walglik sou beskou stem die Baxter se produksie van Edward Albee se The goat, or who is Sylvia? tot nadenke. Wayne Muller resenseer.

Die grense van wat die mensdom moraliteit noem, word al eeue lank verbreed of vernou. Oortuigende argumente, tradisies volgens oorlewering, onbetwiste geloof en mensgemaakte wette word gebruik om morele bakens vas te pen.

Tog daag ons daardie grense gedurig uit, maar dikwels laat dit ons struikel. Só vorm en vervorm ons morele kompasse wat ons glo ons samelewing beskerm.

Maar dis veral die grense van ons mees intieme verhoudings wat ons met ons harte bewaar, want as daardie bakens bars, krap dit ons binneste in flarde.

Met sy toneelstuk The goat, or who is Sylvia?, te sien by die Baxter-teater in Rondebosch, skep die Amerikaanse Pulitzer-pryswenner Edward Albee ’n mikrokosmos van ons samelewing in die sitkamer van Martin, Stevie en hul seun, Billy. Hier breek daardie grense van intieme verhoudings letterlik in skerwe.

Martin (Lionel Newton), ’n argitek, onthul aan sy beste vriend, Ross (Paul Savage), dat hy ’n buite-egtelike verhouding het – met ’n bok genaamd Sylvia! Ross, bekommerd, skryf aan Stevie (Jennifer Steyn) ’n brief hieroor, wat die katalisator word vir ’n bisar stryery wat aan die absurde raak.

Sylvia die bok het Martin begogel van die eerste dag dat hy haar in ’n skuur gesien het, en al het hulle seks, is hy steeds ewe lief vir Stevie – ’n buite-egtelike verhouding wat ons beslis as erg immoreel sal beskou.

Albee se teks is skerp en pittig, verwoord in vloeiende taal vol woordspelings, selfs tot die naam Billy (Engels vir ’n manlike bok). Intertekstualiteit gedy, en ons kry dit selfs in die titel, wat verwys na ’n Shakespeare-teks uit The two gentlemen of Verona en waarvan die Duitse vertaling deur Franz Schubert as die lied “An Sylvia” getoonset is.

Dat Albee se toneelstuk omstrede is, is gewis. Nie net het ons hier te make met bestialiteit nie, maar die verhouding tussen Martin en sy gay seun Billy (Sihle Mnqwazana) kom ook onder verdenking.

Al word ons as gehoor gekonfronteer met wat meeste mense as bisar, absurd of walglik sou beskou, laat Albee ons nooit gril nie, want die woorde wat hy in sy karakters se mond lê, is komies maar stem ons tot nadenke.

Mdu Kweyama skep ’n energieke produksie wat heeltyd voortstu. Karakters en hul spasies – beide fisiek en emosioneel – word met ’n fyn hand bestuur.

Al die akteurs se vertolkings was indrukwekkend, maar dis veral Newton en Steyn wat ’n mens in vervoering het. Met van fyn genuanseerde gesigsuitdrukkings tot barstende woede kry Newton dit reg dat die gehoor nooit sy karakter verwerp nie, maar wek selfs simpatie by ons (wat Albee dalk van sy leser wíl hê).

In Steyn se boeiende vertolking laat sy laag ná laag die skille afpeul wat Stevie se wraaksugtige kern uiteindelik ontbloot. Teen die einde is die vriendelike huisvrou en ma wat blomme rangskik ’n vae herinnering.

Ook Savage en Mnqwazana speel hul karakters met oorgawe.

In hierdie produksie word ’n vlymskerp teks, vindingryke regie en uitmuntende vertolkings suksesvol vermeng.

The goat, or who is Sylvia? konfronteer ons met dinge wat ons afskuwelik behoort te vind, wys ons hoe maklik ons verhoudinge afgetakel kan word en aan skerwe kan spat. Dit laat ons wankel en selfs simpatie toon vir dít wat ons reken immoreel is.

* Tot 18 Mei by die Baxter-teater in Rondebosch.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.