Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Antigone’ wekroep vir ons tydvak

Antigone (not quite/quiet)

Drama

****

Jennie Reznek in AntigoneFoto: Mark Wessels

Die klassieke toneelstuk van Sophokles is die wegspringplek vir dié lewenskragtige produksie Antigone (not quite/quiet) opgevoer deur die Kaapse Magnet-teater met regie deur Mark Fleishman.

Die vernuftige, grensverskuiwende toneelmakers voer hul credo, naamlik die verantwoordelikheid om ’n regverdige, vry en vreedsame samelewing tot stand te bring en in stand te hou, hier met oortuiging uit.

Die diep menslike stuk staan voluit in die teken van ons tyd, die landwye opstand van gewone burgers teen legio sake, van gendergeweld tot swak dienslewering. Dit berispe en daag uit. Meer nog dit rig ’n pleidooi aan die teaterganger: Jy is hier, raak betrokke, doen iets om hierdie land ’n beter plek te maak.

Dit is in drie dele wat onderling aansluit by mekaar en kommentaar lewer op Antigone. Elke deel wentel om ’n belangrike rolspeler in die mite, wat deur die eeue ryk gelaai is met politieke betekenis. Ismene, Antigone se suster, die tragiese jong heldin Antigone en Tiresias die blinde wysgeer

“Ismene”, die eerste deel, is ’n kragtige eenvroustuk met Jennie Reznek onherkenbaar in vuil geskeurde klere en stokkieshare. Sy is vervul met selfwalging omdat sy nie die dapper Antigone bygestaan het nie toe sy hul broer ’n amptelike begrafnis wou gee nie. Antigone wou die menslike bly doen ondanks die riglyne van protokol en die gevaar van ’n dreigende burgeroorlog. Haar selfdood het ’n ketting van terreur laat ontstaan. Ismene kan nie ontsnap aan haar verdriet en berou nie. Sy vervul jou met afkeer, empatie en afgryse – dit is ’n spieël na jou eie politieke aandadigheid en jou plek in die samelewing.

Die tweede deel, “Antigone”, draai om die jong aktivis en haar opstand teen die staat en konserwatisme. Dit is energieryke bewegingsteater met ’n spraakkoor van 13 mans en vroue – dit is tegelyk ’n weeklaag en ’n revolusionêre wekroep. Die dreun van voete op die planke, die stemme en sekuur beligting funksioneer later soos ’n heilige inkantasie. Die komponis Neo Muyanga se musiek asook die choreografie van Reznek en die geselskap lig die ervaring na grootsheid.

Dit word afgesluit met die laaste hoofstuk, “Tiresias”, oor die blinde wysgeer wat die skrif aan die muur sien. Dit is gegrond op die Xhosa-digter S.E.K. Mqhayi se gedig Ninganiki Okungcwele Ezinjeni(Moenie vir honde heilige dinge gee nie). Vrae word hier geopper. Wat het ons so verblind dat dit nou die stand van die nasie en land is? Wie het ons heilige drome vernietig en aan wie het ons ons kosbare vryheid vertrou? Die derde deel is ’n “intiemer” ervaring – die spieël draai weer terug na die teaterganger, wat gaan jy doen?

Antigone (not quite/quiet) is teater van eie bodem wat ’n emosionele reis bied vir die teaterganger. Die gladde en gemaklike samespel tussen studente en beroepslui – wat mekaar naatloos aanvul, tref. So ook die inkleding van Craig Leo.

Dit is teater wat worstel met sy tyd, dit omvorm en dan ’n wegwyser bied. Mag dit wyd hier en oorsee gesien word en mag ons baie van dié tipe teater nou begin sien. Teater soos die dien as bakens vir ons pad as burgers en as mense.

Tot 28 September saans om 19:30 en Saterdae ook om 15:00. Bespreek by Webtickets of Pick n Pay-winkels.

Meer oor:  Magnet  |  Teater  |  Antigone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.