Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Aspoestertjie-pantomime verander in pampoen – tot 2021

Janice Honeyman se gewilde pantomime sal vir die eerste keer in meer as 30 jaar nie vanjaar aangebied word nie.

Ondanks die hoop dat dit wel vanjaar op die planke sou wees, is dit na volgende jaar uitgestel.

Bernard Jay

“Dit was moeilik, maar soos sake nou met die Covid-19-pandemie staan, was dit onvermydelik,” sê Bernard Jay, vervaardiger van Cinderella, wat van 31 Oktober tot 20 Desember in die Mandela-teater in die Joburgteater in Braamfontein aangebied sou word.

“Ons sou op 28 September begin repeteer, wat nie meer so lank van nou af is nie,” sê Jay. “Met sosiale afstand kan ons nie iets soos die choreografie oefen nie. Ons het verlede week vergader en besluit om die spelers in kennis te stel. Ons het met ’n swaar hart die besluit geneem, maar dit is werklik die veiligste.”

Cinderella word volgende jaar van 6 November tot 24 Desember opgevoer.

Die pantomime ‘Cinderella’ is tot volgende jaar uitgestel.

“Ek het op 11 op teater verlief geraak en ek is lank genoeg in die bedryf om te weet dat teater die beste daar uitsien as dit op die verhoog opgevoer word en ’n mens dit in lewende lywe ervaar,” sê Jay.

Na verwagting sal dieselfde spelers volgende jaar in Cinderella optree.

“Die rolverdeling is byna ’n jaar gelede al bevestig. Ons is vasberade om dit volgende jaar aan te bied en ons wil dit met hierdie spelers doen.”

Finansieel gesproke maak dit meer sin om dit volgende jaar aan te bied, sê Makhaola Ndebele, artistieke direkteur van Joburg City Theatres.

“Daar sal nie groot gehore kan wees nie. Een van die ander faktore is dat die eerste klomp vertonings op skoolkinders gerig is. Dit is groot groepe. Volgende jaar sal mense dalk meer gerus wees om na ’n teater te gaan. ’n Mens sal wel vanjaar die pantomime mis, maar ’n mens kan volgende jaar ’n sterker terugkeer maak.”

Die aktrise Connie Chiume, wat in 2018 in die internasionale fliek Black Panther verskyn het, sou vanjaar vir die eerste keer in ’n pantomime opgetree het.

Die anders spelers sluit in Ben Voss, Desmond Dube, Graham Hopkins, Kyle Grant (voorheen van die groep Adam) en Kiruna-Lind Devar as Aspoestertjie.

“Daar was gelukkig nou ’n vroeë waarskuwing vir die akteurs,” sê Jay.

“Met (die musiekspel) The Color Purple moes alles ewe skielik afgestel word met die afkondiging van die staat van inperking. Dit was net ná die eerste dag van repetisies. Maar dis nog steeds nie maklik om so ’n boodskap aan die spelers oor te dra nie.”

Honeyman sal waarskynlik baie dele van die pantomime herskryf, sê Jay, want sy sluit nuusgebeure by die storie in.

“Ja, die virus is erg, maar ons moet geduldig wees. Laat ons saam vasbyt.”

Meer oor:  Janice Honeyman  |  Joburgteater  |  Braamfontein  |  Teater  |  Cinderella
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.