Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
ATKV-Tienertoneel se uitskieters gratis aanlyn te sien

As jy die ATKV-Tienertoneelkompetisie die afgelope nege jaar misgeloop het, kan jy nou al die hoogtepunte gratis aanlyn fuifkyk.

Die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes het verlede jaar die eindronde van die ATKV-Tienertoneelkompetisie gehaal met hul inskrywing ‘V(LUG)’. Foto: Nardus Engelbrecht

Volgens JJ van Niekerk, organiseerder van dié projek, is ATKV-Tienertoneel: Kwarantyn-kyk op YouTube geloods om vermaak tydens die staat van inperking te verskaf én om “inspirasie uit die verlede” aan die Tienertoneel-gemeenskap te bied.

“Al ons deelnemers en belangstellendes sien nie altyd die werk by die (kompetisie se) nasionale eindronde nie, maar met Kwarantyn-kyk is dit moontlik om die standaard dop te hou,” sê hy.

“Dié wat voorheen deelgeneem het, kan op ’n lekker nostalgiereis gaan.”

Die Tienertoneelkompetisie word sedert 1964 deur die ATKV aangebied om ’n “liefde vir toneelspel en teater in Afrikaans by hoërskoolleerlinge te kweek” – ook om ’n “platform vir talentontwikkeling” en ’n “smeltkroes van kreatiwiteit” te bied.

Van Niekerk sê hulle beskik oor opnames van inskrywings sedert die nasionale eindronde in 2011 – en dit is dié opnames wat elke Maandag, Woensdag en Vrydag een ná die ander aanlyn uitgereik sal word.

“Ons gaan begin met die nasionale wenners en sal daarna kyk na produksies wat gehoorgunstelinge tydens die nasionale eindronde was of net sowel die eerste plek kon behaal het,” sê hy.

“Ons gaan dit vanaf ons YouTube-kanaal (klik hier) stroom. Die ‘playlist’ is ‘ATKV-Tienertoneel’.”

Hy sê sodra ’n vertoning opgelaai is, sal dit nie verwyder word nie.

“Ons gaan ook vanjaar alle streeksfeeste se eindrondes asook die nasionale eindronde via ons eie kanaal op DigiTV uitsaai.

“Dit is vir ons belangrik dat meer Suid-Afrikaners die omvang, kreatiwiteit en dinamika van ATKV-Tienertoneel sien. Kyk daarna vir inspirasie, vir goeie vermaak, of kyk daarna as ’n baken van hoop dat die gordyn weer gelig sal word om tienertoneeltalent te vier.”

Netwerk24 het vroeër berig dat heelwat van die ATKV se jaarlikse projekte weens die Covid-19-pandemie afgestel is, onder meer die Redenaars- en Debatskompetisie, die Applous-kompetisie en die Rieldanskompetisie.

Ander projekte, soos die ATKV-Tjokker- en Tienertoneelkompetisie, word nog vir later in die jaar beplan.

Van Niekerk sê hy en sy span het reeds 215 inskrywings vir die 2020-ATKV-Tienertoneelkompetisie ontvang, wat sake tussen 9 Julie en 22 Augustus by 11 streeksfeeste in Port Elizabeth, Johannesburg, Ermelo, Bloemfontein, Roodepoort, Potchefstroom, Windhoek, Kaapstad, Pretoria, Durbanville en Durban sal uitspook.

Die nasionale eindronde vind van 23 tot 26 September in die Roodepoort-teater plaas.

Meer oor:  Atkv  |  Koronavirus  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.