Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Aunty Merle’ kuier nog langer in Baxter
Die komediant Marc Lottering vertolk die hoofrol in ‘Aunty Merle – It’s a Girl!’ Foto: Lindsey Appolis

Die reuse-belangstelling in die komediant Marc Lottering se tweede musiekspel, Aunty Merle – It’s a Girl, het vervaardigers genoop om die stuk se speelvak in Kaapstad met vier weke te verleng.

Lottering se trefferstuk het sedert sy opening op 22 November verlede jaar reeds meer as 35 000 teatergangers na die Baxter gelok – ’n bywoningsyfer wat selfs die vervaardiger, Anwar McKay, verras het.

“Ek het geweet die musiekspel gaan ’n treffer wees, want ek kon dit tydens repetisies in my binneste voel, maar ek is geheel en al oorbluf deur die omvang van die reaksie,” sê McKay. “Sommige mense het die musiekspel al vyf keer gesien!”

Die musiekspel volg op Lottering se 2017-treffer Aunty Merle – The Musical, wat vir vier Fleur du Cap-teaterpryse benoem is.

In die nuwe aflewering val die soeklig weer op die geliefde Aunty Merle Abrahams van Belgravia-straat in Athlone wat die vreugdevure hoog laat brand as sy kort ná haar 60ste verjaardag vermoed sy gaan ’n ouma word.

Benewens Lottering wat in Aunty Merle se skoene sing en dans, sluit die rolverdeling vir Anzio September, Carmen Maarman, Jennifer Steyn, Julian Place, Nicky Rebelo, Royston Stoffels, Rushney Ferguson, Sizwesandile Mnisi, Tashreeq de Villiers en Zoleka Helesi in.

McKay sê die rolverdeling en die teks is twee van die baie redes hoekom Suid-Afrikaners uit alle uithoeke na die teater stroom.

“Die vertoning se hoofdoel is om liefde en eenheid uit te straal, hoe sentimenteel dit ook al mag klink. Ons is polities deur ’n baie onenige tyd, en ek dink gehore vind nou aanklank by ’n stuk waarin alle Suid-Afrikaners ’n eg Suid-Afrikaanse storie saam op die verhoog vertel.

“Die teks is ook baie progressief, en ek is bly dat gehore bereid is om saam met ons op hierdie reis te gaan.”

Saam met die nuus dat die speelvak in Kaapstad verleng is, het McKay ook ’n tikkie hoop vir Johannesburgers wat smag na ’n speelvak in die Goudstad.

“Dit blyk aanlyn asof daar ’n groot belangstelling (in die stuk) in Johannesburg is. Ons onderhandel en behoort oor ’n paar dae te kan bevestig (of die stuk ook in Johannesburg aangebied sal word).”

Die musiekspel is deur Lottering geskryf en deur Lara Foot geregisseer. Trevino Isaacs behartig die musikale regie en Grant Van Ster die choreografie.

  • Aunty Merle – It’s a Girl! is tot 29 Februarie in die Baxter-teater in Kaapstad te sien. Vertonings vind van Dinsdae tot Saterdae om 19:30 plaas, met ’n bykomende middagvertoning op Saterdae om 15:00. Kaartjiepryse wissel tussen R125 en R225. Bespreek by Webtickets.
Meer oor:  Komedie  |  Teater  |  Musiekspel  |  Baxter-Teater  |  Marc Lottering  |  Aunty Merle  |  Anwar Mckay
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.