Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Behr se ‘Reuk van appels’ op KKNK op die verhoog

Die verhoogwerking van Mark Behr se bekroonde roman Die reuk van appels is grootliks teater van die verbeelding.

Dit is een van die debuutproduksies vanjaar op die KKNK.

Gideon Lombard vertolk meer as een karakter in die solostuk Die reuk van appels. Foto: Stephanie Gericke

Die regisseur, Lara Bye, sê baie kan met die regte beligting vermag word.

“Die akteur staan onder ’n sekere soort beligting (deur Kosie Smit) wat die bui en omgewing bepaal. Beligting verander ook daardie omgewing. Niks wat ’n mens op die verhoog plaas, kan dit meer werklik maak as wanneer die akteur die prentjie vir ons skep nie. Die beligting lig die stemming uit.”

Gideon Lombard vertolk die rol van Marnus in dié solostuk.

Dit vertel die verhaal van ’n jong seun se bewuswording en speel af in die 70’s teen die agtergrond van die Koue Oorlog en apartheid-Suid-Afrika. Die 11-jarige Marnus en sy vriend Frikkie staan onskuldig in die gebeure en die storie word deur Marnus se oë vertel.

Dit is Lombard se eerste solostuk.

“Daar is die onskuld van ’n 11-jarige wat ek moet uitbeeld. Ek kan nie wegkom van die ouderdom wat ek is en lyk nie. Wat die temas en gebeure betref, beskou Marnus iets uit ’n perspektief aan die einde van die boek. Ek sit op ’n groter stoel sodat ek kleiner lyk,” sê Lombard.

“Ek en Lara het nogal ’n gemeenskaplike woordeskat wat teater betref. Die storie is baie sterk in terme van letterkunde en baie getrou aan die boek se bewoording.”

Johan van der Merwe, wat saam met sy vennoot Rudi Sadler in Theatrerocket Productions die produksie vervaardig, het met die lees van die boek gedink dit sal ’n goeie solostuk wees.

“Ek het dit (die boek) juis jare gelede by die KKNK gekoop en terwyl ek dit daar gelees het, het ek die stuk voor my sien afspeel. Ek het nooit gedink dat dit juis ek sal wees wat so ’n produksie aanpak nie, maar ek het gedink dit kan baie goed op die verhoog werk,” sê Van der Merwe.

Hy en Sadler het by NB Uitgewers om die regte van die boek gaan aanklop.

Hulle het ook Behr se ma en suster ontmoet. Hulle sal die KKNK bywoon om die produksie te sien.

Gideon Lombard in Die reuk van appels. Foto: Stephanie Gericke

Volgens Sadler is die kern Marnus se ervaring van die gebeure, sy leefwêreld. “Gideon praat nie soos ’n seun nie, hy speel nie as ’n kind nie. Sy kleredrag en maniërismes laat hom soos ’n kind lyk.”

Johann Smith het die verhoogverwerking behartig.

“Hy het al die tonele gaan opgesom op stukkies papier,” sê Sadler. “Ons het saam met hom om ’n tafel besluit wat is belangrik, wat kan saamgegroepeer word, wat kan jy skuif in terme van ’n tydlyn.”

’n Mens kan nie die boek net so op die verhoog gaan sit nie, maar jy wil die boek se storie vertel. “Ons moenie afwyk van die boek nie. Geen nuwe karakters kan geskep word nie.”

Hulle moes besluit wat die hart van die storie is en watter temas hulle sou uitlig en in die proses ook getrou aan die dialoog van die boek bly.

Die verhoogweergawe is 90 minute lank en het ’n ouderdomsbeperking van 16.

* Die reuk van appels word in die Grieselsaal in Oudtshoorn aangebied op 10 April om 09:00, 11 April om 18:30, 12 April om 09:00, 13 April om 18:30, 14 April om 18:30 en 15 April om 15:00. Kaartjies kos R110. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.