Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Benny’ gaan Kapenaars betrek by bewaring
Ben Voss in sy solostuk Benny Bushwhacker: Human Nature.

Maak reg vir ’n wilde feestyd, want die “wêreld se snaaksste natuurbewaarder” kom Kaapstad toe. Die gewilde solostuk Benny Bushwhacker: Human Nature sluit sy nasionale toer in die Baxter af. SZ Minnaar het met Ben Voss gesels.

Wie is Benny Bushwhacker en wat is die inspirasie vir die karakter?

Benny is ’n bietjie gek. Nadat hy op tienjarige ouderdom van die skool af weggeloop het, het hy vir 20 jaar in die wildernis gewoon sonder enige menslike kontak. Hy het eers ophou wegkruip toe hy besef die wildernis word bedreig. Benny is onkundig oor allerhande menslike dinge, maar het ’n komiese wysheid oor die natuur en dit is wat ons verhoog toe wou bring. Benny spruit uit my en John van de Ruit se diep liefde vir Afrika se bosse. Ons het ook ’n gedeelde liefde vir komedie; waarom nie die twee dinge saamvoeg nie?

Hoe was die stuk se ontvangs sover?

Johannesburg het Benny regtig omhels omdat hy glad nie soos hulle is nie. Durbaniete, soos altyd, was lief vir die meer basiese humor, kwinkslae en karakterkomedie. Die beste gehoor was in Pretoria. Die balans tussen die Engelse en Afrikaanse gehoorlede het regtig iets in die stuk laat vlamvat.

Hoe is dit om weer saam met Janice Honeyman en John van de Ruit te werk?

Ek en Johnny is kreatiewe broers. Ons floreer saam. Selfs as ons as vriende net uitgaan vir ’n bier, bespreek ons alles wat ons kreatief aanvang en praat oor die kunstenaarslewe. As skrywer het hy die wonderlike vermoë om die malligheid in die wêreld raak te sien en met Bushwhacker het hy al die vreemde en wonderlike karakters wat ons op ons bos-eskapades ontmoet het in 65 minute se komedie verpak.

Janice is die een wat alles vorm gee. Vir iemand met so ’n sagte hart, kan sy ’n teaterduiwel wees en duld sy nie middelmatigheid nie. Sy bring die gravitas, dissipline en vloei na die stuk. Sy is genadeloos oor gehalte en niks swak of onbeduidend oorleef die repetisieproses nie.

Hoe vergelyk Ben Voss met Benny Bushwhacker?

Benny is so na aan myself, veral in liggaam en stem, soos wat ek al ooit op die verhoog was. Tog is hy meer naïef as ek, meer onskuldig, woedend oor die wêreld en verwonderd oor hoe vreemd mense kan wees. Ek hou van mense en geniet geselskap, terwyl Benny eerder ’n hibernerende boompadda sal bestudeer as om kroeg toe te gaan en shooters by sy keel af te gooi. Maar sy wantroue in mense moet nie gesien word as ’n gebrek aan passie om hulle te oortuig van sy standpunt oor die planeet nie. Niks kom in die pad daarvan nie.

Vanjaar was ’n groot jaar wat betref omgewingskwessies – dink maar aan Greta Thunberg en Extinction Rebellion. Hoe vind hierdie vraagstukke neerslag in Benny se wêreld?

Benny stel belang in die eindelose konflik tussen mense en die natuur. Dit kan op enige plek gebeur: ’n kind wat ’n gogga op ’n sypaadjie doodtrap tot ’n mynkonsessie op die grens van die Serengeti. Dit sluit ook aan by wat bewaring is, naamlik om hierdie konflik reg te bestuur en respek te hê. Verder is alles wat Benny sê en doen om mense uit te daag om te dink. Maar hy doen dit deur komedie, so as jy nie hardop vir hom lag nie, het hy nie sy werk gedoen nie. Gaan vra dan onmiddellik jou geld terug!

* Benny Bushwhacker: Human Nature begin op 10 Desember by die Baxter-teatersentrum. Kaartjies kan aanlyn op Webtickets bespreek word. Hier is die skakel: https://bit.ly/2LhCgr9

* Die optredes is deel van ’n geldinsamelingsprojek vir die Lebombo Leopard-Human Conflict Survey, ’n projek wat die spoor van luiperds volg wat na menslike nedersettings migreer.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.