Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Boelies en seksuele identiteit verken in ‘Kokon’
Carlo Daniels,

Die teaterstuk Kokon het in ’n diep gesprek met ’n vriend na hom toe gekom.

So sê Carlo Daniels, skrywer en regisseur van dié fisieke teaterstuk wat eersdaags op die Suidoosterfees in die Kunstekaap in Kaapstad opgevoer word.

Dit speel af op die Kaapse Vlakte en handel oor Josh, ’n hoërskoolseun, wat geboelie word en onseker is oor sy seksuele identiteit.

“Ons het gepraat oor die dinge of gesprekke wat veral nou in die teater gevoer moet word. Vir my is dit belangrik om ’n geboelie te ondersoek, want dit is ’n groot probleem waarmee ons sit, en volwassenes kyk dikwels verby dit. “Ek dink dit verdien meer aandag en sensitiwiteit. Dit kan trauma en depressie in slagoffers veroorsaak.

“Tog glo ek die boelie verdien ook aandag – ons moet onsself afvra hoekom mense seermaak en afknou.

“Daar is kinders en tieners wat boelies is, maar ook volwasse mense.”

In die stuk worstel die tienerseun met die gemeenskap wat hom “hammer dat hy ’n ‘dit en dat’ is, hy sukkel om self te besluit wat sy seksuele identiteit is. Daar is deesdae so baie en nuwe seksuele identiteite en hopelik kan ons ’n gesprek begin wat belangrik is en as ’n gemeenskap vra: Wat kan ons doen?”

Carlo Daniels en Abigail Mei in ‘Onweer’.

Dié teaterskepper lug graag vraagstukke uit in sy skryfwerk. In sy vorige toneelstuk, Klippies vannie grond, het hy gefokus op ’n jeugmisdadiger se pogings om weer deur sy gemeenskap aanvaar te word ná ’n onbesonne misdaad.

As kind het Daniels in die strate van Mitchells Plain opgetree. Hy het sy opleiding onder meer by die Magnet-teater in Observatory onder leiding van Jennie Reznek en Mark Fleishman gekry.

Teater is in sy bloed en hy is al vereer vir sy werk. Op die Baxter se Zabalaza-teaterfees in 2018 was sy stuk Onweer die eerste Afrikaanse stuk om te wen in die fees se (toe) negejarige bestaan. Dit handel oor ’n jong vrou wie se lewe hel word nadat haar pa uit die tronk vrygelaat word.

Daniels was ook in talle produksies van David Kramer te sien, soos Kat and the Kings, Blood Brothers, Orpheus in Africa en District Six Kanala.

Hy is dankbaar vir die geleentheid om Kokon te kon skep en voor te berei vir die verhoog danksy die Jakes Gerwel-stigting, die Nasionale Afrikaanse Toneel-inisiatief (Nati) en die Suidoosterfees. Hy is een van die tien Nati Jong Sterre wat hul werk op die fees opvoer.

Ek glo nie als kan gesê word met woorde nie, daar is dinge wat ’n mens voel en eintlik nét kan voel. Om dit in woorde te verduidelik is soms vir my te moeilik. Daarom gebruik ek beweging, teks, klank en stilte om te praat. Ek en my medespelers sê ons waarheid. Ek glo daar sal mense wees wat identifiseer. Dit is universele teater en definitief nie kommersiële kuns nie

In Kokon werk hy met woorde, die lyf en klank.

“Ek glo nie als kan gesê word met woorde nie, daar is dinge wat ’n mens voel en eintlik nét kan voel. Om dit in woorde te verduidelik is soms vir my te moeilik. Daarom gebruik ek beweging, teks, klank en stilte om te praat. Ek en my medespelers sê ons waarheid. Ek glo daar sal mense wees wat identifiseer. Dit is universele teater en definitief nie kommersiële kuns nie.”

Die spelers in die stuk is almal jong kunstenaars van in hul twintigs. Die hoofrol word deur Zinedine Manus vertolk. Ander spelers is Beviol Swartz, wat ook by Magnet opgelei is in fisieke teater, Shannon Williams, wat by die Waterfront Theatre School was en in die toneelstuk Kinnes van Chase Rhyes opgetree het, Darion Adams van Jazzart en die opkomende akteur Ayden Croy, wat klasgedraf het by die Universiteit van Kaapstad se dramaskool en nou heelwat rolprent- en televisiewerk doen.

Daniels is self ook binnekort in die Showmax-televisiereeks Skemerdans te sien, en in die rolprent Barakat, wat internasionaal aandag trek.

“Dit was ’n plesier om saam met Nagvlug Films aan Skemerdans en Barakat te werk. Ek het in albei nie groot rolle gespeel nie, maar ek moet sê dit was ’n groot plesier om met die span en akteurs saam te werk. Ek is bly dit doen goed. Dit is ook werk wat ons moedertaal en ons mense verteenwoordig.”

Tog is teater sy eerste liefde. Vorentoe staan sy kop veral na toneelspel en droom hy om teater vir jong mense te skep.

“Elke tweede jaar wil ek ’n stuk opvoer en hoop om geld daarvoor te kry, of ’n geleentheid soos dié saam met die Suidoosterfees. Anders maak ek ’n weg, of liewer, God maak vir my ’n weg. Ek is meer van ’n speler en het nog baie groeiwerk om te doen. Ek het baie werk wat wag en waarmee ek besig is en ek hoop ek kan ’n impak maak op ons mense en dromers.

“Ek wil ook graag my eie teatergroep met jong mense hê en straatteater doen.”

Kokon word op 2 Mei om 14:30 in die Nati-arena van die Kunstekaap opgevoer. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.