Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Borge, Copperfield kry lewe op planke

Teaterliefhebbers kan uitsien na ’n allegaartjie van ’n verhoogproduksie wanneer Mark Rose-Christie, die verhoogakteur en kulkunstenaar wat ook jaarliks met sy bekende Mystery Ghost Bus die Baai se spoke uit hul tuistes lok, volgende week ’n ekstra-spoggerige draai op die verhoog in die Vriendelike Stad kom maak.

Rose-Christie se vertoning, die Christmas Variety Show, in samewerking met die Port Elizabethse musiek-en-dramavereniging (Pemads), sal sommer ’n groot verskeidenheid vermaak insluit wat oud en jonk sal kan geniet.

Mark Rose-Christie sal jou met sy optrede in die Little Theatre met sy kulkunsies na jou asem laat snak. Foto: Verskaf

Daar sal van sang en klavierspel en verbysterende towerkunsies tot komedie à la Victor Borge (die legendariese Deense klassieke pianis en komediant van die 20ste eeu) en spookstories wat jou hare sal laat rys tydens die spesiale vertoning aangebied word.

John Veira, ’n vorige burgemeester van die stad, het altyd skertsend na Rose-Christie verwys as “Port Elizabeth se ambassadeur”, omdat dié altyd ’n nuwe nasionale verhoogproduksie eers in die Baai aangebied het voordat hy daarmee op toer gegaan het.

“Ek is vreeslik lief vir die Oos-Kaap en besoek die provinsie minstens twee keer per jaar, tydens die Grahamstadse kunstefees en dan weer in Desember wanneer ek die spooktoer hier aanbied,” sê hy.

Rose-Christie, wat al in die vermaakbedryf sy brood verdien sedert hy 16 jaar oud is, het reeds verskeie opspraakwekkende teaterproduksies op sy kerfstok soos Jesus Christ Superstar, wat hy in 1984 saam met Linda-Louise Swain, ewe bekende Baaise teater-ghoeroe en sy destydse mede-regisseur, aangebied het.

Dié produksie se première is in die Operahuis in die stad opgevoer.

Tydens sy landwye Magic of The Future-vertonings waarin hy sy gehore met asemrowende kulkuns begogel het, is hy as Suid-Afrika se eie David Copperfield beskryf.

Hy het selfs ’n draai op presidensiële vlak gemaak toe hy genooi is om spesiaal vir die destydse Amerikaanse president George Bush sr. met sy kulkunsies te vermaak.

Skuif jou bekommernis oor Covid-19 vir ’n wyle opsy en geniet ’n genotvolle aand van vermaak saam met Mark Rose-Christie wanneer hy jou sal laat skater van die lag en jy in vervoering sal wees oor sy kulkunsies. Foto:

Die Christmas Variety Show word op 18 Desember om 19:00, op 19 en 20 Desember om 14:00 en 16:00, en 21 tot 23 Desember ook om 19:00 in die Little Theatre in Sentraal, Port Elizabeth, aangebied.

Die kaartjies vir die vertoning, wat 90 minute duur, kos R120 per persoon.

Bespreek jou plek betyds by www.quicket.co.za of arriveer vroeg genoeg by die teater om moontlike oorblywende kaartjies te koop.

Covid-19-regulasies (temperatuurmeting, handontsmetting en ’n vraelys) sal streng toegepas word en maskers moet te alle tye gedra word.

Net 92 sitplekke van die 280 sal gevul kan word.

  • Besoek https://web.facebook. com/PemadsLittleTheatre vir meer inligting oor die verhoogproduksie. Om aan Covid-19 regulasies te voldoen sal die eerste Mystery Ghost Jaunt (waarin ’n konvooi van avontuurlustiges elkeen in sy eie voertuig die spoke se tuistes besoek), binnekort in die Baai aangebied word.

Besoek Mystery Ghost Productions se Facebookblad, hou van die blad (like) en jy sal daarna alle inligting oor die spokerige bedryf outomaties ontvang.

Meer oor:  Port-Elizabeth  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.