Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Boxes’ is veel meer as net bokse

’n Mens kry celebrities en ’n mens kry actors, sê Quanita Adams. Sy sien haarself as akteur en dan veral as ’n actor(vist).

Dit maak nie vir haar saak hoeveel rolle sy al op die verhoog, televisie of in rolprente vertolk het nie. Sy sal altyd besig wees met werk wat daarop gerig is om ’n verskil te maak en sensitiewe sake onder die loep te bring.

Quanita Adams

Die meeste mense ken haar vir haar rolle in kykNET se Binnelanders, die situasiekomedie Vinkel & Koljander en die Afrikaanse drama Sara se geheim. Sy het ook rolle vertolk in die hoog aangeskrewe Forgiveness, Tess en meer onlangs Susters. Teatergangers sal weer haar kragtige vertolkings in Boesman en Lena, At Her Feet, Truth in Translation en Cissie onthou waarvoor sy in verskillende jare met teaterpryse bekroon is. Sy het ook onder meer geskryf vir televisiedramas soos Sterlopers, Swartwater en Arendsvlei.

Tans is sy te sien in Boxes, ’n gedeeltelik dokumentêre produksie om gehore bewus te maak van groot ontwikkelings wat mense dwing om uit hul huise te trek en die uitwerking wat dit op die betrokke mense het.

Die stuk is geskep deur die teatermakers Neil Coppen en Ameera Conrad (skepper van The Fall) en die ondersoekende joernalis Daneel Knoetze. Coppen is die stigter van EMPATHeatre wat op sosiale kwessies fokus.

“Ek hou daarvan om stories te vertel, maar nog meer as die stories ’n verskil in mense se lewens kan maak, of mense selfs net ’n bietjie anders te laat dink,” sê Adams.

Dis nie dat sy net ernstig wil wees nie, sê sy.

“Ek is mal vir ’n grappie, maar hierdie kwessie lê my na aan die hart. My eie familie is gedwing om te skuif en is oor die Vlakte versprei. Soos in Boxes was hulle hele lewe in ’n stadium in ’n paar bokse gepak.”

Quanita Adams en Mark Elderkin in Boxes.

Adams en Mark Elderkin vertolk verskillende rolle in die stuk. Daar is byvoorbeeld ’n ontwikkelaar, argitek, politikus en ’n jong paartjie wat kan voordeel trek uit ’n ontwikkeling aan die een kant en van hul gesinslede wat gaan ly daaronder.

“Ek geniet die manier waarop ons Boxes doen – ons in die middel en die gehoor in ’n sirkel om ons. Daar is iets omtrent ’n sirkel wat geselskap aanmoedig. By ’n braai staan mense in ’n sirkel en praat, daar word in ’n sirkel gedans. Ons sirkel maak dit na die tyd ook maklik vir mense om gedagtes oor die kwessie te deel.”

Nadat dit pas drie keer in die Theatre Arts Admin Collective in Observatory opgevoer is, gaan hulle twee weke lank na die Paasnaweek die stuk by twaalf hoërskole, vir studentegroepe en belastingbetalersverenigings opvoer.

Boxes is deel van ’n groter projek waar joernaliste en teatermakers saamwerk om in aanloop tot die verkiesing mense bewus te maak van bevindinge van die joernaliste. Dit word dan op ’n spesiale manier uitgebeeld. Een van die doelstellings is om mense aan die dink en praat te kry oor sosiale vraagstukke.

Vir meer inligting oor die projek kontak maristimie@gmail.com of boxescapetown@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.