Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Buiklag-vermaak in RSG se tuisbly-dramaseisoen

RSG se nuwe Radioteater-seisoen bied talle “buiklagvermaak” aan luisteraars midde die staat van inperking.

Uys Krige

* Die seisoen begin Donderdag om 20:00 met Gerhard J. Beukes se klassieke klug As ons twee eers getroud is.

Margot Luyt het destyds hierdie spesiale argiefdrama opgevoer met spelers soos Trix Pienaar, Johan van Jaarsveld, wyle Kitty Albertyn en ’n jong Jan Ellis.

Kallie het ’n klein dieretuin in die sitkamer, maar dan ontsnap sy koggelmander, muis, slang, padda én spinnekop! Oupa en Kallie is boonop stil-stil besig met hul eie komplot, wanneer Frans en Malie van der Merwe op die vooraand van hul silwer huweliksherdenking besef hulle het glad nie ’n huweliksertifikaat nie. Leef hulle al vir 25 jaar in “sonde” saam?

* Die digter, vertaler en skrywer Uys Krige se hoorspel Die goue kring is ’n argiefdrama wat deur wyle Evert Snyman opgeneem is. Krige sou vanjaar 120 jaar oud gewees het. Hy het in 1985 die Hertzogprys vir drama vir al sy dramawerke gekry.

Die goue kring, wat in Spanje afspeel, verwys na die kringloop van die lewe en dood. Dit is gegrond op ’n legende uit die Portugese literatuur. Dit word op 9 April uitgesaai.

RSG
Helena Hugo Foto: Zelma Fourie

* Op Goeie Vrydag (10 April) is Helena Hugo se Paasdrama Die leë graf met spelers soos Lochner de Kock, Richard van der Westhuizen en Pietie Beyers te hoor. Dié nuwe drama is in opdrag van RSG geskryf en word net ná die nuus om 13:00 uitgesaai, met ’n herhaling om 18:00.

Hugo is ook die regisseur.

Van toe af tot vandag en juis vandag worstel die mens met die vraag: Hoe kan ek gered word? Die antwoord is so eenvoudig dat dit moeilik is om te aanvaar.

Hugo het vier randfigure rondom Jesus gekies om die vrae te vra en die antwoorde te kry.

* Die Vrystaatse dramaturg en aktrise Ilne Fourie se komedie Sjarrap en eet jou kos! is ’n komiese verhoogteks wat vir die radio aangepas is. Dit word op Donderdag 16 April uitgesaai.

Die luisteraar betree die gedagtewêreld van die kelner en vanuit hierdie uiters intieme kennismaking, die (on-)heilige, nooit gehoorde dinge (met apologie aan N.P. van Wyk Louw) hóór wat kelners moontlik hulle klante hardop sou wou toesnou. Vrae soos: Wat het julle wat lekker is? Of: Waar kan ons sit waar dit nie so warm is nie? Of: Wat is in julle lemon meringue? Dié vrae is genoeg om enige moeë kelner teen die mure uit te dryf!

Martelize Kolver vertolk die kelner en die klante is Susanne Beyers, Roeline Daneel, Gina Assanté, Leon Kruger, Chris Majiedt en Ludwig Binge. Die regisseur (en verwerker) is Eben Cruywagen.

RSG
Marita van der Vyver Foto: Antonia Steyn

* Marita van der Vyver se radiodrama Genade word beskryf as ’n “meesterklas in hoe om ’n storielyn met ’n voorspelbare en onafwendbare einde fassinerend te hou”.

Genade was in 2015 die naaswenner in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie en word op Donderdag 23 April om 20:00 uitgesaai.

Kas Stuurman is ’n afgetrede koerantman en lief vir woordspeletjies, wyn, blokkiesraaisels en sy vrou. Door Stuurman is ’n afgetrede Afrikaansonderwyser en lief vir lees, reis, dans en haar man. Hul seun, Vic, woon in Kalifornië en is ver van sy geliefde ouers wanneer hul lewe stadig maar seker begin verbrokkel weens Door se stadige agteruitgang.

Die radiodrama is deur die beoordelaars beskryf as ’n “hartroerende verhaal en pragtige, pragtige teks wat die luisteraar op ’n slim manier deur al die fases van Alzheimer se siekte neem”.

“Die skrywer neem ons op ’n reis, nie een waarop ons graag sou wou gaan nie, maar dit word so goed gedoen dat die luisteraar enduit vasgenael bly.”

June van Merch is as Door Stuurman te hoor, met Charlton George as Kas. Marvin-Lee Beukes vertolk die rol van Vic. Die regisseur is Margot Luyt.

* Die dramaturg Charles J. Fourie se radiodrama Vergifnis, wenner van RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie in 2015, word Donderdag 30 April uitgesaai.

In Vergifnis lei ’n bejaarde vrou in ’n rolstoel ’n protesoptog van Touwsrivier na die parlement in Kaapstad. ’n Jong man wat haar in haar huis beroof het, het ingestem om haar in die rolstoel na Kaapstad te stoot waar sy die toenemende misdaad en gebrek aan werkgeleenthede vir jong mense onder die regering se aandag wil bring.

Victor Hugo se klassieke roman Les Misérables dien as katalisator vir Fourie se wendrama. Die regisseur, Johan Rademan, gebruik ook temamusiek uit Les Misérables gekontrasteer met ’n stukkie Afrikaanse flair waaraan die Hoërskool Durbanville se skoolkoor meegedoen het in die opmars na die parlement.

Die spelers sluit in Amor Tredoux, Jarrid Geduld, Charl van Heyningen, Roelien Daneel, Zenobia Kloppers, Wessel Pretorius en Leandé Valentyn.

* Radioteater word Donderdae om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Helena Hugo  |  Rsg  |  Radioteater  |  Radio  |  Radiodrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.