Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Bykomende borgskap vir Teksmark in 2019
06 September 2018

Kunste Onbeperk se Teksmark gaan volgende jaar ook ander tale insluit. Dit word moontlik gemaak met ’n bykomende borgskap van R200 000. Die afgelope drie markte het Afrikaans en Engels ingesluit en Xhosa kom volgende jaar by.

Marichje de Necker, Carel Nel en Des-Lee McKenzie in Du Toit Albertse se Sestig Grade.

Lara Foot, direkteur en uitvoerende hoof van die Baxter-teatersentrum, het by die afsluiting van die Teksmark Dinsdagaand bekend gemaak dat die Baxterteater R100 000 tot die belang van die ontwikkeling van nuwe stemme bydra. Die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), het R100 000 uit NATi se koffers bewillig.

Om die ontwikkeling van tekste ’n verdere hupstoot te gee, is daar drie skrywersbeurse aangekondig, juis met die doel om vir die skrywers tyd te koop om verder aan tekste te skaaf.

Kunste Onbeperk en NATi het R50 000 vir Herschelle Benjamin bewillig, die Vrystaat Kunstefees en NATi R50 000 vir Du Toit Albertze en die Aardklop Nasionale Kunstefees en die Atterbury Trust R20 000 vir Kanya Viljoen – almal jong nuwe skrywers wat aan 2018 se Kunste Onbeperk Teksmark deelgeneem het.

Cantona James en Jacques Bessinger in Aas Poetica deur Herschelle Benjamin. Foto’s: Jeremeo Le Cordier

Twee tekste wat reeds opgeraap is om opgevoer te word, is: Wildeals van Wessel Pretorius wat moontlik gemaak word deur Kunste Onbeperk, die Baxter, NATi en Aardklop; en Kôllemin die blouduif van Amee Lekas met Kunste Onbeperk, die Baxter, die US Woordfees en NATi as vennote.

Lekas het met die eerste Teksmark haar debuut gemaak met Die dans van die watermeid, wat in 2017 by die Baxter opgevoer is en vir ’n Fleur du Cap vir beste nuwe Suid-Afrikaanse teks benoem is.

Die Teksmark skep nuwe geleenthede vir skrywers om nuwe produksies aan te bied en dit staan enige fees, teater of privaat individu vry om so ’n teks verder te ontwikkel en te laat opvoer. Verskeie tekste van die vorige twee markte is al opgevoer en besig om opgevoer te word.

In ’n mediaverklaring sê Foot daar word niks weggeneem van Afrikaans nie, daar word bygevoeg.

Joanie Combrink en Greta Pieterse in Die rol deur Nicola Hanekom.

“Onder die sambreel van die Baxter is alle tale, kulture en gelowe welkom. Só bou ons voort op die wonderlike inisiatief van die Teksmark.”

Vir Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk wat met die inisiatief van die Teksmark begin het, was dit nog altyd die droom dat die Teksmark uitgebrei kan word om Suid-Afrikaanse tekste te ontwikkel. “Ek is oorweldig deur die hoeveelheid mense wat dit bywoon, die gesprekke en besprekings. Dit is ’n veilige ruimte binne die teatergemeenskap waarin mense vrae kan vra en terugvoering gee oor die uittreksels wat as leesteater aangebied word. Almal word deel van die proses om teater te skep.”

Jana Cilliers en Dawid Minnaar in Wessel Pretorius se Wildeals.

AK21, ’n klub wat die uitvoerende kunste ondersteun, het aangedui dat hulle vyf tekste vir al die lede gaan voorlê om vir finansiële ondersteuning te oorweeg: Die doop (Elsa Tirsa), Aas Poetica (Herschelle Benjamin), Mank (Kanya Viljoen), Sestig grade (Du Toit Albertze) en Die rol (Nicola Hanekom).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.