Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Casper de Vries soort ‘Joker’ in nuwe pantomime

Dalk moet hy die riller Joker gaan kyk, sê die komediant Casper de Vries wat in Jack and the Beanstalk, sy eerste optrede in ’n pantomime van Janice Honeyman, die booswig vertolk wat effens op dié karakter geskoei is.

Honeyman se 32ste pantomime duur van 2 November tot 22 Desember in die Mandela in die Joburg-teater in Braamfontein, Johannesburg.

Jack and the Beanstalk
Casper de Vries as Hendrik Hideosa in Jack and the Beanstalk. Foto: enroC pics

“Janice is een van die beste regisseurs van pantomimes in die wêreld,” sê De Vries. “Ek het in die 1980’s haar heel eerste een bygewoon. Ek het dit tot nou toe nog heeltyd misgeloop (om in een op te tree). Soms was ek nie beskikbaar nie, soms is ek nie gevra nie . . . Maar vanjaar het dit uitgewerk.”

Dit is iets wat hy eenvoudig moes doen.

“Ek love dit. Dit is my lewe. Die teater was nog altyd my tuiste.”

Nou dra hy die grimering van ’n karakter wat, hoewel hy baie snaaks is, vreesaanjaend is.

De Vries vertolk boonop nog twee karakters.

“Hendrik word in ’n stadium ’n vrou om vir Jack te mislei, nie te verlei nie. En ek is ook die reus se vrou. En die ding is so common soos gras, wat dit uitdagend maak. Vir elkeen moet jy ’n stem en ’n kostuum gee, maar dis groot pret.”

“Daar is nie te veel ‘dinkwerk’ nie. Daar is nie juis subteks of so iets nie. Jy speel die reël soos dit is. Jy gooi jou dansie, jy sing jou liedjie. Jy moet toegewyd aan die (by tye) absurditeit wees. Jy bly so toepaslik moontlik aan die jaar se gebeure."

De Vries sê die pantomime het vanjaar ’n bietjie meer van ’n Afrikaanse aanslag.

Hy en die akteur Germandt Geldenhuys, veral bekend om sy rol as Louis in die kykNET-sepie Binnelanders, dra baie hiertoe by.

“Daar is selfs ’n Afrikaanse liedjie,” sê Geldenhuys wat die rol van die Dame, Miemie Mosbolletjie-Melba, vertolk.

“Ek dink die Dame is butcher as ek, as so iets moontlik is . . .”

“Janice sal dikwels ons insette vra oor Afrikaanse opmerkings en so meer. Ek en Casper meng baie Engels en Afrikaans vir die stuk. Dit maak dit nogal moeilik om die woorde te leer, maar ek dink dis nogal opwindend.”

Dit is ook Geldenhuys se eerste keer in ’n pantomime van Honeyman.

Jack and the Beanstalk
Germandt Geldenhuys as Dame Miemie Mosbolletjie-Melba in Jack and the Beanstalk. Foto: enroC pics

“In die derde week het dit regtig vir my pret begin raak,” sê hy. “Jy voel asof jy in ’n orkaan is en rondgewaai word. Jou brein maak nie dadelik sin van alles nie. Dan moet jy die choreografie hanteer. Nou moet jy gou dié of daai liedjie gaan leer. As jy dít sê moet jy dáár staan. Dinge verander gereeld soos die produksie mettertyd gestalte kry. Ek dink met elke repetisie kom ’n nuwe element by.”

Die Dame is Jack (vertolk deur Zolani Shangase) se ma. Jack is die oudste van haar vier kinders en die seun wat die gesin se bees vir ’n paar bone verkoop – tot sy ma se ontsteltenis.

“Ek dink elke kind het ’n ander pa want hulle lyk glad nie na mekaar nie,” skerts Geldenhuys. “En die ma ontdek boonop ’n nuwe liefde. Alles pla haar; probleme met mans, geld én kinders.”

Dié Dame skep die indruk van ’n Vrystaatse Afrikaner.

“Ek dink as jy op die verhoog stap en jy het jou rok en jou boesem en jou pruik aan, hoef jy eintlik nie veel meer te doen nie. Die novelty bestaan reeds. Jy hoef hulle (die gehoor) byna nie oor te wen nie. Jy het die eerste helfte van die oorlog reeds gewen.”

Daar is ’n paar kostuumveranderings en die musiek strek van liedjies van Elvis Presley, Taylor Swift, Beyoncé en ’n bietjie Stomp. Geldenhuys sing ook ’n klassieke Italiaanse liedjie, maar in Engels.

De Vries en Geldenhuys sê hulle het baie pret op die verhoog.

“Hy is baie goed as die Dame, en dit verg baie om my te laat lag . . .” skerts De Vries.

Geldenhuys reken ’n pantomime is ’n lekker genre.

“Daar is nie te veel ‘dinkwerk’ nie. Daar is nie juis subteks of so iets nie. Jy speel die reël soos dit is. Jy gooi jou dansie, jy sing jou liedjie. Jy moet toegewyd aan die (by tye) absurditeit wees. Jy bly so toepaslik moontlik aan die jaar se gebeure.

“Maar dis ook ’n mooi storie. Hierdie kind met drome wat die leer (boontjierank) van sukses klim.”

* Vertonings is van 2 November tot 22 Desember in die Mandela in die Joburg-teater in Braamfontein. Kaartjies kos R225 tot R395. Bespreek by Webtickets.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.