Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Coetzee se ‘Life and Times of Michael K’ kom na Baxter
Die marionet van die karakter Michael K geskep deur die Handspring Puppet Company vir Lara Foot se produksie van ‘Life and Times of Michael K’. Foto: Fiona McPherson

Teaterliefhebbers moet nou al die datums 7 tot 19 Junie in rooi merk op hul kalender. Die Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad, bied dan die wêreldpremière van Life and Times of Michael K aan.

Dit is ’n teaterverwerking van J.M. Coetzee se Booker-bekroonde roman, deur die gevierde teaterskepper Lara Foot in samewerking met die Handspring Puppet Company.

Van die rolle in die langverwagte ko-produksie tussen die Baxter, Theater der Welt Düsseldorf 2020, die Düsseldorfer Schauspielhaus en Les Théâtres de la Ville de Luxembourg, word deur Sandra Prinsloo en Andrew Buckland vertolk.

Prinsloo sê dat sy deel is van die ensemble as verteller en sy vertolk deurgaans klein rolle in die stuk. Die kollig is op die marionette wat die hoofrolle vertolk. Hulle is kliphard aan die repeteer in Kaapstad.

Sy ag dit as een van Coetzee se belangrikste en mees profetiese werke.

“Dit dui op ’n post-apokaliptiese wêreld, wat ons nou ervaar midde die koronaviruspandemie. Michael K lewe midde oorloë en die verbrokkeling van ’n samelewing, hy moet veg teen ’n ongesiene vyand. Vir my is dit tekenend van die verwarring van ons tyd. Ons moet opnuut soos hy die lewe herdefinieer, ons het baie vrae en min antwoorde. Al wat ons kan doen, is om net dag vir dag aan te gaan.”

Michael K en sy ma, marionette geskep deur die Handspring Puppet Company, is deel van die grootskaalse aanbieding van J.M. Coetzee se ‘Life and Times of Michael K’. Foto: Fiona McPherson

Luidens ’n mediaverklaring is dit die grootste en dalk mees uitdagende produksie wat die Kaapse teater die afgelope dekade na die planke gebring het. Dit volg op twee jaar se deeglike beplanning.

Foot het die teks verwerk en is ook die regisseur. Dit is die eerste keer dat sy saam met die Tony-bekroonde tweemanskap Basil Jones en Adrian Kohler werk, wat die wêreldwye teatertreffer War House se marionette geskep het. Die span het ook gereeld saam met William Kentridge gewerk aan produksies soos Ubu and the Truth Commission.

Ander spelers wat hulle by Prinsloo en Buckland aansluit vir Michael K, is Fansiwa Yisa, die poppemeester Craig Leo, Roshina Ratnam, Carlo Daniels, Marty Kintu, Billy Langa, Nolufefe Ntshuntshe en die Duitse poppehanteerder Markus Schabbing.

Die mediaverklaring beloof dat dit epies in skaal gaan wees, asook teatraal. Benewens die marionette en toneelspel gaan rolprentkuns en musiek gebruik word om Coetzee se verhaal lewend te maak.

Sandra Prinsloo

Die produksie sou in Junie 2020 open by die Theater der Welt-fees in die Düsseldorf-teater in Duitsland, maar dit moes uitgestel word weens die pandemie, inperkings en die verbod op reis, wat baie lande geraak het. Die plan is om dit in Kaapstad te open en later na die Theatre der Welt-fees te neem sodra die inperkings op reis opgeskort is.

Die meesleurende roman handel oor Michael K, ’n eenvoudige man sonder pretensie wat deur Suid-Afrika reis, ’n land lamgelê deur burgeroorlog. Die doel van sy reis is om sy sieklike ma na die plaas te neem waar sy grootgeword het sodat sy daar vreedsaam kan sterf. Onderweg vind hy krag in sy eie menslikheid, sy diep band met die aarde en sy unieke lewenspad wat ontvou soos hy reis. Onderweg besef hy die waarde van ’n mens se lewe.

Die stelontwerp is deur Patrick Curtis, die musiek is gekomponeer deur Kyle Sheperd, die beligting is deur Joshua Curtis, die regisseurs van die rolprent en fotografiese aanbieding is Fiona McPherson en Barrett de Kock, die videografie en redigering is deur Yoav Dagan, projeksie-ontwerp is deur Kirsti Cumming, kostuums deur Phyllis Midlane en die klankontwerp deur Simon Kohler.

Andrew Buckland

Sitplekke is beperk tot 250 volgens Covid-19-maatreëls. Die dra van maskers en sosiale distansiëring is verpligtend. Hande moet gereinig word. Teatergangers word versoek om ’n uur voor die aanvang van die produksie te arriveer.

Life and Times of Michael K word daagliks om 19:00 aangebied, daar is middagvertonings op Saterdag 12 en 19 Junie om 14:00 en Woensdag 16 Junie om 14:00.

Bespreek by Webtickets by 086 111 0005, aanlyn by www.webtickets.co.za of by ’n Pick n Pay-winkel. Afslag geld vir skoolgroepe en blokbesprekings. Fondsinsamelings en liefdadighede kan Leon van Zyl op 021 680 3972 bel of stuur ’n e-pos na leon.vanzyl@uct.ac.za. - Saamgestel deur Laetitia Pople uit ’n mediaverklaring en kort gesprek met Sandra Prinsloo.

Meer oor:  Baxter  |  Basil Jones  |  Adrian Kohler  |  Lara Foot  |  Sandra Prinsloo  |  J.M. Coetzee  |  Andrew Buckland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.