Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Committie: ‘Bulderlag nou in virustyd nodig’

Die komediant en akteur Alan Committie, wat die afgelope 22 jaar 24 solovertonings letterlik duisende kere op die planke gebring het, gaan vir die eerste keer in sy loopbaan ’n regstreekse skerpskertsvertoning aanlyn aanpak.

‘Dié wat met ’n masker lag, lag die lekkerste,’ sê die komediant Alan Committie oor sy eerste aanlyn skerpskertsvertoning, ‘No Contact Comedy’.

Committie gaan die vertoning No Contact Comedy Saterdag in ’n “Covid-vriendelike studio” in Kaapstad aanbied wat met twee kameras op ’n webinaar-stromingsdiens uitgesaai gaan word.

Hoewel hy een van Suid-Afrika se mees ervare komediante is – hy het, byvoorbeeld, sy wegholtreffer Defending the Caveman reeds 963 keer oor ’n tydperk van agt jaar aangebied – sê hy aanlyn vertonings is vir hom geheel en al ’n nuutjie en daarom knaag sy senuwees ’n bietjie.

“Ek was nogal nuuskierig oor die medium,” sê hy.

“Ek het ander komediante se staat-van-inperking-vertonings (aanlyn) gekyk en ek wou ook die ervaring hê om voor ’n virtuele gehoor op te tree – veral met my styl van komedie wat staatmaak op interaksie met die gehoor.

“Ja, ek is ’n bietjie senuagtig, maar ook opgewonde om aanlyn vertonings te ontsyfer. Ek het Woensdagaand ’n vertoning vir ’n groot skoolfunksie aangebied in dieselfde studio as Saterdagaand se vertoning – en dít het reeds baie van my vrae en gedagtes (oor aanlyn vertonings) beantwoord.”

Hoewel hy heelwat grappe oor die staat van inperking in die vertoning gaan inwerk, het die pandemie in werklikheid ook ’n enorme uitwerking op sy skedule gehad, wat g’n grap is nie.

“Ons kon nie die Johannesburg-speelvak van 10 weke van (die musiekspel) The Producers doen nie. Ons hoop om dit steeds vroeg volgende jaar aan te bied.

“My vertoning by die Jive Cape Town Funny Festival is gekanselleer, ook ’n paar korporatiewe gigs en konferensies. Ek was veronderstel om volgende week by ’n weeklange konferensie in Praag (in Tsjeggië) te wees.

“Ek hoop om nog in Desember en Januarie my jaarlikse eenmanvertoning te doen.”

Ons moet weer ’n sterk gevoel van gemeenskap ervaar – en komedie en ’n gelag is ons gereedskap om dit te doen, so laat daar ’n gegiggel en ’n gebulderlag wees!
Alan Committie, komediant

Committie sê hy hou egter steeds die blink kant bo en meen dit is belangrik dat Suid-Afrikaners se lagspiere nou gekielie word.

“ ’n Geskater is in dié vreemde en onsekere tyd ’n ondervinding wat mense wat van die samelewing en mekaar afgesonder is, kan verenig.

“Die digitale medium is natuurlik nie ideaal vir regstreekse komedie nie, maar dit is ’n plekhouer totdat alles weer na normaal terugkeer.

“Ons moet weer ’n sterk gevoel van gemeenskap ervaar – en komedie en ’n gelag is ons gereedskap om dit te doen, so laat daar ’n gegiggel en ’n gebulderlag wees!”

  • Committie se eerste aanlyn skerpskertsvertoning, No Contact Comedy, vind op 16 Mei om 20:15 plaas. ’n Kaartjie kos R60 en kan by Quicket bespreek word. Almal wat ’n kaartjie koop sal per e-pos ’n webskakel kry waarop hulle moet klik om die vertoning te kyk. Die vertoning, wat sowat ’n uur duur, sal daarna vir nog 24 uur aanlyn beskikbaar wees.
Meer oor:  Komedie  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.