Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Committie heropen Theatre on the Bay ná stilte

Die komediant en akteur Alan Committie gaan met ’n skerpskertsvertoning oor die Covid-19-pandemie en die staat van inperking nuwe lewe in Theatre on the Bay in Kaapstad blaas.

Alan Committie Foto: Jesse Kramer

Alan Committie’s Apocalaughs Now! gaan die teater amptelik weer heropen nadat hy sy deure weens die pandemie moes sluit.

Committie, wie se loopbaan ook weens die pandemie tot stilstand geruk is, sê hy het die inperking in Kaapstad deurgebring, waar hy stuk vir stuk sy laaste skerpskertsvertoning van die jaar aanmekaargeslaan het.

“Ek het goeie, mal, produktiewe, donker, peinsende en introspektiewe dae agter die rug – soms alles op dieselfde dag!” sê hy.

“Ek het bietjie geskryf, baie TV en flieks gekyk waarby ek nog altyd wou uitkom, en het selfs my hand aan speletjies gewaag. Ek het besef hoekom dit my so lank gevat het om dit nou eers te doen – ek gaan beslis nie my geld op ’n PS5 mors nie!”

Dié, in sy eie woorde, “korona-wipwarit” was die aansporing vir Apocalaughs Now!, sy soveelste skerpskertsvertoning wat hy oudergewoonte weer voor die einde van die jaar aanbied.

Hoewel die pandemie die jaar op sy kop gekeer het, sê hy dit was moeiliker as normaalweg om te besluit waarop hy die vertoning moet fokus.

“Ek moes omtrent kopkrap oor hoe presies ek hierdie gesamentlike ervaring (die pandemie) sou benader sodat dit komies steeds verteerbaar, effens ongemaklik, eienaardig en selfs onverwags sal wees – ook met oënskynlike grappe wat ons elke dan en wan nodig het.”

Ons word finansieel beperk deur die tipe vertonings wat ons mag aanbied, maar dit alles sal verander – en daarna wéér verander. Ons kan daarvan vir seker wees.
Alan Committie

Dit het hom geensins gepla om dié vertoning by die huis te skep nie, omdat hy jare reeds daar baie produktief is.

“Ek is al vir byna 20 jaar ’n vryskut wat van die huis af werk. Dissipline, deurdagte intensiteit en ’n gereelde uittog na ’n koffiewinkel vir tyd ‘weg’ van werk af, het my gehelp om baie produktief by die huis te wees.”

Committie het egter nie net by die huis rondgelê nie – hy het ook twee aanlyn vertonings aangebied, wat hy as uiteenlopende ervarings beskryf.

“Die eerste een, No Contact Comedy, is slegs voor een kameraman en een kamera opgevoer. Ek moes hard werk, hard konsentreer, en hoop dat daar êrens daarbuite ’n skaterlag is.

“Die tweede vertoning, Streaming With Laughter, was ’n hibriede ervaring: ’n Opvoering voor 35 mense in ’n ateljee wat ook vir duisende mense dwarsoor die land gestroom is. Dit was ’n baie meer bevredigende ervaring. Die energie en skaterlag in die vertrek het bygedra tot ’n beter ervaring vir die digitale kyker – ook vir hierdie mal komediant.”

Benewens Apocalaughs Now! beplan Committie om aan die begin van volgende jaar ’n paar “kleiner toneelstukke” aan te pak. Hy sê die Johannesburgse speelvak van die bonsai-weergawe van die musiekspel The Producers, waarin hy die hoofrol vertolk en wat weens die pandemie vroeër vanjaar geskrap is, sal eers terugkeer wanneer teaters weer stampvol mag wees.

“Ons word finansieel beperk deur die tipe vertonings wat ons mag aanbied, maar dit alles sal verander – en daarna wéér verander. Ons kan daarvan vir seker wees.”

  • Alan Committie’s Apocalaughs Now! is van 9 Desember tot 16 Januarie in Theatre on the Bay in Kaapstad op die planke. Die vertoning word van Maandae tot Saterdae (16 Desember uitgesluit) om 20:00 aangebied. ’n Kaartjie kos R200 en kan by Computicket bespreek word. Weens Covid-19-maatreëls word kaartjies slegs in pare verkoop. Daar is geen ouderdomsbeperking nie. Die vertoning duur sowat 90 minute; daar is geen pouse nie. Besoek https://www.pietertoerien.co.za/alan-committies-apocalaughs-now/ vir meer inligting.
Meer oor:  Ps5  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Teater  |  Komedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.