Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Creig Coetzee laat jou al rymend lag én mooi luister
Craig Morris vertolk die rol van Johnny Boskak in die drama Johnny Boskak is Feeling Funny.Foto: Suzy Bernstein

Johnny Boskak is Feeling Funny

Die Barney Simon, Markteater

Baie dinge in ou Johnny se lewe rym nie.

Waar hy staan aan die begin van Greig Coetzee se solostuk, geskryf in rym, spreek hy sekerlik tot ’n wyer groep mense, want almal is op pad iewers heen – die vraag bly net: waarheen?

Johnny Boskak is Feeling Funny – dit sê hy self.

Aan die begin is die teks ook funny – jy is dadelik bewus van die rym. Dit word in soveel woorde gesê en dit vestig jou aandag veral op die woordkeuses in die produksie onder regie van Craig Morris en sy vrou, Roslyn Wood-Morris.

Daar is tye dat dit gedwonge voel, maar in dieselfde asem beïndruk dit, word jy eintlik verras deur ’n woord wat tog rym al het jy gedink, nou het hy homself vas.

Die rym laat jou goed luister, wat ’n teaterganger tog behoort te doen, maar meer nog: Dit maak die stuk op ’n verdere vlak taamlik onvoorspelbaar.

Met een sak, sy enigste (sigbare) bagasie, staan hy duim in die lug langs die pad ewe hoopvol op ’n geleentheid. Hy is op soek na bevryding.

Jy het geen idee hoe Johnny (gespeel deur Morris) se pad tot hier gekom het nie. Net so weet jy allermins waarheen Johnny se pad sal lei.

En daar is vele bestemmings, oukei. Hy voel ongemaklik en uit plek uit.

Die bynaam Johnny Boskak is nie al wat hy van die weermag oorgehou het nie.

Craig Morris in Johnny Boskak is Feeling Funny.Foto: Suzy Bernstein

Daar is tye wanneer dinge vir hom uitrafel en synde ’n Naledi-bekroonde grensverskuiwende produksie, rafel hy heel aandoenlik uit.

Aan die begin ryloop hy. Hoewel hy aanvanklik geen bevrediging kry van ’n oophartmotoris nie, begin hy jou mettertyd op sy eie rit neem – en daarmee saam kom die verbeelding.

Dan vertel hy van sy omswerwinge, dinge wat hy ervaar het, mense wat hy teëgekom het – en dit doen hy net so goed, die nabootsing van hierdie mense.

Soms voel dit daar staan ’n ander mens op die verhoog.

Dit is natuurlik lekker vermaaklik om van al hierdie ontmoetings en omstandighede te vertel, maar jy as lid van die gehoor is baie dankbaar jy staan nie in sy skoene nie.

Die donkerte slaan by tye toe en jy is regtig op jou senuwees vir Johnny se onthalwe. Maar weens Johnny se onvoorspelbare aard glo jy tog elke keer hy sal, op sý manier, oukei wees.

Dit is baie beslis ’n vermaaklike tyd in die teater, maar jy moet maar op ’n paar skokke hier en daar voorbereid wees. En hoe Johnny hierop reageer, dra ook tot verbysterende kykstof by.

Dit ís snaaks, hoewel dit nie as ’n komedie beskryf word nie. Die nadraai wat die storie maak, loop immers oor van die erns.

Tot 4 Desember.

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Teater  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.