
Lynita Crofford in die rol van Emily Hobhouse.
Die aktrise en radio-omroeper Lynita Crofford is Vrydag- en Saterdagaand te sien as Emily Hobhouse in die bekroonde eenvroustuk An Audience with Emily Hobhouse.
Dit word in die Royal Arts Town-amfiteater in Riebeeck-Kasteel opgevoer.
Crofford het al ’n Ovation-prys op die nasionale kunstefees in Makhanda gewen vir haar vertolking van die Britse Hobhouse wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) die lot van vroue en kinders in die konsentrasiekampe onder haar landgenote se aandag gebring het.
In die stuk, geskryf deur Tony Jackman, vertolk sy ook ander rolle, soos dié van die boervrou tant Alie en van ’n jong Engelse soldaat wat gestuur word om ’n plaashuis af te brand.
As Hobhouse luister ’n mens na hoe sy die saak van die vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog bepleit. Jy kry insig in wat presies sy alles gedoen het om hul omstandighede te verbeter. Die gehoor word ook gekonfronteer met wanopvattings en vrugtelose pogings om hulp te kry. Jy beleef ook hoe sy deur haar landgenote verstoot is.
“Dis interessant hoe baie mense nog vashou aan aandenkings uit konsentrasiekampe of die Anglo-Boereoorlog. Baie mense kom gesels ná die tyd met my en vertel my hulle het nog hierdie poppie of blikkie of iets wat aan ’n familielid behoort het. Dis duidelik dat hierdie oorlog nog nie vergeet is nie,” het Crofford in ’n onderhoud met Mariana Malan vir Netwerk24 gesê.
Die stuk mag na droë geskiedenis klink, maar die menslikheid van dit alles tref jou opnuut, skryf Malan. Dit is geregisseer deur Christopher Weare. Die toneelstuk is nie geskik vir jong kinders nie.
• An Audience with Emily Hobhouse word op 4 Desember om 20:15 opgevoer en op 5 Desember om 20:45. Die vertoning duur 60 minute. Kaartjies kos R100. Die amfiteater is by The Royal Hotel, Hoofweg 33 in Riebeeck-Kasteel. Besoek artstown.co.za om te bespreek. Navrae: 082 851 1262