Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Curro Create-projek gaan voort tydens inperking
Robert Hamblin

“Kansellasie het ’n vloekwoord in die teaterwêreld geword, daarom kan ons nie ook nog ons Curro Create-projek, Curro Arts Superhero (CAS), afstel nie. Nie nadat ons meer as 7 000 inskrywings ontvang het nie,” sê Hennie van Greunen en Pedro Kruger.

Hul maatskappy, Wordsmith’s Theatre Factory, bedryf die projek reeds die afgelope twee jaar.

Die plan wat hulle bedink het om CAS in die inperkingstyd voort te sit, kring nou boonop baie wyer uit. Elkeen van die 12 mentors in die projek is gevra om ’n tutoriaal, ’n soort meesterklas, op YouTube te plaas wat toeganklik is vir almal wat belang stel, nie net vir Curro Create-leerlinge nie.

Dié mentors verteenwoordig die room van die kreatiewe bedryf in Suid-Afrika: Sarah Theron en Kyle Seconna (sang), Melissa van der Spuy (instrumentale musiek), Hannah Borthwick en Mahlatsi Mokgonyana (toneelspel), Trudy Fredericks (beweging/dans), Lientjie Wessels (kuns), Devonecia Swartz (lees en spel), André Terblanché (optrede), Robert Hamblin (fotografie), Neil Sandilands (kortrolprent, musiekvideo’s) en Barbara Loots (sosialemedia-ontwerp).

Sarah Theron

Kreatiwiteit is nie net vir diegene wat graag “perform” nie; dit betrek skeppingskrag in die breedste sin van die woord, sê Kruger.

Om beslag te gee aan die beoordeling van deelnemers se werk, het die mentors die afgelope twee jaar vir agt weke deur Suid-Afrika en Namibië getoer. Elke deelnemer word eers gementor en daarna word sy werk beoordeel.

“Die mentorskap is vir ons die belangrikste; dit is wat ons graag sou wou hê toe ons op skool was,” verduidelik Van Greunen.

Vir die voortsetting van CAS in die inperkingstyd moet, benewens meesterklasse op YouTube, deelnemers se werk opgeneem en vir beoordeling ingestuur word. As leerlinge vrae het, kan hulle dit aan die mentors rig wat dit in ’n opvolg-tutoriaal sal antwoord.”

Van Greunen en Kruger sê hulle glo kreatiwiteit is nou meer nodig as ooit en deur Curro Create word jong mense se kreatiwiteit op talle gebiede en in talle genres ontgin. Danksy aanlyn moontlikhede kan dit selfs in die inperkingstyd voortgesit word, dit terwyl alle kunswedstryde in die land helaas afgestel moes word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.