Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
DA wil oor teaters, museums se lot debatteer

Die DA het ’n kennisgewing vir ’n mosie ingedien om in die parlement 'n debat te voer oor die regering se gebrekkige steun aan onafhanklike teaters, museums en erfenisgebiede sedert die begin van die Covid-19-pandemie.

Veronica van Dyk, DA-LP. Foto: Argief

Veronica van Dyk, DA-LP en partywoordvoerder oor sport, kuns en kultuur, het dié kennisgewing Dinsdag om “verskeie redes” ingedien, onder meer omdat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, “doodstil” is oor die rampspoedige impak van die pandemie op die kunstebedryf – en sy departement wat glo in die 2018-’19- en 2019-’20-boekjaar onderskeidelik R100,7 miljoen en R227,5 miljoen onderbestee het.

“Dié geld kon goed aangewend word om ten minste ons onafhanklike teaters, museums en erfenisgebiede te ondersteun,” sê Van Dyk.

“Die ergste is dat 51% van die (departement se) onreëlmatige besteding weens die Nasionale Kunsteraad (NAC) is en verband hou met die onreëlmatige oordrag van fondse. Hulle (die NAC) is juis een van die entiteite wat die fondse uitdeel – en nie met groot sukses nie, as ’n mens die onlangse sitstaking van 60 dae deur ontevrede kunstenaars in die kunsteraad se kantore in ag neem.”

Van Dyk wil ook in die debat toutrek oor die kunstebedryf wat ongereguleer is; die witskrif oor kuns, kultuur en erfenis wat nie van onafhanklike teaters melding maak nie; kunstenaars wat ontevrede is oor die hoe die regering die krisis hanteer; die regering se gebrek aan kommunikasie met kunstenaars én dat hulle glo die meeste kundiges oor die hoof sien terwyl hulle “selektief” met ander kenners oor die kunstebedryf se lot beraadslaag.

“Die ingesteldheid van die regering teenoor die kreatiewe sektor moet verander,” sê Van Dyk.

“Die regering moet besin daaroor om die bedryf van onafhanklike teaters te reguleer. Die huidige model is nie meer volhoubaar nie. Konsultasie met die werklike bedryfskenners is egter belangrik. Onafhanklike teaters kan moontlik selfs hande vat met bestaande staatsteaters – ’n model waarby albei baat vind uit gedeelde ondervinding en hulpmiddels.”

Teaters wat weens die vlak 1-inperking aan die kortste ent trek, is ook ’n belangrike gesprekspunt, sê sy.

Neem in ag dat onafhanklike teaters reeds in Maart verlede jaar hul deure moes toemaak en nie deur die staat befonds is nie. Van hulle, soos die Fugard-teater in Kaapstad, moes geheel en al hul deure sluit. Ander is oop, maar hulle moet weens die vlak 1-regulasies om 23:00 toemaak, hulle mag net halfvol wees, hul produksiekoste het met 200% gestyg, maar kaartjiepryse bly weens die ekonomiese klimaat presies dieselfde, mense is uit vrees vir hul veiligheid te bang om weer teaters toe te gaan – en steeds moet teatereienaars elektrisiteit en lone betaal. Wat is die gevolg? Afleggings en deure wat heeltemal sluit.

Sy sê sy hoop ook die debat benadruk aan pres. Cyril Ramaphosa, Mthethwa en Jan Alleman die “haglike toestand” waarin kunstenaars in Suid-Afrika hulle tans bevind.

“Daar is báie werksverliese. Kunstenaars verloor hul huise en voertuie, hul kinders word uit die skool gehaal en hulle sit honger op straat.

“Sowat 75% van werknemers in die bedryf is onafhanklike vryskutwerkers of kontrakteurs en kwalifiseer dus nie vir werkloosheidsversekering (UIF) nie. Hulle is die mense wat ook onafhanklike lokale en vervaardigers gebruik – die ruggraat van die bedryf – wat ’n groot rol speel in die skep van werk vir tegnici, skoonmakers, kunstenaars, asook beligting-, admin- en verhoogpersoneel.”

Van Dyk sê sy hoop ’n potensiële debat dwing Mthethwa en sy department om “daadwerklik met oplossings vorendag te kom”.

“Dit gaan moeilik wees om die sektor weer op die been te kry, maar ek glo dit kan gedoen word.”

Sy sê die kennisgewing wat sy ingedien het, sal deur die hoofsweepforum bespreek word, wat alle mosies hanteer wat in die parlement debatteer word. Partye kry om die beurt die geleentheid om hul mosies te debatteer en besluit dan watter mosies hulle wil prioritiseer en uiteindelik in die parlement gaan debatteer.

“Ongelukkig is daar nie ’n tydraamwerk vir wanneer die mosies voorgehou en moontlik vir debattering gekies word nie.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Uif  |  Fugard-Teater  |  Covid  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Da  |  Veronica Van Dyk  |  Teater  |  Nathi Mthethwa  |  Pesp  |  Sitstaking  |  Nac  |  Nasionale Kunsteraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.