Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Daniels leef die lewe in volkleur

As jy die lagkant van die lewe wil beleef, koop die boek Living Coloured (Because Black and White Were Already Taken) of beter nog, gaan kyk die toneelstuk die vakansie in die Baxterteater in Rondebosch, Kaapstad.

Loukmaan Adams regisseur van ‘Living Coloured’.Foto: Netwerk24

Die skrywer Yusuf Daniels (48) is een van daardie mense in wie se geselskap die lewe goudgeel blom. Hy sê hy verkies om positiwiteit te versprei, want wat help dit om in die verlede vas te haak.

Verlede jaar toe sy boek Living Coloured propvol skreeusnaakse stories oor sy grootwordjare op die Kaapse Vlakte verskyn, was hy reeds opgewonde.

“Toe ek hoor die boek word ’n play, het ek nie iets gevoel nie. Maar toe ek dit nou die dag watch, het dit gevoel of ek my en my hele familie op die verhoog sien. My ma en my kinders het saam gaan kyk en hulle was elated.”

“Loukmaan (Adams, regisseur) het ’n stunning spin op my boek gesit. Jy kan die sounds hoor van sekere musiek wat ons met dinge associate. En die actors, hulle is amazing, die gesigte wat hulle trek, is net soos ons dit doen.”

Daniels sê hy kan nie glo wat in twee jaar met hom gebeur het nie.

Die akteurs in ‘Living Coloured’ is van links Alexis Petersen, Anzio September, Crystal Finck, Eldon van der Merwe, Tashreeq de Villiers en Yvan Potts.,Foto’s: Verskaf

“Ek was in Oktober 2018 vir acupuncture en terwyl ek bored daar lê, skryf ek op my cellphone ’n paar crazy stories en post dit op Facebook, stories oor hoe dit was om in die oppressive tyd op die Flats groot te word. Daai tyd met racism, gangsterism en poverty.

“Daar was dinge wat ons sane gehou het en ons gehelp het om van ons situation te vergeet, maar die most important is dat ons as community full-out gelewe het, verby die odds van daardie jare.”

Hy noem homself ’n “accidental author” en sê hy is eintlik ’n storieverteller wat daarvan hou om ’n glimlag op mense se gesigte te sit.

Dit is dié “crazy stories” soos hy wat sy hare in ’n “swirlkous” gesit het om soos Justin Bieber te lyk, tuisgemaakte “sweets, marbles en loekwarte” verkoop het om ’n vinnige “buck” te maak, pak slae gekry het by die “neighbours”, “a‘mal daai dinge” wat ’n Jacana-uitgewer raakgesien het. Dit is gebundel en toe Daniels weer sy oë uitvee, is Living Coloured nommer een by Exclusive Books.

“Die stories het net gevloei, ek het dit nooit eens oorgelees nie.”

Daarna het nog stories begin vloei, dié keer oor die tyd toe hy groter was en onder meer as ’n vlugkelner gewerk het. Dié stories is as Living lekke (from Mitchells Plain to Aeroplane) uitgegee en is net so ’n “hit”.

Daniels vertel van die dag toe hy Living lekke op Stellenbosch bekend gestel het.

Yusuf Daniels (regs), skrywer van ‘Living Coloured’ soos hy nou lyk. Links is die buiteblad van die boek.

“Ek kom die eerste keer by die Woordfees op Stellenbosch. Voor my sit boeremense, a’mal Afrikaanse boeremense en ek dink, ‘hie’ sit ek nou in Afrikaansland.

“Toe ek boeke moes sign, toe is daa’ die langste line van mense wat ek nog ooit gehad het. En daa’ wen ek ook die prys vir die beste verkope van ’n non-fiction boek.”

Boek drie, wat nou in wording is, vertel van Daniels se “drie dragons. Ek is mos nou ’n pa, daarom switch ek na my kinders.”

Daniels sê hy kry elke dag tot tien telefoonoproepe van mense uit hul gemeenskap wat sy hulp vra. Omdat hy onmoontlik persoonlik by elkeen kan uitkom, maak hy een dag ’n week sy Facebookblad oop waar almal hul ondernemings kan adverteer.

Hy deins egter nie terug vir gemeenskapsprojekte nie en is by verskeie betrokke.

Daniels kén die Flats se inwoners. As kind het hy ook nie die bendes vrygespring nie, maar was gelukkig om danksy sy sporttalent uit daardie kloue te ontsnap.

Hy het agtergekom hy is goed met bofbal en het so uitgestyg dat hy vir die nasionale span gespeel het waarmee hy Kuba en Harare toe is.

Skryf was nie iets wat hy ooit gedink het hy eendag sal doen nie. Nie op skool nie en ook nie daarna nie.

Storie vertel is sy ding. En om “ ’n difference in mense se lewe te maak. Al maak ek net ’n klein difference in een mens se lewe sal ek satisfied wees.”

Intussen stroom uitnodigings in van Namibië, Australië, Kanada, Brittanje om die Living Coloured-vertoning soontoe te neem. En dit het nog nie eens in Kaapstad geopen nie.

Verhoogstuk

Die akteurs wat Yusuf Daniels se belewenisse in die 1970’s op die Kaapse Vlakte terugroep, is Tashreeq de Villiers, Alexis Petersen, Eldon van der Merwe, Anzio September, Crystal Finck en die musikant Yvan Potts.

Al ses was te sien in David Kramer se Danger in the Dark.

De Villiers, September en Finck het ook gespeel in Marc Lottering se trefferproduksies Aunty Merle, The Musical en Aunty Merle, it’s a Girl.

Daniel Mpilo Richards het Yusuf Daniels se stories vir die verhoog aangepas, Patrick Curtis het die stel ontwerp en Marisa Steenkamp die kostuums. Loukmaan Adams maak met dié stuk sy debuut as alleen-regisseur.

• Living Coloured: 8 Desember tot 9 Januarie om 19:30 en Saterdae ook om 14:30 in die Baxter op die planke.

Kaartjiepryse wissel van R125 tot R225 by Webtickets by 086 111 0005, www.webtickets.co.za of Pick n Pay.

Groepbesprekings en geldinsameling: kontak Carmen Kearns by 021 680 3993 of carmen.kearns@uct.ac.za.

Alle Covid-19-regulasies geld.

Meer oor:  Yusuf Daniels  |  Baxterteater  |  Living Colourd  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.