Sy het die eerste suiwer sjampanje vervaardig, maar min mense weet vandag van die Franse weduwee Barbe-Nicole Clicquot.
Tog drink mense maar te graag aan dit wat sy geskep het.
“En eintlik wou sy die graagste erkenning vir haar werk kry,” sê die aktrise Lizz Meiring, wat haar in die solostuk, Die weduwee se sjampanje, vertolk.

Lizz Meiring as die weduwee Clicquot in die solostuk “Die weduwee se sjampanje”. Foto: Joe Strydom
Dit word Sondag in die Atterburyteater in Pretoria aangebied.
“Sy is ’n absolute simbool van iemand wat ondanks alles geleef en gedy het. Ek is mal oor sulke stories.”
Meiring gebruik die ware gegewe en voeg ’n fiktiewe element daarby.
Clicquot, wat in 1866 dood is, daag in die gedaante van ’n spook op by die plek wat sy as ’n museum nagelaat het.
“Nou is dit ’n onderneming en vervalle, en sy is kwaad daaroor.”
Clicquot het op 27 ’n weduwee geword. Dit is onseker hoe haar man dood is. Dit word toegeskryf aan tifuskoors (ingewandskoors), maar daar is ook sprake van selfdood.
Sy het die onderneming oorgeneem en die sjampanje vervaardig wat vandag as Veuve (Frans vir “weduwee”) Clicquot bekend staan.
“Sy wou ’n nalatenskap hê, maar sy word nie juis erken nie. Sy is fassinerend. Ek dink sy was soos P.G. du Plessis in Siener in die suburbs geskryf het: Sy wou van geweet wees.”
Meiring het ses jaar lank navorsing oor Clicquot gedoen en ’n biografie oor haar gelees.

“Die weduwee se sjampanje” is Sondag in die Atterburyteater op die planke. Foto: Joe Strydom
Sy is in 1777 in Reims, Frankryk, gebore. Sy het welgesteld grootgeword. So ook haar man. Hul huwelik is deur hul families gereël, maar hulle het mekaar van kleins af geken.
Sy was ’n toegewyde ma, maar in wese was sy ’n beroepsvrou.
“Sy het haar sjarme aangedraai om te kry wat sy wou hê,” sê Meiring.
“Nie dat sy mooi was nie . . . So sy moes ’n merkwaardige oorredingsvermoë gehad het. Kyk, sy was prakties en pragmaties. By no means a saint. Ek het gewonder hoe maak ek hierdie vrou sagter? Die ergste wat jy in ’n play kan doen, is om ’n karakter selfbejammerend te maak. Laat die gehoor haar eerder jammer kry. Toe besef ek haar swakpunt: Sy wou nie inpas nie, maar sy wou ook. Sy wou vir haar werk erkenning kry. En almal soek tog eintlik daarna.
“Dit is die storie van enigiemand wat hul lewe aan iets gewy het en trots is daarop, maar tog eendag wonder: Was dit alles die moeite werd?”
• Die vertoning begin om 15:00. Kaartjies kos R190.
Bespreek by iTickets. Meiring beplan om dit volgende jaar weer op te voer.