Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Deesdae is elke dag Dinsdag

Die satirikus Pieter-Dirk Uys skryf vir Netwerk24 oor wat dit vir ’n kunstenaar beteken om geen gehoor te hê as al die teaters toe is nie.

Pieter-Dirk Uys is die man by die stopstraat.

Pieter-Dirk Uys ingeperk!

Die meeste van ons wat in die kunste leef en beef is gewoond aan inperkings.

As ons iets skryf, is dit gewoonlik met so min onderbrekings as moontlik. As ons skilder, is die deur gewoonlik toe en soms gesluit. Ons repeteer in ’n kamer met 100% konsentrasie aan ’n toneelstuk, sonder geraas of opwinding van buite.

Ons huidige inperking het net een unieke giftige angel: ’n onsigbare gogga wat doodmaak. Ons is ook soms gewoond aan “sosiale afstand”, behalwe vir daardie heerlike aande van ontspanning ná ’n vertoning. Dan kan ons ten minste aan mekaar raak, omhels, liefdevol streel en onversigtig hoes of nies. Drama, darling, drama!

Ek word gevra: Wat doen ek gedurende Covid-19? Ek sien uit van dag na dag vir baie redes. Om verder vorentoe te dink is om te vra vir moeilikheid. Niemand weet wat in die toekoms kan gebeur nie. Jou verbeelding neem oor en voor jy jouself kan beteuel, het jy jou komende begrafnis soos ’n Wagner-opera uitgewerk.

Ek sien uit na die nuwe dag, want ek steek my tong uit en dis nie koorsagtig nie. Daar’s geen droë hoes nie. My keel is oukei. Dankie tog, vandag gaan ek beslis nie dood nie! Was weer die hande!

En môre? Die hele roetine weer van voor af. Hallo dag, hallo tong, hallo tyd.

Niemand weet wat in die toekoms kan gebeur nie. Jou verbeelding neem oor en voor jy jouself kan beteuel, het jy jou komende begrafnis soos ’n Wagner-opera uitgewerk.
Pieter-Dirk Uys

Dis wat raar is, nuut en onverwags: tyd. Gewoonlik in die normale verlede was daar ook tyd, maar dit was meesal tyd vir ander. Ontmoetings, meetings, besoeke, onderhoude, stiptelikheid, verkeer, beplanning – en jou dag is

vinnig vol. En vir toneelspelers is die aand oop vir ’n wêreld wat betaal.

Die gehoor! Sonder hulle praat jy met jouself.

So, is dit al wat ek doen in die inperking? Ja, ek praat met myself deur hierdie maande van Dinsdae. Elke dag voel soos ’n Dinsdag. Elke week het sewe Dinsdae.

Jy leer om sekere dinge te vermy. Televisie is toksies. Nuus is so skokkend jy huil. Maar jy kan niks daaraan doen nie. Duisende gaan dood. Derduisende is siek. Miljoene gaan sterf. Biljoene wag vir hul beurt.

Maar jou katte moet eet. Die duif is besig op haar nes met twee eiertjies. Die honde wil lag en lek. Die natuur blom soos lanklaas gesien.

En jy besef dit gaan nie net oor jou nie.

Teater sit ook ingehok en afgesonder. Spelers wag met ’n mondvol woorde. Almal is gereed vir werk, lus vir werk, hoop op werk – en werk is net so lus vir ons, maar ons kan nie. Mag nie. Durf nie.

Soos met virtuele omhelsings speel ons nou virtueel op die verhoog van ons verbeelding. Hoekom? Want wat ons doen, is regstreeks. LIVE! Al die ander vermaaklikhede is in blikkies of op band of ’n wolk.

Die ná-korona-wêreld is iets wat niemand kan voorspel nie. ’n Nuwe normaal van maskers en ses-tree-tussen? Van hande was en nooit aanraak, net bang wees vir lug? Môre se vermaakalfabet? Sal teater, soos óns in die teater dit ken en doen en onthou en koester, ooit weer wees soos dit was?

Wie weet. Teater is al 2000 jaar die hartklop van hoop. Daar sal altyd teater wees en nie net altyd in ’n hospitaal nie. Hoop ons sal ook mag saamspeel.

Dus, hou jou potlood skerp, skrywer. Die internet kry ook onsigbare goggas. Werk aan jou monoloog, akteur, want as die klok agtuur slaan, sal dit miskien weer gordyn-op-tyd wees.

Dit gaan alles oor stories. En ons stories van die afgelope paar maande is seker die rykste veld van inspirasie, tragedie, belaglikheid, hoop, vrees en viering ná menigte eeue van daardie selle ou onsigbare dodelike goggas.

Meer oor:  Koronavirus  |  Darling  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Pieter-Dirk Uys  |  Evita Se Perron  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.