Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘DEURnis’ in Kaapstad
Steffie le Roux is te sien in Lyf, oor ’n vrou wat haarself in die gimnasium vind.

’n Avontuurlike, anderste teaterervaring waar die gehoorlid deel word van die aanbieding is van Dinsdagaand in Kaapstad te beleef.

Die grensverskuiwende aanbieding, DEURnis, word van 15 tot 27 Oktober in samewerking met Spier in die geskiedkundige Wrenschhuis in Observatory, Kaapstad, aangebied.

DEURnis is plekspesifiek en speel af in of rondom ’n huis of gebou. Die akteur tree net vir een gehoorlid op – dit is dus baie intieme teater, waar die akteur van aangesig tot aangesig is met die gehoorlid. Kaartjies is dus beperk.

Dit is die geesteskind van Johan van der Merwe wat saam met Rudi Sadler die maatskappy Theatrerocket bedryf. Hul toneelstukke Die reuk van appels enKamphoer het ook groot sukses behaal.

Van der Merwe het oorsee soortgelyke teaterervarings as DEURnis gehad. Hy onthou dat hy eenkeer geblinddoek en in ’n rolstoel gesit is en kon eers daarna hoor waar hy oral was. ’n Vriend het vertel van ’n teaterervaring waar ’n akteur met die gehoorlid in ’n bed klim en ’n storie vertel.

“Ek het navorsing begin doen en só die idee vir DEURnis verder ontwikkel. Elke stuk op ons program is ’n volledige toneelstuk met ’n sterk teks, ’n goeie akteur en ’n regisseur. Dit was vir ons baie belangrik dat dit nie ’n foefie is nie.”

Die titel is ontleen aan die twee woorde deur en deernis – dit beteken dat die gehoorlid net anderkant die deur ’n ervaring kan beleef wat met deernis en gestroopte eerlikheid vertel word, terwyl dit ook emosionele en sosiale vraagstukke uitlig.

Roché van Blerk in Leef.

DEURnis het gou gewild geraak in Suid-Afrika en is verlede jaar bekroon met die kykNET Blou Fiësta-prys vir die innoverende wyse waarop dit gevestigde teaterpraktyk uitdaag. Dit het ook benoemings ontvang op die Aardklop Kunstefees, Vrystaat Kunstefees en US Woordfees.

“Ek dink mense skuil deesdae agter hul selfone en vermy eintlik kontak met ander. Mense praat ook nie meer met mekaar nie. DEURnis verg direkte oogkontak en eis mense se betrokkenheid. Teatergangers beskryf dit as ’n hoogs emosionele ervaring,” vertel Van der Merwe.

Mense kan kies tussen ’n rooi of blou plakker, wat beteken hulle mag aangeraak word of nie.

Kaapse gehore kan nader staan van 15 tot 27 Oktober. Die vertonings word daagliks aangebied om 19:00 en 20:30, en Vrydae, Saterdae en Sondae ook om 17:30.

Mauritz Badenhorst in Lê.

Die produksies word in pakkette verkoop. ’n Kaartjie vir een pakket kos R220 en gee ’n gehoorlid toegang tot drie een-tot-een-toneelstukke wat vooraf saam gegroepeer is. Elke toneelstuk is sowat 20 minute lank en die ervaring duur ongeveer 90 minute, met kort pouses tussen elke optrede. Gehoorlede moet 16 en ouer wees.

Pakket 1: Bestaan uit die stukke Skyn, Leef en Stom.

Skyn met Tiaan Nortjé handel oor die strewe na balans in die lewe. Leef met Roché van Blerk handel oor ’n vrou wat kanker het en haar lewe in oënskou neem en Stom handel oor stilte wat die enigste vorm is van praat as al die woorde in die wêreld verdwyn. Jaques van Jaarsveld is daarin.

Pakket 2: Bestaan uit Lyf, Seuntjie en . Lyf met Steffie le Roux handel oor ’n vrou wat haar lyf in die gimnasium verloor, maar haarself vind, Seuntjie met Ben Pienaar omvat geloof, seksualiteit en identiteit, en oor ’n hegte vriendskap wat dalk meer as dit is. Mauritz Badenhorst is daarin te sien.

Die skrywers aan vanjaar se tekste is Cecilia du Toit, Johann Smith, Jaques van Jaarsveld, Toni Morkel, Braam van der Vyver, Du Toit Albertse en Henque Heymans.

Om kaartjies te bespreek, besoek www.deurnis.co.za of bel Johan by 082 829 6035 of Rudi by 082 464 2113.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.