Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Diane Wilson (80) dankbaar vir lang lewe met teater

Die aktrise Diane Wilson het op 20 Februarie 80 jaar oud geword. Sy bring haar dae rustig deur en is dankbaar vir teater, wat sy reeds op skool ontdek het, en vir ’n loopbaan waarin sy selde ’n slegte ervaring gehad het. Sy het met AJ Opperman gesels.

Die aktrise Diane Wilson het op 21 Februarie 80 jaar oud geword. Dié foto is ’n dag ná haar verjaardag geneem.

Diane Wilson stap soggens met haar honde en daarna lees sy boeke.

Dit herinner my aan ’n Facebook-inskrywing wat sy ’n paar jaar gelede gemaak het toe sy John Kannemeyer se biografie J.M. Coetzee: A Life in Writing oor dié gevierde skrywer gelees het.

“Ek was mal daaroor. Ek het daarvan gehou dat ek ’n verbintenis met soveel mense het wat in die boek genoem word. En Coetzee is natuurlik ’n briljante skrywer – behalwe dat ek nie veel erg had aan Waiting for the Barbarians nie. My man ook nie.

“Maar ek is mal oor die onbeskoftheid van sy skryfwerk. Hy gee nie om wie hy aanvat of nie. En ek deel daardie sentiment. Dis dalk waarom ek mettertyd die reputasie gekry het dat ek taktloos is . . . Ek bevraagteken dinge my hele lewe lank.

“Met die biografie was dit interessant om te ontdek hoe J.M. Coetzee se loopbaan ontvou het.”

En Wilson, wat deesdae in Kaapstad woon, raak aan die gesels oor hoe haar lewe en loopbaan tot nou verloop het.

Diane Wilson se loopbaan strek oor meer as 70 jaar.

Sy is in 1941 in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal gebore, maar het vroeg reeds in Durban gewoon.

Toe sy gebore is, het haar pa in die Tweede Wêreldoorlog geveg en haar ’n klomp jare nie gesien nie.

Teen die tyd dat die oorlog verby was, het albei haar ouers nuwe lewensmaats ontmoet.

“Ek is Johnson gebore, maar my stiefpa se van was Wilson. Ek het my pa net ’n paar keer in my lewe gesien. Hy het deur middel van die SAUK ’n brief aan my gestuur toe ek in my 30’s was. Ek het twee halfbroers en twee halfsusters leer ken. (Haar ma het ook ’n seun uit haar huwelik met Wilson se stiefpa gehad.)”

Sy was baie lief vir haar Katolieke ma, wat aan haar sy was toe Wilson reeds as kind toneelgespeel het, maar sy wens vandag sy was minder krities teenoor haar ma.

“Ek dink ek moes meer respek betoon het. Hopelik kan ek nog teenoor iemand anders reg optree.”

Diane Wilson in die solostuk ‘Zelda’.

Haar ma het haar van kleins af bygestaan, soos toe sy as skoolkind in Durban in haar onderwyser, die aktrise Joan Brickhill, se produksie van William Shakespeare se toneelstuk A Midsummer Night’s Dream opgetree het.

“Dit is baie waar: ’n Jong toneelspeler het mentors nodig, iemand wat jou leiding kan gee. Ek was baie bevoorreg. Ek kan ’n paar name noem van mense wat ’n deurslaggewende rol in my loopbaan gespeel het.”

Een van hulle is die dramaturg Pieter Fourie, wat nadat hy haar in die toneelstuk Death of a Salesman gesien het, haar die geleentheid gegee het om by die destydse streekraad Kruik aan te sluit nadat Truk haar ná drie jaar die trekpas gegee het omdat sy haar kind, wat siek was, eerste gestel het.

Wilson het twee seuns uit haar huwelik van nege jaar met die veteraan-akteur Gordon Mulholland, wat twee maande duskant 20 jaar ouer as sy was. Mulholland is in 2010 oorlede.

“Ek dink die ouderdomsverskil was net te groot. Veral as jy in jou 20’s is en jou maat is in sy 40’s. Ons was uiteindelik vriende. Hy was ook gaande oor my tweede man, Alistair.”

Hulle was van 1963 tot 1972 getroud, en Wilson is sedert 1980 met Alistair Yuill getroud.

“Kyk, die geld was nie volop nie, maar met die streekrade het jy ’n behuisingsubsidie gekry. Pensioen en medies is voorsien. In my geval was ek gelukkig dat ek ’n man gehad het wat my kon help.”

Jy moet tough wees. Die bedryf is moeilik. Almal gaan nie van jou hou nie. Elke resensie gaan nie positief wees nie.
Diane Wilson

Die ervaring om deel van ’n geselskap te wees, het haar eindelose vreugde gegee.

“En ek het nie jaloesie of mededingendheid van enigiemand ervaar nie. Mense het saamgewerk en was lief vir mekaar.”

Wilson stel dit egter duidelik dat ’n mens in die toneelwêreld nie fyn van nerf moet wees nie.

“Jy moet tough wees. Die bedryf is moeilik. Almal gaan nie van jou hou nie. Elke resensie gaan nie positief wees nie.”

Wilson het later in haar loopbaan gewonder of sy nie moet uittree nie.

“Ek het gedink aan ’n vriend van my wat in ’n toneelstuk opgetree het in ’n rol waarvoor hy beslis nie geskik was nie. Ek wil nie in so iets beland nie. Ek het probeer jok om sy gevoelens te spaar, maar hy kon deur my sien.”

Toe kry sy in haar 70’s die geleentheid om in Paul C. Venter se dramareeks Vlug na Egipte te verskyn.

Diane Wilson en Brian Brooke in ‘Reluctant Debutante’ wat in 1956 in die Hofmeyr-teater in Kaapstad op die planke was.
Diane Wilson en die Britse akteur James Bolam in 1970 in ‘So What About Love’ in Johannesburg.

“Dit het ’n aanloop gehad. Vanessa Cooke sou aanvanklik die rol vertolk, maar sy kry toe ’n ander geleentheid. Ek het in daardie stadium in die toneelstuk Mary and the Conqueror opgetree. (Die dramaturg en teaterresensent) Wim Vorster en Stark Films, wat Vlug na Egipte vervaardig het, se rolverdelingsagent het na die stuk kom kyk. Ek het vir hulle gesê my Afrikaans is bitter swak, maar die span wou ’n Engelse aktrise hê.”

Sy het die oudisie afgelê en die rol gekry.

Venter het ook die groen lig gegee. Wilson het voorheen in sy reeks Arende verskyn.

“En darling, ek het my gat af geleer aan daardie dialoog. Ek het my vriendin (die aktrise) Mary Dreyer betaal om my te help met die teks.”

Sy het selde ’n slegte ervaring gehad.

Benewens die verhoog het sy baie televisie- en radiowerk gedoen, ook vir die BBC in Engeland.

Sy het in toneelstukke soos Conversations with Virginia Woolf, Gertrude Stein and A Companion en meer onlangs die musiekspel Funny Girl opgetree.

Die opwinding was groot wanneer sy navorsing gedoen het om iemand te vertolk wat werklik bestaan het.

“Dit was vir my belangrik om ook die aksente reg te kry.”

Sy het ook die rol van die Amerikaanse skrywer F. Scott Fitzgerald se vrou, Zelda, in die gelyknamige solostuk vertolk.

Wilson het die teks van Conversations with Virginia Woolf ontwikkel – met die hand geskryf, want sy kon destyds nie tik nie.

“Ek wou iets met literêre waarde skep. Ek het my gunsteling-uittreksels uit haar briewe en dagboeke geneem en iets probeer skep. Ek het ’n afspraak met Roy Sergeant (nóg ’n mentor) gemaak om dit aan hom te wys. (Sy wou dit weens haar slordige handskrif nie aan hom stuur nie.)

Hy het baie daarvan gehou en Fiona Coyne, aktrise en aanbieder van die Suid-Afrikaanse weergawe van die speletjiesprogram The Weakest Link, wat in 2010 dood is, het dit vir haar getik.

Diane Wilson vroeër in haar loopbaan.

Sy het lank met dié stuk getoer – ook in die VSA.

“Ek het in trane uitgebars toe ek by Virginia Woolf se huis in Engeland instap. Ek het ’n obsessie met die kleur groen. Alles in my huis is groen. En toe ek in haar huis staan, was alles ook groen.

“Ek het myself deur middel van teater en letterkunde opgevoed.”

Wilson kan haar egter nie voorstel dat sy op 80 ’n groot rol op die verhoog sal vertolk nie.

“Ek is dankbaar vir ’n goeie loopbaan. Ek weet dinge kan ná 80 skeefloop, maar ek is dankbaar vir my gesondheid en ek voel goed.”

Meer oor:  Pieter Fourie  |  Bbc  |  William Shakespeare  |  J.M. Coetzee  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.