Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Die beste akteurs ‘is dié wat kan aanpas’
Shareen Swart Foto: Lisa Hnatowicz

Die aktrise en regisseur Shareen Swart, stigter van die PALI-opleidingsakademie vir akteurs, sê die suksesvolste akteur is die een wat die aanpasbaarste is.

Die norm verander konstant, sê Swart, regisseur van die solostuk Broei, een van die stukke wat in DEURnis se tweede speelvak opgevoer word.

DEURnis is unieke, intieme, een-tot-een-teater wat in ’n huis afspeel.

“Dis ’n stuk waarmee ’n kunstenaar kan identifiseer wat ’n droom of passie het of op een of ander missie in die lewe is. Daar is soveel simboliek in die stuk, ek is totaal verslaaf daaraan.”

Maar Swart sê sy sal nie ’n student van haar in so ’n produksie laat optree nie.

“Jong akteurs sukkel met dié styl. Ek dink dis eintlik meer vir akteurs wat al professioneel is en die vermoë het om op verhoog en in film te speel. Dis ’n styl wat gemeng is. Dit is so ’n ongelooflike nis, dit breek alle grense.”

Maar sy benadruk dit is belangrik vir studente of onervare akteurs om so ’n opvoering as gehoorlid te ervaar. “Die verantwoordelikheid wat jy as akteur het vir die minute wat die toeskouer in jou vertrek is, is so ongelooflik groot. Dit kan nogal intimiderend wees.”

Uit ’n sakeoogpunt glo Swart groot instellings wat kunste ondersteun, moet na vore kom.

Dit verg ook deernis van die akteurs se kant af om so iets te doen. Want op die ou end moet jy in staat wees om jou huur te betaal.
Shareen Swart

DEURnis is sonder winsbejag, maar vir haar is dit ’n ongelooflike projek.

“Dit verg ook deernis van die akteurs se kant af om so iets te doen. Want op die ou end moet jy in staat wees om jou huur te betaal.”

Sy sê teatergehore is soms moeilik om te kry.

Volgens haar is DEURnis nie net vermaak nie, maar ook ’n vorm van terapie.

“Dit bied aan die teaterganger ’n ervaring wat hulle nie sou gehad het as hulle in ’n gehoor was nie. Dit raak jou siel, meer as wat jy ooit met TV of rolprente sal kry. En teater het so iets nodig.”

Te midde van al die goeie goed wat aan die teaterfront gebeur, is meer finansiering nodig, sê Swart.

Dit is vir haar lekker om studente op te lei omdat dit onder meer elke jaar verskillend is. Sy het nou die 13de groep studente by PALI.

“Die dinamika is elke jaar anders. Ek soek die soort akteur wat vinnig kan aanpas. Die soort jong mens wat nou binne daardie hele groot sambreel van toneelspel staan, moet baie vinnig nuwe konsepte kan inneem en doen.”

Swart beskou die spelers wat by haar klas kry nie as studente nie, maar as akteurs wat net leer om goed beter te doen of meer aspekte baas te raak.

“Ek dink in ’n mate is dit hul karakter, uithouvermoë, deursettingsvermoë en geesdrif wat hulle dryf. Dít is die mense wat dit uiteindelik maak in die bedryf. Dis nie noodwendig jou graad of jou diploma wat jou laat slaag nie.”

Meer oor:  Produksie  |  Akteurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.