Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Die Boer-teater ‘blom’ hopelik weer in lente

Die Boer-teater in Durbanville, wat in Januarie sy deure weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie moes sluit, gaan hopelik weer in September herleef.

Lize Beekman is in een van Die Boer se aanlyn vertonings te sien. Foto: Christelle Pretorius

Jurgen Human en Margit Meyer-Rödenbeck, wat die teater in April 2005 geopen het, sê hulle wil nie soos verlede jaar sluit, heropen en weer sluit nie. As hulle weer heropen, wil hulle oop bly.

“Ons is steeds op hierdie stadium toe,” sê Human. “Ons gaan eers kyk wat met Covid gebeur, maar ons is besig om op te gradeer.”

“Ons hersien ’n bietjie ons model,” las Meyer-Rödenbeck by. “Ons het nie ’n kristalbal nie, maar wat ons poog om te doen, is om oop te bly wanneer ons oopmaak. Ons hoop om teen einde Mei of die begin van Junie te weet waarheen Covid beweeg en dan ’n datum te gee wanneer ons oopmaak, maar dit gaan beslis hierdie jaar wees.”

Netwerk24 het in Januarie berig dat Human en Meyer-Rödenbeck die teater vir ’n onbepaalde tyd weens veral die inperkingsmaatreëls moes sluit. Hulle moes al hul werknemers, insluitende hul hele topbestuur, hul sjef, al hul kelners, hul kroegman en hul kombuispersoneel, aflê en moes ontslae raak van al die teater se voorraad.

“Ons gaan waarskynlik ’n fondsinsameling hou om Die Boer weer van voorraad te voorsien, want ons moes alles verkoop en weggee – die plek is dolleeg,” sê Human.

Hulle hou egter die blink kant bo, sê Meyer-Rödenbeck.

“Ons hoop en bid, as alles goed gaan, dat Die Boer hopelik in die lente weer gaan blom.”

Ons hoop en bid, as alles goed gaan, dat Die Boer hopelik in die lente weer gaan blom.
Margit Meyer-Rödenbeck

Die teater sou Dinsdag (20 April) sy 16de bestaansjaar vier. Hoewel dit nou toe is, het Human en Meyer-Rödenbeck besluit om die vieringe aanlyn te skuif en al die aanlyn vertonings wat hulle die afgelope jaar aangebied het, weer uit te reik.

Vertonings met Koos Kombuis, Schalk Joubert, Valiant Swart, Gian Groen, Marion Holm, Sandra Prinsloo, Bottomless Coffee Band, Lize Beekman, Jaconell Mouton en Emma van Heyn is nou weer aanlyn beskikbaar.

“Die fondse wat hiermee ingesamel word, sal gebruik word om die betrokke kunstenaars te help ondersteun, asook ter voorbereiding van Die Boer se heropening,” lui ’n mediaverklaring.

Al die vertonings kan tot 2 Mei om middernag aanlyn gekyk word. Kaartjies kos R50 per vertoning en kan by Webtickets bespreek word.

Hou ’n oog op www.dieboer.com of www.facebook.com/dieboerteater vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.