Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Die ster wie se naam jy moet onthou

Die akteur Earl Gregory het jare lank gedroom om eendag die rol van die fopdosser Lola in die musiekspel 'Kinky Boots' te vertolk. Nou, ná byna vier maande in Lola se spykerhakke, kan hy steeds nie glo die droomrol is syne nie. Hy het met Christiaan Boonzaier gesels oor sy eerste ervaring in hoëhakskoene – en die lig wat die musiekspel in ’n donker wêreld skyn.

Earl Gregory vertolk die rol van die fopdosser Lola in die musiekspel Kinky Boots. Foto: Claude Barnardo

Neffens Suid-Afrika se toonaangewendste teaterverhoë, in klein aantrekhokkies wat tydens die speelvak van produksies vir rolverdelings bespreek word, bring die akteur Earl Gregory soms in sy eie hokkie ’n geelkoperklokkie aan.

Voor elke vertoning lui hy die klokkie toeoog om homself te “sentreer”, die geklingel ’n hoorbare waslap waarmee hy sy rumoerige gedagtegang skoonvee, die jarelange ritueel ’n amperse towerspreuk wat hy benodig om die verhoog met die innerlike ewewig van ’n koorddanser te betree.

“Eintlik kan ek dit nie verduidelik nie,” sê Gregory, verhoognaam van die 35-jarige Earl Jeremy Reeby. “Ek het dit (die klokkie) by ’n Boeddhiste-tempel gekoop toe ek as deel van die rolverdeling van Cats na Asië getoer het. Die klokkie se klank het ’n kalmerende uitwerking op my en ek is mal oor die balans waarmee dit my voor elke vertoning vervul.”

In die Fugard-teater in Kaapstad, waar Gregory hom danksy sy hoofrol in die musiekspel Kinky Boots reeds sedert Junie in sy eie aantrekhokkie ingerig het, is die klinkende klokkie egter skoonveld. Dié keer, sê hy, kon selfs sy betroubare staatmaker nie die kriewels verdryf wat saam met die grootste rol van sy loopbaan kom nie.

“Ek het met hierdie vertoning besef daar is niks wat ek kan doen om myself voor te berei nie. Ek is al 15 jaar akteur en dit is die enigste rol wat my elke oggend ’n bietjie angstig maak.”

Ek is al 15 jaar akteur en dit is die enigste rol wat my elke oggend ’n bietjie angstig maak.
Earl Gregory, akteur

Die angs kry hom nie eintlik onder nie, sê hy. Dit is die brandstof waarmee hy, ’n boorling van Boksburg, twee rolle in die musiekspel woema gee – dié van Simon en die karakter se alter ego, die fopdosser Lola, wat deur ’n wanhopige skoenmaker genader word om ’n stel bejoekse spykerhakke te ontwerp wat sy besigheid van ondergang kan red. Die produksie, wat op die gelyknamige Britse rolprent van 2005 gegrond is, het reeds wyd lof ontvang, ook hier op Netwerk24, waar Gregory as 'n ster bestempel is.

“Ek beleef tans ’n droom wat nie endkry nie. Dié rol is elke swart musiekteaterakteur se droom,” sê hy in ongeloof, so asof hy ná amper vier maande op die verhoog nog nie besef het die rol is reeds sýne nie.

“Ek onthou toe ek Kinky Boots die heel eerste keer gesien het: Dit was in (Suid-)Korea, in Koreaans, en ondanks die taalversperring en sonder dat ek regtig geweet het waaroor dit gaan, het dit net tot my gespreek. Hierdie beeld van my in die rol het net by my opgekom – en toe ek hoor hulle (die Fugard) gaan dit aanpak, moes ek net ’n oudisie doen. Ek is so ongelooflik dankbaar hulle het my eindelik met die rol toevertrou.”

Earl Gregory. Foto: ST Pretorius

Om in ’n fopdosser se skoene te klim

Sy eerste groot hekkie ter voorbereiding vir die droomrol was om in sy karakter se skoene te klim – letterlik. Dit was tot dusver in sy loopbaan – wat rolle in Hairspray, Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat en ’n rolletjie as Patrick in 7de Laan insluit – nog nie nodig om spykerhakke te dra nie, om nie eens te praat van daarin sing en dans nie.

“Ek was nog besig met (die musiekspel) Into the Woods toe ons vir die rol begin voorberei. Ek het sommer by Mr. Price vir my ’n paar baie goedkoop hoëhakskoene gekoop en elke dag vir sowat 30 minute daarin geoefen.”

Ook in die openbaar? “Nee, nee, ek wou in die gemak van my eie huis plat op my gesig val,” sê hy laggend. “Vroue het ’n baie spesifieke manier van loop, verskillend van mans, en ek wou dit vervolmaak.”

Daai paar skoene, ’n grootte 8, is lank reeds te pletter getrap. Nou dra hy in die vertoning die ontwerper Birrie le Roux se skitterskeppings, wat danksy gebed nog nie meegegee het nie.

“Ek dink veral mans onderskat hoe so ’n paar skoene ’n mens kan laat voel. As ek my eerste paar hakke vir die vertoning aantrek, voel ek hoe Earl die kamer verlaat en Lola intree.”

Hy vervel byna, sê hy. Met die aantrek van die eerste hoëhakskoen, verdwyn die teruggetrokke en misterieuse man wat as seun gedroom het van akteurwees en later musiekteater aan die destydse Pretoria Technikon sou studeer. Met die tweede, het die sexy, wilde, wulpse en selfversekerde Lola hom reeds soos een van haar oorgroot pelsjasse omvou.

Ek het sommer by Mr. Price vir my ’n paar baie goedkoop hoëhakskoene gekoop en elke dag vir sowat 30 minute daarin geoefen.
Earl Gregory, akteur

“Dis ’n ongelooflike gevoel – die gedaanteverwisseling. Mense vra heeltyd of ek al voorheen fopdosser was en die antwoord is nee – ek is net ’n akteur wat ’n karakter vertolk.

“Ek besef wel nou wat dit behels om ’n fopdosser te wees en hoe duur dit is! Ek verbruik so baie grimering en die grimeerproses neem tyd – 80 minute per dag. En om dan in die grimering, die kostuums en die hakke te dans . . . Ek kry partykeer beenspasmas op die verhoog, wat die gehoor natuurlik nie weet nie. Dis ’n baie veeleisende rol.”

Om sewe keer ’n week om 15:00 in Lola se skoene te klim en haar rondom 22:30 by die werk te los, is ook nie maklik nie, sê Gregory. Die energie wat gehore hulle gee, skud hy ook nie saans vinnig af nie. ’n Koppie rooibostee rondom middernag help, ook ’n meditasievideo of twee op YouTube, maar eintlik gaan hy elke aand bed toe met ’n “buzzy high waarvoor daar geen ‘geneesmiddel’ is nie en wat ek eintlik ook glad nie wegwens nie”, sê hy.

Earl Gregory as Lola saam met die res van die rolv
Earl Gregory as Lola saam met die res van die rolverdeling in 'Kinky Boots'. Foto: Jesse Kramer

‘Dit maak my woedend’

Onder die oppervlak van al die jolyt wat Kinky Boots bied, lê onderwerpe waarmee nie veel gekonfronteer wil word nie: homofobie, die skending van gay- en transgenderregte, rassisme en haat.

“Elke dag word iemand in die LGBTQIAAP-gemeenskap uit die kerk verdryf, deur hul regerings verstoot, en word hulle vermoor omdat hulle dit durf waag om hulleself te wees. Dit maak my woedend,” sê Gregory.

“Ek is ’n gay man en baie trots daarop. Ek het ’n familie wat my ondersteun. Maar ek moet steeds daagliks oordeel verduur. Ek moet konstant op my hoede wees, veral buite veilige hawens soos teaters of die kunswêreld, en dít in ’n land waar ons beter af is as lande soos Uganda, waar gay mans lewenslank tronk toe kan gaan, of die VSA, waar Trump transgenderregte vermorsel; daarom is die storie wat Kinky Boots vertel so belangrik. Daar is geen beter tyd as nou om gehore aan die gay gemeenskap se donker wêreld te herinner nie.

“Wat dit (Kinky Boots) so toeganklik maak, is die fopdoskultuur waarmee dit gehore lok. Wanneer hulle ingekatrol is, ontbloot dit eintlik die mense – doodgewone mense! – onder die grimering en pruike. Dit illustreer hoe mense van uiteenlopende wêrelde en met uiteenlopende sienings oor die weg kan kom wanneer hul besef dat hulle almal net mense met dieselfde drome en behoeftes is. Dít is eintlik die magic agter die hele vertoning,” sê hy.

Dit is juis dié magic waaraan hy verknog is en waarvan hy hom nie maklik gaan losmaak wanneer die speelvak in Februarie 2020 eindig nie.

“Ek dink nie eintlik daaraan nie.” Hy sug. “Dit gaan definitief moeilik wees. Kinky Boots is ’n loopbaanhoogtepunt. As ek nou op die West End of Broadway was, kon ek nie groter hoogtes bereik nie.

“Ek is ook nou ’n akteur van ’n ‘sekere ouderdom’ – selfs die jongelinge in die Kinky-rolverdeling noem my ‘mother’ – en met werk wat in Suid-Afrika so skaars is, vermoed ek nie ek sal weer so ’n geleentheid (in die kollig) kry nie.

“So ja, dit gaan moeilik wees om Lola te groet. Ek leer verskriklik baie oor myself deur haar, veral dat dit heeltemal oukei is om sonder blik of bloos myself te wees en om nie om te gee wat ander van my dink nie. Ek hoop soortgelyke rolle kom oor my opvolgers se pad en laat hulle dieselfde besef.”

  • Die speelvak van Kinky Boots duur tot 2 Februarie 2020 in die Fugard-teater in Kaapstad. Vertonings is van Dinsdae tot Saterdae om 20:00 en op albei naweekdae ook om 15:00. Kaartjiepryse begin by R250. Kaartjiepryse vir ’n spesiale Oujaarsaand-vertoning om 21:30 begin by R470 en sluit twee glase vonkelwyn per kaartjie in. Bespreek by www.thefugard.com of skakel 021 461 4554. Die ouderdomsbeperking is tien.
Meer oor:  Teater  |  Kinky Boots  |  Musiekspel  |  Earl Gregory  |  Fugard-Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.