Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Dié stoute muise nie vir almal vet pret

The Three Blind Mice

Gate69, Kaapstad

***

Rudi Jansen is die muis Boris in The Three Blind Mice.Foto: Pat Bromilow-Downing

Dit verstom my nog soms hoe uiteenlopend teaterervarings kan wees, maar ek vermoed die openbaring is my eie skuld. Een van my grootste teatersondes is dat ek weens blote gerieflikheid in één teaterkring beweeg: ek besoek ’n vaste netwerk van teaters oor en oor – nét dié, geen ander nie.

Dáár loop ek my dan in dieselfde teateretiket vas wat ons almal van kindsbeen af soos die tien gebooie leer: Wees betyds, moenie in die teater eet of drink nie, moenie tydens die vertoning praat nie, sit jou selfoon af en verlaat die teater nét in pouse of ná die produksie.

Só loop die trein.

Met my eerste besoek aan Gate69 in die Kaapse middestad het ek reeds by die voordeur besef ’n teaterervaring lê voor wat . . . wegbreek van die oude doos. Ek is, byvoorbeeld, nog nooit by ’n teater se ingang deur ’n fopdosser ingewag en verwelkom nie. My kaartjie het ook nog nooit ’n welkomdrankie én ’n smorgasbord van die lekkerste vingerhappies wat ek in my lewe geëet het, ingesluit nie – en dan is dit boonop ín die teater voor die verhoog op ronde en langwerpige eetkamertafels bedien! Daarby is die gehoor ook luidkeels betrek by die pantomime The Three Blind Mice, wat tot Desember op die planke is.

Só loop die trein dus ook.

Die bekende kinderrympie is die wegspringplek vir ’n baie stoute vertelling van drie katoolse muise wie se sterte én geslagsdele deur ’n boervrou (vertolk deur Tessa Denton) afgekap word.

Die bekende kinderrympie is die wegspringplek vir ’n baie stoute vertelling van drie katoolse muise wie se sterte én geslagsdele deur ’n boervrou (vertolk deur Tessa Denton) afgekap word.

Die kastrasie omvorm die muise in fopdossers – Jolene (Christopher Dudgeon), Eileen (Brendan van Rhyn) en Boris (Rudi Jansen) – wat wraak op die boervrou wil neem, maar wanneer sy haar kat, Poes (Kyle Jardine), op hul spoor sit, word hul planne in die wiele gery. Die storie word deur Ballas (Luke Jansen) vertel.

Terwyl die intrige afloop, sing elke karakter om die beurt ’n treffer uit die 1980’s en 1990’s, onder meer “Jolene”, “Jump (For My Love)”, “The Loco-motion” en “Never Gonna Give You Up”. Die gehoor word ook aangepor om saam te sing.

Teen R520 ’n kaartjie, wat die drankie en vingerete insluit, verwag ’n mens ’n afgeronde uithaler-produksie met baie vleis om die been: The Three Blind Mice is dít ongelukkig nie. Hier word ’n karige storielyn agter trefferliedjies versteek, en dít terwyl sang definitief nie die hele rolverdeling se forte is nie. Seks- en poepgrappe voer ook hier die botoon in ’n produksie wat voel asof dit net heeltyd wil ontspoor.

Die produksie beloof tog vet pret – en dít sal jy boordensvol kry, veral as jy en jou vriende ’n stoute humorsin het. Dié wat nie sommer litte losmaak nie en ernstige teater verwag, moet egter liefs tuisbly.

Hou ’n oog op die ouderdomsbeperking.

  • The Three Blind Mice word tot 21 Desember by Gate69 op die hoek van Bree- en Houtstraat in die Kaapse middestad aangebied. Vertonings van Woensdae tot Saterdae begin om 20:15, maar teatergangers moet reeds teen 18:45 vir die vingerete aansit. ’n Kaartjie kos tussen R520 en R599, wat ’n welkomdrankie en die vingerete insluit. Bespreek by www.gate69.co.za of skakel 021 035 1627. Die ouderdomsbeperking is 18.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.