SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Teater
Dié teaterman dra baie hoede
Nico Luwes as student in die Kaukasiese Krytsirkel vanBertolt Brecht.

Prof. Nico Luwes tree ná 30 jaar as die hoof van die departement drama en teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat af. Saam met sy bestuurswerk het hy toneelstukke geskryf en geregisseer, studeer, in rade gedien en pryse versamel. Elretha Britz het met hom gesels.

Dit is nie moeilik om Nico Luwes verkeerd te takseer nie. Sy jeugdige voorkoms en energieke stappie laat hom 20 jaar jonger lyk as die inskrywing in sy ID-boekie. Is jy in sy geselskap waar hy die een staaltjie ná die ander teatraal opdis, sal jy hom dalk te lig bevind.

Maar agter daardie nonchalante fasade is ’n man wat die hoede van akteur, regisseur, skrywer, dramaturg, dosent, akademikus, organiseerder dekades lank met groot sukses gedra het, ’n mens wat ewe tuis is tussen die vername lede van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns as tussen grasgroen eerstejaars. ’n Man met die hoogste akademiese graad, maar sy voete stewig op Moeder Aarde.

Ná 45 jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), 30 jaar daarvan as hoof van die departement drama en teaterkuns, sak die gordyn vir prof. Nico Luwes.

Prof. Nico Luwes se tweede tuiste, die Wynand Moutonteater, dramadepartement, Universiteit van die Vrystaat.

Sy aftrede gaan hy egter nie langs die see of in die bosveld verwyl nie. Hy is reeds ingeskryf vir ’n tweede PhD, die keer in kreatiewe skryfkuns, en sal nog drie jaar as navorsingsgenoot dien. Hy sal ook sy oeuvre van sowat 40 toneelstukke verder uitbrei.

Vra jy wat hom van sy jare aan die UV altyd sal bybly, sê hy “die ongelooflike voorreg” om as dramadosent altyd teaters, regisseurs en spelers vir sy talle komedies, klugte en dramas tot sy beskikking te hê. “Verniet!”

Hoogtepunte het te doen met die uitbou van die departement en skep van geleenthede vir studente en dosente: “Die bou van die Scaenateater, die instel van die rolprent- en mediagraad, die vind van geld om toegewyde dosente vir verdere studie oorsee te stuur, nuwe verhoogligte vir die Wynand Moutonteater, die oordoen van die stoele. “Die verbetering van die Wynand is vanjaar my Krismisboks,” sê hy voldaan.

Die skryf van toneelstukke het eers ná 2000 deel van sy lewe geword. “Dit was in die tyd van Kampustoneel toe ons dramamense mekaar uitgedaag het om toneelstukke te skryf sodat ons die lewe se swaarkry kon verdryf,” vertel Luwes. Die gevolg was pryswenner-dramas soos Skroot, Zollie, Lam vir die Pase en Aku vang ’n ster.

Tog is hy meer bekend vir komedies en klugte wat hy min of meer een per jaar gelewer het. Hoekom dan die talle resepmatige komedies as sy beste werk dramas is?

“Omdat die spelers en alle betrokkenes betaal moet word. Komedies trek vol teaters,” sê hy pragmaties.

Ongeag watter genre, dit bly vir Luwes die grootste vreugde om te sien hoe karakters op papier lewe kry op die verhoog – hoe hulle asem haal, praat, voel, emosies toon.

“Dis soos om ’n kar te ontwerp, dis prentjies op papier – en dan ry hy. Net so lekker is dit om studente te hê vir wie ek stukke kon skryf.”

Van die bekendes wat hul spel aan Kovsies se dramadepartement geslyp het, is Elize Cawood, Eon de Vos, Hannes van Wyk, Amanda Strydom, Therese Benade, Carel Nel, Wilhelm van der Walt, Heidi Mollentze, Martyn le Roux, Ilne Fourie – so baie hy kan nie almal onthou nie.

Prof. Nico Luwes

Hy is besonder trots op dié wat departementshoofde aan ander universiteite geword het – Geoffrey Hyland by die Universiteit van Kaapstad, Petrus du Preez by die Universiteit Stellenbosch en Heike Ghering by Rhodes.

Luwes beweeg egter gou van die ernstige na die prettige.

“Ek het 18 jaar lank ’n rubriek in die alumni-tydskrif Die Bult geskryf, onder ’n skuilnaam sodat ek die skinderstories kon vertel. Wie vermoedelik sy vrou of man verkul, die belaglike planne wat mense in kantore uitdink, kom iemand nuut, word die wiel herontdek. Ek kon mense opstuur en niemand het ooit geweet wie die skrywer is nie.”

Poetse op die verhoog is natuurlik volop. “In People Are Living There moes ek elke aand ’n koek opeet en elke keer koop die verhoogbestuurder die grootste moontlike koek. Ek eet nou nog nie koek nie.”

“In A Funny Thing Happened on the Way to the Forum moes ek ’n vergeelde onderbroek dra wat ek met tee gekleur het. Elke dag bleik die huishulp dit, elke aand kleur ek dit weer en ry dan teater toe met ’n nat onderbroek wat by die venster uit wapper. Party aande was die onderbroek droog, party aande nog nat wanneer ek op die verhoog gestap het.”

Om op ’n laaste aand peper op jou brood te kry of op ’n duimdrukker te sit, deure wat vashaak of ’n loskruitpatroon uit ’n rewolwer wat ’n aktrise se rok letterlik aan die brand laat slaan of Dawid Minnaar se swaard wat breek en tussen twee tantes se sitplek vasslaan, is maar enkele onthoubare momente op die verhoog.

Luwes is versot op Tsjekof se dramas waarvan hy al verskeie opgevoer het. Hy het ook onbekende kortverhale en eenbedrywe van dié Russiese dramaturg vir die teater vertaal, verwerk en opgevoer. Hy bring juis volgende jaar ’n bonanza van vier nuwes na die Vrystaat Kunstefees met nasionale spelers soos Esther von Waltzleben, Wilhelm van der Walt en Johann Nel.

Luwes sê sy nommer een-raad aan dramastudente is om ’n nagraadse onderwyskursus te doen, want nie almal se akteurdrome word bewaarheid nie. “Sewentig persent van ons studente gee onderwys. Die ander wat nie die verhoog of TV haal nie, werk in die vermaakbedryf in die breë, heelparty is oorsee en die ander is so goed geskool in interpersoonlike optrede en selfvertroue dat hulle in enige werk sukses behaal.”

Vroeë jare

Nico Luwes het op Jacobsdal grootgeword met ’n pa as die hoërskool se onderhoof en ’n onderwyser-ma. Kultuur het ’n groot rol op die dorp gespeel en elke jaar is ’n musiekspel of toneelstuk opgevoer. Luwes het selfs daar vioollesse geneem.

Ná matriek en diensplig wou hy hom egter vir regte by Kovsies inskryf, maar sy bedenkinge oor Latyn was die dramadepartement se wins.

“Die ding het my gou betower. Ek het gedink ek gaan net speel, toe kom ek agter dis harde werk, maar lekker werk.”

“Die ding het my gou betower. Ek het gedink ek gaan net speel, toe kom ek agter dis harde werk, maar lekker werk.”

Luwes is getroud met Alet en hulle het drie kinders en vier kleinkinders. Hul seun, dr. Nicolaas Luwes, is ’n ingenieur en senior dosent aan die Sentrale Universiteit van die Vrystaat, Carmen ’n entomoloog en Michelle, die enigste wat in Luwes se spore gevolg het, is ’n eiendomsagent en vryskut-aktrise.

Loopbaan en prestasies

Nico Luwes het in 1974 met ’n BA (drama en teaterkuns) aan Kovsies begin en was daarna net drie jaar nie op die kampus nie, eers as lid van Sukovs se toneelgeselskap in 1977 en 1978 en as lektor aan die Kroonstadse Tegniese Kollege in 1979.

In 1980 het hy as junior lektor by Kovsies ingeval en in 1990 is hy tot dramahoof bevorder, die pos waarin hy nou aftree.

In 2012 verwerf hy ’n PhD en ontvang die D.F. Malan-prys vir die beste nagraadse tesis.

Hy is voorsitter van die kunskommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, ’n bestuurskomiteelid van die Vrystaat Kunstefees, lid van verskeie panele vir die keuring van nuwe dramas en 15 jaar lank die onderwysdepartement se moderator vir dramatiese kunste.

In die onlangse jare het hy meer as R8 miljoen gewerf vir studentebeurse en nuwe produksies.

In die onlangse jare het hy meer as R8 miljoen gewerf vir studentebeurse en nuwe produksies.

Sy meer as 40 toneelstukke is in teaters en op feeste oor die land heen opgevoer en ’n Russiese vertaling van sy komedie Die buite-egtelike ouma in Pavlodar, Kazakstan. Luwes was self daar en het die uitdaging aanvaar om Romeo en Juliet te regisseer – in Russies.

In Suid-Afrika het hy meer as 100 produksies geregisseer en talle pryse gewen, onder meer ’n Vita as beste dramaturg, Sanlamprys vir Zollie as beste drama, beste regie vir Lewensreg, beste Vrystaatse Kunstefeesproduksies vir Renosters, Tsjekof-triptiek en Suiker, Piers Nicholson vir sy bydrae tot teater in die Vrystaat en hy was die Vrystaat Kunstefees se Kunstenaar van die jaar in 2004.

Meer oor:  Nico Luwes  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.