Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Die tragiese kant van Dimitri Tsafendas
Dimitri Tsafendas

Die tragiese sy van Dimitri Tsafendas, die Grieks-Mosambiekse bode wat die voormalige eerste minister dr. Hendrik Verwoerd in 1966 vermoor het, word veel meer verken in die toneelstuk Strange Lands, as om ’n debat oor sy geestelike welstand te ontketen.

“Ek dink nie iemand sal baat by ’n debat oor of hy geestelik versteurd was nie,” sê skrywer, dramaturg en akademikus Anton Krueger oor sy toneelstuk wat op 24 Mei in die Barney Simon-teater in die Markteater in Newtown, Johannesburg, begin.

Die stuk vra onder meer: Was Tsafendas ’n verwarde eenkantmens, of ’n dapper vryheidsvegter? Of was hy ’n normale man wat in ’n vreemde land gewoon het?

Tsafendas was ’n bode by die parlement in Kaapstad toe hy Verwoerd, wat as die “argitek van apartheid” beskou word, met ’n dolk doodgesteek het.

Krueger het sy stuk Living in Strange Lands afgestof en verwerk.

“Dit is as gevolg van Harris Dousemetzis se biografie The Man Who Killed Apartheid: The Life of Dimitri Tsafendas, wat intussen verskyn het. Die vorige toneelstuk is ongeveer 20 jaar gelede geskryf. Met sy bystand het ons dit nou met nuwe inligting bygewerk. Daar is ook nou ’n ander regisseur, so dit is ’n nuwe stuk, met so 50% tot 70% van die teks wat nuut is.”

Jade Bowers, voorheen ’n Standard Bank Jong Kunstenaar, is die regisseur en die akteur Renos Nicos Spanoudes vertolk die rol van Tsafendas.

Dimitri Tsafendas
Renos Nicos Spanoudes vertolk die rol van Dimitri Tsafendas in Strange Lands.

Die grootste verskil in die verwerkte teks is dat dit nou onbetwisbaar is dat Tsafendas sterk polities gemotiveerd was.

“Tsafendas het Verwoerd as ‘n tiran en onderdrukker beskou," sê Krueger, "en hy het homself aan die kant van die onderdruktes gesien. Die daad het nie sommer net gebeur nie. Dit het die regering destyds gepas om hierdie motivering die nek in te slaan, om die beeld te handhaaf dat Verwoerd geliefd en gerespekteerd was en hom as ‘n rasionele, redelike, vaderlike figuur te kanoniseer.”

Hoewel Krueger nie saamstem met die titel van Dousemetzis se biografie nie, beskou hy dit as ’n merkwaardige dokument van navorsing.

“Die debat wat ek met Harris voer, gaan oor sy geestesgesondheid. Harris glo dat hy niks makeer het nie. Ek is nie ’n sielkundige nie, maar ek glo aan die tydelike aard van dinge. ’n Episode wat deur iets geprikkel word. Ek gaan egter nie daarop in oor of hy mal was of nie.

“Vir my is hy grotendeels ’n tragiese figuur. Hy het baie lyding ervaar, hy is as gevangene gemartel, hy is ook geïsoleer.”

Tsafendas, wat in Maputo, Mosambiek, gebore is, is in 1999 in Krugersdorp dood.

Dimitri Tsafendas
Renos Nicos Spanoudes as Dimitri Tsafendas wat die voormalige eerste minister dr. Hendrik Verwoerd in 1966 vermoor het.

“Aan die een kant dink ek nie Tsafendas was uit voeling met die werklikheid nie, en ek dink nie hy was in ’n sertifiseerbare toestand wat hom waansinnig gemaak het nie. Ek dink hy het geweldige trauma verduur. Ek reken dit was vir hom moeilik om met ander mense te sosialiseer.”

Krueger hoop die stuk sal by mense aanklank vind en gevoelens van deernis teweegbring, eerder as gevoelens van haat.

Krueger, wat in 1971 gebore is, is onseker oor waar hy die eerste keer van Tsafendas gehoor het, maar het werklik in hom begin belang stel met die lees van die Nederlandse skrywer en skilder Henk van Woerden se boek A Mouthful of Glass, wat oorspronklik in Nederlands as Een mond vol glas verskyn het.

“Die boek vertel ’n storie oor sy lewe, wat meer behels as net die van ’n willekeurige, geestesversteurde mens.”

*Dit duur van 24 Mei tot 16 Junie. Kaartjies kos R90 tot R150. Bespreek by Webtickets.

Renos Nicos Spanoudes as Dimitri Tsafendas in die solostuk Strange Lands.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.