Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Dinge van ’n kind’ in Pretoria opgevoer

Die letsels van die Grensoorlog en of daar ooit sin daaraan was, is van die temas in die solostuk Die dinge van ’n kind, wat volgende week in Pretoria op die planke is. 

Dit word in die AfriForum-teater opgevoer nadat dit onlangs op die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer is.

Cintaine Schutte as Mart in die solostuk ‘Die dinge van ’n kind’. Foto: Greteli Fincham

“Ek leer elke keer ietsie nuuts oor Mart,” sê Cintaine Schutte oor haar karakter in dié solostuk met regie deur Nicole Holm.

Dit is die eerste keer in 2019 op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom opgevoer.

Die verhaal, wat op Marita van der Vyver se gelyknamige roman gegrond is, speel af in die 1970’s en 1990’s – wat twee fases van Mart se lewe uitbeeld.

Dit handel onder meer oor verlore onskuld, hormone, swangerskap, selfdood en die politieke leuens van die 1970’s.

“En dis interessant dat alle mense – ongeag hul agtergrond, ras of klas – hierby aanklank vind. Ek kon al ’n bietjie met mense gesels nadat hulle die stuk gesien het.”

Schutte het ook gegroei as mens sedert sy die stuk die eerste keer opgevoer het.

Benewens Aardklop is dit op die US Woordfees in Stellenbosch opgevoer, waarna die staat van inperking in werking getree het.

Sy het dit ook weer opgevoer nadat die inperkingsregulasies verslap is.

Cintaine Schutte beeld ’n karakter as tiener en in haar 30’s in ‘Die dinge van ’n kind’ uit. Foto: Robert Hamblin

“Maar die verhaal gaan ook vir my grotendeels oor die vraag wie is ek en waar behoort ek. Dis wat jy in elkeen van daardie karakters sien.”

Tafelberg het die roman in 1994 uitgegee.

Schutte glo dat die teks – wat Francois Toerien vir die verhoog verwerk en waarvan Schalk Joubert die klankbaan behartig het – steeds vandag van toepassing is.

“Die Grensoorlog was nie te lank gelede nie en dit het op baie mense ’n invloed gehad. Ons ervaar Mart as ’n tiener en later as ’n expat wat in Londen woon. Sy moes dit wat in die land gebeur in oënskou neem en besluit wat die beste vir haar seun is.”

Schutte hou daarvan om die roman weer te lees nadat sy ’n speelvak voltooi het.

“Mart is ’n spons. Sy gaan op al die ander karakters se reis. Marita dwing emosie op jou af in die boek. Sy verstaan menslikheid so goed.”

• Die produksie, vervaardig deur Arena Produksies, het ’n ouderdomsbeperking van 16 jaar.

• Dit word deur die Aardklop Nasionale Kunstefees, NATi en die LW Hiemstra Trust moontlik gemaak.

• Die vertonings is van 11 tot 14 Mei om 20:00 en op 15 en 16 Mei om 15:00 en 20:00. Kaartjies kos R170.

Besoek afriforumteater.co.za om te bespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.