Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Dis die hart en siel van Distrik Ses

Natasha Hess, Edith Plaatjies, Bianca le Grange in District Six: Kanala. Foto: Jesse Kramer

District Six: Kanala

Fugard-teater, Kaapstad

***

David Kramer se jongste musiekproduksie, District Six: Kanala, plaas unieke Kaapse klanke op die voorgrond.

Dit vertel in kleur en met ryk insig van die musiek wat in die strate van Distrik Ses ontstaan het, daar asemgehaal en lewe gekry het, en die Groepsgebiedewet wat soos ’n vlam die stories en geskiedenis probeer smoor het.

Dit is ’n tydige stuk. Op die openingsaand verlede Donderdag (11 Februarie) was dit presies 50 jaar gelede dat Distrik Ses tot ’n gebied vir “slegs blankes” verklaar is.

Natuurlik het die huldiging op hierdie dag tussen rooi hemde, groen hemde, wit hemde en hemde van al die kleure van die reënboog verdwyn. In die Kaap se strate was weer verset. Anders, maar ook nie.

Maar tussen Thuli Madonsela se geel rok by die parlement en die EFF-leier, Julius Malema, se ontwrigting van pres. Jacob Zuma se staatsrede was die woorde en liedjies, die dans-moves in die Ses se bioskope en jong verliefdes wat in musiek geluk en gemak vind, verminder tot iets wat net gewone aandag vir ’n nuwe produksie ontlok. Iets wat dit allermins is.

Dit is hart en siel Distrik Ses – of soos ek dit deur die kuns en skeppings van David Kramer en sy ontslape vriend, die legendariese Taliep Petersen, leer ken het.

Toe hulle 30 jaar gelede District 6: The Musical gesit en skryf het, was dit net 20 jaar ná die stootskrapers, en die seer was nog varser in die geheue. Maar dit vat nie lank om weer te onthou nie.

Uitverkoop, sê die Fugard se mense oor Kanala.

Dat dit ’n storie is wat onthou moet word, is gewis. Ook dat hierdie herinneringe verewig moet word. ’n Storie is ’n storie – totdat dit jóú storie is, dan is dit baie meer.

Donderdag se vertoning was vir ’n uitverkose groep – Distrik 6-mense. Mense wat daar was. Wat ook in die bioskope gaan skoffel het. ’n Regte mengsel van karakters, kleure en persoonlikhede.

Die nuwe produksie gaan oor ’n jong vrou wat onthou hoe haar ouma vir haar as kind vertel het van haar lewe in Distrik Ses voordat haar familie na Bonteheuwel verskuif is.

Dis ’n goeie premis om op te bou en dit breek die vierde muur tussen die kykers en karakters heeltemal af. Jy moet deel word van hierdie storie.

Dit voel kompleet soos die gees van Distrik Ses: Deel wees. En welkom wees.

Die rolverdeling, met onder andere Bianca le Grange, Carlo Daniels en Natasha Hess, pas soos ’n legkaart inmekaar – totdat Sne Dladla en Loukmaan Adams op sublieme wyse oorweldig. Die twee se bydrae in die produksie is deurlopend en konsekwent en verskaf die gehoor vreugde.

En dit help om die donker en swaar kant van hierdie onderwerp te verlig.

Maar terwyl die storie in die eerste helfte met buitengewone energie en flair vertel word, kom hulle in die tweede helfte amper moeg terug.

Aanvanklik het hulle baie om te doen – die storie moet immers tot ’n punt toe kom, die dramatiese uitsetting en die onherroeplik gevolge. Maar wanneer dit bereik word, gaan dit nêrens heen nie.

Dit sê vir jou hoe jy moet voel eerder as wat dit jou laat voel.

Dis juis so teleurstellend omdat die eerste helfte jou so “uitboul”. So saam laat kekkel en die nostalgie soos ’n stoomtrein vorentoe beur.

En dan, ewe skielik, net ’n tamheid.

Maar dit maak tog nie eintlik saak nie. Dat dit ’n storie is wat onthou moet word, is gewis. Ook dat hierdie herinneringe verewig moet word. Dat die Distrik se inwoners van ouds daar uitgeloop het met ’n glimlag en ’n traan, sê dalk meer.

’n Storie is ’n storie – totdat dit jóú storie is, dan is dit baie meer.

Tot 2 April 

Meer oor:  David Kramer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.