Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Dokkie oor Die Ruimte-teater in Jhb en Kaapstad te sien

Die legendariese Kaapse teater – The Space/Die Ruimte/Indawo – het ’n ander aanloop as wat destyds met sy stigting in 1972 algemeen aanvaar is. Die impuls daarvoor was wat Brian Astbury, die stigter, vandag beskryf as Athol Fugard se “verlore drama, Orestes”.

Brian Astbury

Astbury, wat ná die sluiting van die teater in 1979 na Londen is, is in Kaapstad vir die voorskou van die dokumentêre prent Theatre of Survival – The Story of The Space – wat deel van die Encounters-rolprentfees sal wees.

“Dit was, as jy wil, ’n gek idee van my. As fotograaf wou ek ’n groter ateljee bekom waar ek ’n intieme teater vir so 30 mense kon hê om ongewone stukke, wat nie andersins die lig sou sien nie, speelkans te gee.”

In sy kop was die opvoering van Fugard se Orestes, ’n opdragwerk van Kruik in 1971.

Fugard was reeds welbekend vir sy dramas Hello and Goodbye, Boesman and Lena en People Are Living There. Juis in 1971 met die opvoering van Boesman and Lena in die Royal Court in Londen, met Fugard en Yvonne Bryceland in die titelrolle, het Astbury die idee gekry vir ’n private teater. Bryceland se talent as aktrise het soveel erkenning gekry dat sy later genooi is om by die National Theatre Company aan te sluit. In 1985 het sy die gesogte Lawrence Olivier-prys as beste aktrise ontvang.

“Ek het destyds na die Royal Court gekyk en daar die idee gekry dat ek dalk ’n klein intieme ruimte as deel van my fotografiese ateljee kon inrig om daar opvoerings soos Orestes te doen. Die stuk het drie rolle gehad – Clytemnestra (Bryceland), Agamemnon (Wilson Dunster) en Electra (Val Donald). Die onderliggende teks was gegrond op die gebeure rondom die Johannesburgse stasiebom in 1964. John Harris, die eerste wit man wat as terroris gebrandmerk is, het die bom in ’n koffer geplant en in die ontploffing is ’n 77-jarige vrou dood en haar sewejarige kleindogter beseer, asook 22 ander. Harris is die doodstraf opgelê.

Yvonne Bryceland, Brian Astbury en Athol Fugard.

Orestes was ’n performance piece wat in ’n paar honderd woorde, slim metafore en beelde geweld en onreg verken het. Die ironie was dat Kruik self probeer het om die stuk verban te kry. Toe dit misluk, is besluit om dit in obskure venues aan te bied, al was die publieke aanvraag daarvoor groot en kon dit suksesvol in die destydse Nico Malan-teater aangebied kon word.”

Hy onthou veral die repetisielokaal, ’n taamlik bedompige ruimte, op die boonste verdieping van die Labia waar die stuk in drie dae tot stand gekom het. “Geen foto’s of enige beskrywing kan ooit die diepgesetelde ervaring wat jou ingewande ruk, oordra nie. Dit is inderdaad Fugard se ‘verlore drama’. Nogtans moet hierdie stuk nie vergeet word nie.”

Astbury, wat reeds ’n paar boeke op sy kerfstok het, se jongste is Orestes – Athol Fugard’s Lost Play. Hierdie werk is volgens hom die voorloper van Fugard se latere internasionaal erkende werk soos Statements After an Arrest Under the Immorality Act, Sizwe Banzi Is Dead en The Island. John Kani en Winston Ntshona, wat hul tande by The Space geslyp het, het met hul die rolle in The Island internasionale erkenning gekry.

As fotograaf het Astbury ’n ateljee in Langstraat gehad, aanvanklik die eerste ateljee van die baanbrekerfotograaf Arthur Elliott en later die lokaal waar die kunsgroep New Group beslag gekry het. Dit het nie die ruimte gehad vir verdere uitbreiding nie. Hy vertel toe vir Mish Miszewski, ’n argitek en teaterliefhebber, van sy idee en etenstye stap hulle saam deur die strate stap op soek na ’n geskikte gebou. So vind hulle ’n verlate gebou in Peperstraat, wat The Space geword het.

“Ek het gesoek na ’n ruimte wat 60 mense op die meeste kan huisves. Dit het net maller en maller geword totdat ons later twee verdiepings betrek het en twee teaters ingerig het wat deur vrywilligers – akteurs, huisvroue en wie ook al ’n besem en emmer water gevat het – ingerig is. Dit was soos ’n tsoenami. Van oral het mense kom hulp aanbied.”

In die sewe jaar dat Astbury as direkteu, die teater se deure kon oophou, het van Suid-Afrika se grootste akteurs hier gewerk. Dit was ook die slypskool van ’n hele generasie swart en bruin akteurs wat as amateurs professionele status gekry het.

Die toneelaanbiedings was uiteenlopend en ingestel op ’n tydsgees waarin daar om verandering in die politieke bestel geagiteer is. Dit het breër aandag gekry – buitelandse regisseurs en akteurs het ook hulle dienste aangebied – en ook was daar die aandag van die Veiligheidspolisie en die Sensuurraad.

Dit was ook ’n slypskool vir dramaturge, benewens Fugard ook Pieter-Dirk Uys, Geraldine Aron en Fatima Dike. Die toneelstukke in Afrikaans wat Uys hier aangebied het, was waarvoor hy verlede jaar met die Hertzogprys bekroon is. Wilma Stockenström se drama Laaste middagmaal is in 1974 die eerste keer hier aangebied.

“Die grootste uitdaging was om die deure en verhoog vir alle rasse oop te hou. Om dit te kon doen, het ons op regsadvies besluit om The Space as ’n klub te bedryf waar ledegeld van R5 per jaar betaal word. Tegnies was die opvoerings dus net vir die lede.

“Die moeilikste was om finansieel te oorleef – ’n stryd van dag tot dag, week in en week uit. Uiteindelik is dit was ons geknak het. Op ’n dag was daar net nie meer geld om vir enigiets te betaal nie. Die laaste strooi was toe ons ná ’n speelvak geen geld vir die rolverdeling gehad het nie en daar letterlik nêrens meer was waar ons vir geld kon aanklop nie.

“Voordat ek die nuus aan die spelers moes oordra, het Arthur Benjamin, wat verskeie posbeskrywings gehad het, kom vertel dat daar skielik ’n anonieme skenker was wat die salarisbetaling moontlik maak. Daarna het ek met ’n omdraai uitgevind dat Arthur sy spaargeld gaan trek het om die betalings te kon doen,” vertel Astbury, heel bewoë.

Die sewe jaar van The Space se bestaan, is ’n enigma, ’n lewensveranderde ervaring vir almal wat daarvan deel kon wees. Vandag, 40 jaar later, word die invloed steeds ervaar.

* Theatre of Survival – The Story of the Space word in die Bioscope in Maboneng, Johannesburg, op 16 Junie om 20:00 en op 7 Junie om 18:15 en in die Labia, Kaapstad, op 11 Junie om 18:30 en ook op 16 Junie om 18:15 vertoon.

Meer oor:  Amanda Botha  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.